Groete vir Griff #7 – Rolbees

Ek het Griffin en sy vrou Shaz ontmoet by die Bucks vir Brixton fondsinsameling by Tweefontein Melkery in Mei 2015 deur Melt Sieberhagen. Ek dink Griffin was bietjie gesuip so ek kon eintlik net met Shaz praat en toe sy vra wat ek doen vir ‘n lewe en ek tune ek het afgetree, blog net so bietjie en my laaste review was Valiant Swart se ‘Mystic Boer’ LP het sy dadelik gesê ek en Griffin moet kontak maak. Net ‘n paar weke later het ons ‘n meeting by Lucky Rodrigo opgeline en ons het albei in jeans, band t-shirts en baseball caps opgedaag. Snap! Ek kon agterkom Griffin was baie intelligent en ernstig oor Watkykjy van ‘n besigheidsoogpunt af. Hy was ook nie ongemaklik met my rystoel nie, iets wat ons kreupels vinnig kan optel.
So, teenstrydig met die algemene opvatting, het ek Griffin eers in 2015 ontmoet en my eerste impression van hom was sy entrepeneuriese denkwyse en goeie pitches: die website manager het te veel geld gekos en hy wou Watkykjy self begin bestuur, hy wou sy garage in ‘n recording studio verander en die mees merkwaardigste vir my was hy wou die musiekindustrie op sy kop draai deur onder andere sy IT nerd en tegnologie kennis te gebruik.
Ek kan nie onthou of hy al met die idee opgekom het vir ‘n video editing besigheid nie maar ek onthou hy het ‘n deal met iemand van Universal Records gehad en hulle sou elke week vir hom CDs gestuur het om te review. Dis nou waar ek sou inkom. Hy het iemand nodig gehad wat gereeld reviews kon skryf. As gevolg van my fisiese beperkinge en streng versekeringsvoorwaardes na ek medies af is kon ek nie direk by die besigheidsdeel van Watkykjy betrokke raak, enige permanente werk doen of enige vorm van aktiewe inkomste verdien nie. Dit sou dinge vir my op verskeie vlakke bemoeilik. So, my pitch was eenvoudig net dat ek ‘n musiek en vinyl junkie is wat reviews wou skryf op my eie pas vir geen betaling nie en ek wou graag vir meer as die nege of tien mense wat my eie musiekblog gelees het skryf. My skuilnaam? Rolbees, natuurlik. And the rest is history… van 2015 tot 2020 was dit eers ‘n onwaarskynlike vennootskap maar eventually ‘n match made in rock and roll heaven…
Kom ons gaan eers bietjie verder terug in tyd. Ek en ‘n paar skoolpelle het in 2007 by Aandklas in Hatfield byname uitgedink. Een tjom was Seebees, ander een Vogbees en toe kom ek te vore met die bynaam ‘Rolbees’. Ek was al van 2005 permanent in ‘n rystoel so dit het net sin gemaak.
In 2010 het my neef my voorgestel aan Chopper Charlie en Griffin se boek “Is dit net ek of is als tos?” en ek het my hees gelag vir hulle relevante skerp humor. Ek was onmiddelik ‘n fan. Elke Vrydag het ek en my tjomme en kollegas “dis naweek kom ons duik” memes vir mekaar gestuur en alhoewel ek al van skool “alternatiewe musiek” geluister het het ek al meer van die zefkultuur begin hou. Die Watkykjy original. Nie die fake Die Antwoord rip-off nie.
Kort daarna het Rolbees stelselmatig ‘n (beperkte) online presence begin ontwikkel (waarskynlik as ‘n humoristiese manier om met my eie harde realiteit te deal). Toe ek en Griffin begin kragte saamsnoer het het dit nie baie moeite gevat om dié “karakter” te laat inpas by die algehele gevoel en visie van Watkykjy nie. Ek was van kleins af ‘n musiekliefhebber en het genoeg passie en kennis gehad maar ek het steeds nie geweet of ek rêrig by die Watkykjy vibe sou kon pas nie. Griffin was nie veel gespin nie. Hy het gehou van my objektiewe en eerlike benadering en was nogal vasbeslote dat hy nie reviews wou publiseer wat gatkruip by musos, booking agents, music publicists en event organisers net om free entrance en merch te score nie, so hy het my kreatiewe vryheid gegee en toegelaat dat ek eksperimenteer en meestal net my vieslike taalfoute reggemaak.
(Fok, hy kon ‘n spelfoutpolisieman wees. I mean hy het self moerbaie tikfoute gemaak maar dan was hy te lui om dit te gaan regmaak na dit live gegaan het. Ha! Daar was een review aan die begin wat ek, hy en Chris van der Walt saam geskryf het waar hy totally oorgeneem het met die storie en ek was heavy impressed met sy vermoë om in ‘n kort tyd die coolste shit uit te dink. Ons het ook ure se pret gehad met die reviews waar hy vir my tos Afrikaanse musiek gestuur het en ek dit so uitgehaal het dat Centurion Lake se water dit nie vuiler kon maak nie.)
Ons het goeie vriende geword en uitgehang saam met die breë Watkykjy kerk wat Griffin en Shaz se vriende, musos, skrywers, akteurs, komediante, musiekverslaafdes, dronknespaartie weirdos en ander kief kreatiewe kreature ingesluit het.
