Kan die Bokke dit weer doen? Watkykjy se world cup preview!
So, hier is ons. Minder as ‘n week voordat die Kiwi’s en die Hane 2023 se Rugby World Cup Vrydagaand afskop met wat moontlik die taaiste wedstryd van die hele toernooi gaan wees.
As die pool draws later gemaak was, sou dinge anders gewees het. Bietjie meer gelykheid in die pools.
Maar die draws is so belaglik, dit voel of jou tannie Santinetta dit gedoen het. Sy wat net soms saam rugby kyk en net “tackle!” en “pass!” skree terwyl sy G&T’s down en probeer maak asof niemand weet van haar en Dominee Gert nie. Met ‘n babelaas, op ‘n Maandagoggend.
Ja, dit is van die malste pool draws ooit in World Cup geskiedenis, en ongelukkig is die Bokke in die pool of death saam met Ierland en Skotland (en Tonga en Romenië). Vir dié wat nog onseker is: Net 2 spanne uit elke pool kan deurdring na die kwarteindronde. Op die oomblik is Ierland die nr 1 ranked span ter wêreld. SA is 2de, en Skotland is 5de. Pool of death inderfokkendaad.
So mal soos dit is om die openingswedstryd basies gelykstaande aan ‘n moontlike eindstryd te maak, behoort Nieu-Seeland (tans 4de gerank) en Frankryk (tans 3de gerank) albei ten minste deur te dring na die quarters (en die Bokke behoort een van hulle daar te ontmoet). Hulle is in ‘n pool saam met Urugay, Italië en Namibië. So hard soos ek cheer vir ons buurland Namibië, is dit onwaarskynlik dat hulle die All Blacks gaan opfok.
Maar hey, Japan het die Bokke opgefok in 2015. So … Ek leen R1 000 by my ma en sit dit op Namibië. As die Nam-manne wen, sal my ma uiteindelik trots wees op my. As hulle verloor, kan ek maak of dit haar slegte besluit was om my in die eerste plek te vertrou. Ek sal kamer toe hardloop en my deur toeklap en Metallica kliphard speel op my Hi-Fi. Dit sal haar wys!
Anyway, gepraat van Frankryk: Ek wonder regtig oor al hierdie warm-up games voor die actual wêreldbeker. Ja, dit was lekker om te sien hoe ons die All Blacks opfok, maar dit was ‘n harde game en ons kan fokken bly wees niemand van ons is beseer nie.
Frankryk het in een van die warm-up games vir Romain Ntamack, hulle briljante losskakel wat so ‘n ongelooflike mooi partnership met die nog meer briljante skrummie Antoine Dupont het, vir die hele world cup verloor weens ‘n besering.
Ek moet eerlik wees, dit was een van die goed waarna ek die meeste uitgesien het van hierdie world cup – hoe hierdie jong magicians van Frankryk hul ding doen. En nou is een van hulle gone, te danke aan warm-up games wat, kom ons wees reguit, eintlik maar net money-spinners was.
Daar was nog ‘n paar groot beserings – ek dink aan Jack van Poortvliet, ‘n goeie scrummie van Engeland wat ook in ‘n warm-up game seergekry het en nou die hele fokken toernooi mis.
Ja, ek weet, fok Engeland en als, maar dis lekkerder om al hierdie spanne op vol-sterkte aan te pak, en hopelik te breek. (Ek gaan nie eers praat oor Owen “ek-het-‘n-glimlag-soos-‘n-fiets-as-jy-dit-sien-wil-jy-dit-trap” Farrel wat die eerste paar games gaan mis oor ‘n skorsing nie).
Anyway, terug by die Springbokke se pool. Kyk, Ierland is nommer een in die wêreld vir ‘n rede. Hulle het die All Blacks six-love opgefok (oukei, 2-1 in terme van die toetse, maar dit was IN Nieu-Seeland, so dit tel as six-love) in 2022. Conor Murray en Johnny Sexton is ‘n legendariese skakelpaar, en hulle is moontlik nou beter as ooit. Terloops, ek het vanjaar se URC final tussen die Stormers en Munster gekyk, en ek scheme die Stormers het basies die wedstryd teen Conor Murray verloor. Hy was net crazy briljant met sy tactical game.
Dan moet ons vir Skotland ook klop, en dit is ons eerste game in die toernooi. Skotland is ‘n moerse lekker span te danke aan onder meer bra’s soos Finn Russel, ‘n losskakel wat die game sien asof dit in slow motion gebeur en belaglik kreatiewe besluite maak (amper soos AB de Villiers vir die Proteas gedoen het), en ‘n bliksems goeie scrummie in Ali Price. Hulle het ook die VERRAAIERS Duhan van der Merwe en Kyle Steyn en Pierre Schoeman en WP Nel van SA in hulle geledere.
Okay okay, ek grap, dis regtig moerse lekker om te sien hoe daai SA ouens floreer, al is dit vir ‘n ander land. Skotland gaan wel die heelagter Stuart Hogg hard mis. Hy het onlangs eers gesê hy moet retire want sy lyf kan dit nie meer vat nie. Dis ‘n moerse jammerte, want hy was ‘n heerlike speler om te volg – vol kreatiwiteit en flair, en ek scheme ‘n groot faktor in die feit dat Skotland weer ‘n span geword het wat jy nie vlak kan kyk nie.
