Groet vir Griff #4 – Melt
Geen koeldrank. Nie lemonade, soda, sparkling water of eers ‘n wees Liqui-Fruit iewers agter in die yskas nie. Gelukkig ook nie melk nie, want dit sou ‘n fokop gewees het. Feit van die saak was: Die kuier was mix-loos. Daar’s ‘n hele bottel brandewyn, maar sonder en ys en sonder iets om te mens is ons enigste opsie basies ‘n dubbel en louwarm kraanwater.
Maar ‘n Griff maak ‘n plan en kort voor lank sit vyf/ses siele verder en kakpraat met ‘n heelf skaflike, dog beslis vreemde drankie in die hand. Want Griff maak ‘n plan. Altyd.
* * *
“Ek sal eerder my tol in ‘n kardeur vasslaan as om te kyk hoe <insert kak Afrikaanse akteur hier> maak of hy draadtrek.”
Niemand anders as Zefmeester Griff sou daardie sin sommer net so laat deurglip het in ‘n resensie oor die die GAK (Groot Afrikaanse Kanaal) se jaarlikse pielvlegvergadering filmfees nie. (Trouens, die GAK self het die betrokke skrywe baie gerieflik geïgnoreer, but to be fair -ek sou ook.)
Maar watkykjy.co.za het nooit gegaan oor die regte dinge sê om die verkeerde mense se fragile selfbeeldjies te polish nie.
Watkykjy het ‘n tuiste geskep vir Afrikaanse Gonzo. Rolbees wat die wiele laat rol met rock reviews, Kaptein Kortbroek oor rappie sonder om die pt-short en kwota-kermende ou ooms te probeer paai, , Chopper Charlie se snydende (en hoogs akkurate) kommentaar op die troglodiete wat hunker na die “goeie ou dae” en natuurlik Griff se eie takes op enigiets van crypto tot vaccines op maniere wat nie net informatief nie, maar ook altyd skreeusnaaks was.
Die fokken site is in tesisse gequote en geanaliseer en Griff het met oorgawe saam met ‘n professor gewerk om die data aan te gee en te help net waar hy kan. Griff was toegewyd en slim.
Griff is ge-quote in artikels en hogere verhandelings. En daar was nog steeds elke Woensdag ‘n warm bokkie.
* * *
Op ‘n Dinsdag en Woensdag het ek amper elke 5 minute gaan loer of Griff nie dalk op Facebook gevra het vir ‘n volunteer of twee vir ‘n Donderdagvideo nie.
Jy kry ‘n script met NET jou lyne. Geen konteks. Geen direction. Niks. Jy neem op en stuur terug. En iewers uit die diepte van sy ongelooflike kreatiwiteit land daar ‘n video wat snaaks is vir al die regte EN verkeerde redes.
Bizarre Bedonnerde Donderdae is seker die ding wat my al die meeste met sound engineers laat bond het tydens voice over sessies. Dit het amper ‘n cult-following. Ek het al met so baie mense op die randomste plekke en tye daaroor gesels. En met een random boer tydens ‘n Skaapkopbraaimanne-aand in die diep Vrystaat.
Dit was so lekker om deel van een te wees en te help snaaks wees. Maar niemand was so snaaks soos Griff self nie.
* * *
Hierdie stuk is nie opgebreek in onsamehangende dele om te probeer fancy of arty of alternatief wees nie. Dis net omdat daar so baie is om oor Griff te sê. Hoe meer ek dink aan spesifieke oomblikke, hoe meer duik op.
En ek hou van snaaks wees en gesels, maar ek raak sommer fokken hartseer. Wie gaan nou die dinge doen wat net hy kon doen? Die dinge sê wat net hy kon sê? Waarvoor ek te bang was…
Voorbeeld: Toe die laaitie met die two-tone kleertjies so lekker dans op die kinderkrans-gospel-AfrikaansIsWeird tune oor hoe mooi hy gemaak is, het ek die volgende boodskap vir hom gestuur, wan dis die tipe joke wat ek liefs nie in die openbaar sal maak nie, maar hy sal dit waardeer:
Natuurlik het hy besluit om dit ‘n stap verder te neem en te post. Want hy kon.
(O ja, fok fokken kanker.)
* * *
Woorde was Griff se ding. Hy kon toor met woorde. En PK’s uitdeel. Links en regs en verregs. Sulke lekker pieliewappers.
Ek wens so hy was nog hier om te reply op die een leepoog expat sproetpoephol wat een of ander random vaccine conspiracy kom uitkots het op ‘n post oor sy heengaan. Ek’t nie eers die moeite gedoen om vir haar te sê al wat sy geforseer was “om te sluk” (sic) was seker ‘n bitter pil of twee oor haar lewenskeuses nie. Want ek sal dit nooit so goed soos Griff kan doen nie.
* * *
Ons het gesit en bier drink en praat oor die feit dat ons amper weer verjaar – tien dae uitmekaar uit. ‘n Dronkerige idee van ‘n gesamentlike party hou ontaard toe in ‘n moerse fundraiser vir Brixton Barnard by die Melkery. Ek kon help aanbied en kakpraat, maar Griff het die leisels geneem en georganiseer dat die kak spat. En die geld. Kakbaie geld.
Min mense kon organise soos Griff. Want min mense het omgegee soos Griff.
* * *
Die probleem met onthou, is dat jy ook onthou wat jy mis. En nie net ek nie, maar ‘n moerse klomp vriende en kakbaie fans mis een van die beste, kreatiefste, snaaksste, beste, gaafste, erntsigste, toegewydste en heel beste mense ooit.
Ek verlang na my vriend.
En verlang selfs na ‘n dubbel brannas en Berocca drieuur in die oggend.
Watkykjy staan op 3,085,041 post views in totaal sedert 1 November, 2019.