Die omgewing en kultuur kon nie meer anders wees as my vorige job nie. Legal en financial services regulation versus the dark humour arts. I kid you not. Hahaha! I mean ‘n brand is solid as ‘n dude wat nog net ‘n paar reviews vir onbekende websites geskryf het, gekies het om law te swot en vir ‘the man’ gaan werk het heel casual by gigs kon opdaag in ‘n rystoel en net die naam Watkykjy kon drop om ernstig opgeneem te word en respek te kry.
Casper de Vries het op my eerste review van STRAB 2015 positiewe comments op Facebook gegooi. Hoe cool was dit? Dit was ook waar ek vir Big H en AnniBrand ontmoet het. Reg voor die stage natuurlik. Die reviews het baie meer professioneel geraak met tyd maar dit was tipies Griffin om ‘n kans te vat op iemand wat geen ervaring in die music biz gehad het nie. Hy was baie tegemoetkomend en vrygewig en het my voorgestel aan so baie kief kunstenaars wat my skryfwerk met hulle kreatiewe towerkuns en talent ‘n energie inspuiting gegee het en dit het genuine begin voel asof ek net kon skryf in die rigting waarna die musiek my gelei het.
Al waar hy soms ingemeng het was as ek oor ‘n muso wou skryf van wie hy fokol gehou het nie en veral as hulle een van sy tjomme tenagekom het. Dit het my nogal geïrriteer maar hy was baie lojaal en allergies vir morone en ek kon dit respekteer. In daai opsig was ons baie dieselfde. Ek kan net een keer onthou waar ek nie saamgestem het toe hy blatante sensuur toegepas het met ‘n review nie. Hy wou nie ‘n sekere Griekse metal band se godslasterlike naam publiseer nie en ten spyte van my ‘vryheid van spraak’ betoog het hy net laat weet adverteerders op Watkykjy sal totaal en al uitgefreak word. Absoluut verstaanbaar van ‘n besigheidsoogpunt.
Griffin was ‘n sleutel wat so baie deure oopgemaak het vir my en my kreatiwiteit help ontwikkel het. Business in the front, rock and roll at the back. Of andersom soos ‘n Flock of Seagulls haarstyl? Ek mag dalk bevooroordeeld wees maar ek dink ons het uitstekende werk gedoen en ‘n hoë standaard gehandhaaf in die SA blues, rock, pop en metal industrie. Ons was op al die booking agents en music publicists se mailing lists maar die beste was jong musos met ballas en talent wat hulle demos direk gestuur vir ons met die hoop om ‘n goeie review te kry. Ek het een keer afgekom op ‘n Q&A interview wat Radio Tuks op hulle blog gedoen het en wat Rolbees Reviews verbatim gaan staan en quote het asof dit een of ander bron van gesag was. Ek het gedink dis fokken awesome, maar ek het ook dik impostor syndrome gekry.
Ek het die luxury gehad om van die kantlyn af te kyk hoe Griffin hustle maar ek het meestal nie geweet waarvan hy praat as hy begin met sy tech lingo nie so ek was net ‘n klankbord in daai opsig. Ek en Griffin was baie verskillend as dit by besigheid gekom het. Hy was geensins bang om risiko te vat as hy werklik ingekoop het by ‘n idee vir ‘n show of ‘n nuwe venture nie. My aptyt vir finansiële risiko wat die musiekindustrie aanbetref was ‘n mooi ronde nul. Ons sou nie goeie besigheidsvennote in die ware sin van die woord kon wees nie en al wat ek kon gee was my vriendskap en ondersteuning, my passie vir musiek, om so eerlik as moontlik te probeer skryf en natuurlik my vrye tyd.
Ek het meestal self cover charge betaal as ek gigs bygewoon het of merch gekoop het. Griffin het baie meer as dit gegee en soms festivals en gigs befonds en deals gemaak met besighede om video advertensies op Watkyky en social media te plaas en ook musos te showcase (dmv sy video editing besigheid of sy recording studio). Sy multicam DIY social media music video promotions (soos Distilled Sessions) het ‘n paar jaar voor die live streaming era begin. Onthou julle tydens Covid toe dit gehelp het om SA musos te laat kop bo water hou? Wel, Griffin was een van die voorste pioniers wat daai multicam streaming idees begin ontwikkel het en selfs vir groot corporate video on demand dienste soos Showmax idees gepitch het om die SA musiekindustrie te help red. Hulle was nie interested nie maar hy het wel partners gekry om ‘n ‘video on demand’ platform op die been te bring wat vir ‘n hele ruk live shows gestream het. Dit was fascinating om te sien hoe sy passie vir kakpraat, vuilgat jokes maak, truth bombs gooi en befokte musiek promosies kon verweef in verskillende income streams en dit dan net ontwikkel op sy manier. Ek het soms net my oë toegemaak want ek het nie altyd verstaan wat sy wins-tref-en-mis verhouding sou wees nie, maar dit was irrelevant vir my. Dit het alles oor die musiek, die belewenis en die samesyn gegaan. Ek dink dit was hoekom ons so long run gehad het. Vyf jaar. What a fucking ride!
Watkykjy staan op 3,198,339 post views in totaal sedert 1 November, 2019.