Ek wil nie eers praat oor die ander pools nie. Engeland het miskien die maklikste pad na die finals wat hulle nog ooit gehad het. Fokken Engeland. Miskien kry ons hulle op die ou end daar in die einstryd. Ek wonder hoe dit sal gaan? *Kug-kug … 32-12 … Kug-kug*
Jy mag dalk agterkom ek praat meestal oor die scrummies en die losskakels. Ek dink genuine dis waar hierdie world cup gewen of verloor gaan word: Of die groot spanne hierdie talente met die regte strategieë kan loslaat, en of die teenstanders dit sal kan keer.
Hoe lyk ons s’n? Ons almal weet teen hierdie tyd dat Handré Pollard nie gaan speel nie, tensy iemand beseer word in die laaste minuut van die final en hy met ‘n helikopter en ‘n valskerm ingebring word om die laaste kick te vat.
Dit gaan probably nie gebeur nie. So, Manie Libbok … Kan hy dit doen?
Fok ja. Daar was lanklaas ‘n losskakel uit SA met so baie kreatiewe visie, wat so baie spasie vir die manne om hom kan skep, met so ‘n lieflike oog vir ‘n gap, en met so ‘n dodelike skopvoet na die kantlyn (veral) en na die pale. Met albei voete! Ek kan skaars ‘n sirkel teken met my regterhand (en dis my natuurlike hand), while Manie jou laat wonder of jy dalk nog heeltyd verkeerd was oor wat jou natuurlike kant is, want albei is ewe maklik vir hom.
Ja, die pale-toe-skop was ‘n issue vanjaar, maar hulle sê mos, jy’s net so goed soos jou vorige game. Wel, dan is Manie Libbok FOKKEN goed. Hy het AL vyf sy skoppe pale toe ge-nail op Twickenham, en dit was nie maklike, streel-jou-ego skoppe nie (oukei, nie almal nie).
Onthou, Jacques Kallis het ‘n average van iets soos 8 lopies per innings gehad na sy eerste 10 toetse, en almal weet wat sy average op die ou end was.
O, weet jy nie? Dit was 55.4. Vat so, haters!
Saam met Faf, of Grant Williams, Jaden Hendrikse, of Cobus Reinach (jirre, die 4 scrumhalves in die squad laat my nog steeds kopkrap … maar ook, hoe los jy enige van hulle uit?) vorm Libbok ‘n giftige skakelpaar. En ons crazy diepte in die res van die agterlyn sal sorg vir die res.
Jirre, ek kan regtig nie besluit wie tussen André Esterhuizen en Damian de Allende ons eerstekeuse-binnesenter moet wees nie. Lukhanyo Am op 13 is ‘n moerse verlies, maar ons moet daarmee deal, en dit lyk of Jesse Kriel en Canan Moodie altwee soos woedende Spaanse bulle op daardie kans afstorm asof dit ‘n rooi stuk lap is. En dit is ‘n moerse verligting (en nog ‘n rede om kop te krap oor die beste beginspan).
En dan nog die vleuels! Mapimpi, Kolbe, Arendse en Moodie (wat ook senter kan speel, soos reeds genoem) is almal dodelik op hulle eie maniere.
Op heelagter is Willie, met sy tried-and-tested rugby breins seker steeds eerste keuse, met Willemse op die bank. Willemse kan basies enige posisie speel en hy sal jou binne ‘n foonhokkie step laat jy dink jy’t jou selfoon bo-op ‘n telefoonpaal drie blokke weg vergeet.
Right. Die Bokke het dus ‘n skakelpaar wat die cup kan wen … Maar dis ook die geval vir al die ander groot spanne (al is Ntamack en Van Poortvliet uit). Wat moet ons dan doen?
Wat ons teen die All Blacks gedoen het op Twickenham.
Aaron Smith en Richie Mo’unga is ‘n briljante skakelpaar, met Beauden Barret wat ook losskakeldiens doen, soos Manie en Willie soms afwissel.
En ons het hulle nie ‘n fokken sentimeter gegee nie, met ons voorries en loosies wat amok gemaak het.
Dis hoekom ek nou eers oor ons voorspelerpak praat, want ek dink nie regtig daar is enigiets om nóg daaroor te sê nie. Hulle het klaar die praatwerk gedoen.
Tussen Kolisi (wharra comeback!), Kitshoff, Ox, Mbonambi, Marx, Malherbe, Nyakane, Eben, Snyman, Mostert, Duane, Kwagga … Fokkit, almal is wêreldklas (al het Jasper Wiese nie regtig ‘n great jaar tot dusver nie, hy sal regkom op die groot verhoog). En hulle lyk almal honger. Honger soos leeus wat in die colosseum losgelaat is om gladiators te verorber.
Okay, woah, back up. Dis ‘n donker stukkie geskiedenis daai. Slegte vergelyking, jammer. Dit was in elk geval in Italië, en ons praat nou oor Frankryk. Frankryk 2023!
As ons voorries in elke wedstryd daai strategie en momentum van die game op Twickenham kan volhou by die afbreekpunte en van die afskoppe af, het ons ‘n bitter goeie kans om die hele ding te wen. Want dan is die Duponts, die Murrays en Price’s, die Sextons en Farrels en Mo’ungas wat ons gaan face, van die begin af op die agtervoet.
En niemand like dit om daar te wees nie.
Tensy hulle ‘n manier kry om dit te counter … En dis hoekom ek so donners opgewonde is oor hierdie world cup! Enigiets kan gebeur!
Maar altyd en nog steeds en vir altyd hierna:
Watkykjy staan op 3,071,875 post views in totaal sedert 1 November, 2019.