As jy van ‘n rystoel gebruik maak in jou alledaagse lewe moet jy verbeeldingryk wees. Veral as jou disability meer beperkend is as parapleë met sterk arms. Voor Covid-19 moes ek pret (onder andere) in ‘n hele ander lig beskou het as ander mense. As ek ge-travel het was die hele trip in onsekerheid gehul. Ek was nog nie by die plekke wat ek wou gaan besoek het nie en vir iemand vir wie elke oppervlakte, hoogte en lengte van die objekte in ‘n hotelkamer die verskil kon beteken tussen toegang en omdraai-en-huistoe-gaan was dit alles ‘n moerse gamble. Aangepaste hotelkamers was nie goedkoop nie. Maar niks was beter as jy eers daar geland het en dinge begin uitwerk nie, so jy het maar soveel as moontlik gefokus op dit wat jy kon doen en probeer vergeet van dit wat jy nie kon doen nie. As COVID19 nie hierdie lessie vir almal nou leer nie, dan weet ek nie.
Live streaming in die COVID19-era is nogal baie dieselfde. Niemand weet waarheen ons op pad is nie. Daar is baanbrekers (wat elke week iemand anders is, lyk dit my) en dan is daar nabootsers. Tussenin probeer kunstenaars, organisers, venues en studios net kop bo water hou. Ander bly net weg van die medium af en skryf eerder liedjies, maak videos of neem albums op. Live streaming is eintlik ‘n tipe kulkuns. Jy as kulkunstenaar (of jou crew) moet die nodige IT skills en equipment hȇ om ‘n vibe uit bittermin uit te skep. Abracadabra I wanna reach out and grab ya! Deur die interwebs, binne-in jou skerm en reguit na jou siel toe. Talent en passie het nou meer belangriker geword as ooit te vore maar so ook tegnologie. Hierdie nuwe kuberdimensie wat binne ‘n paar maande ‘n integrale deel geword het van die musiekindustrie het geen perke nie. Al wat jou terughou is vrees, jou verbeelding en natuurlik die bekostigbaarheid van die huidige beskikbare tegnologie. The Wachowski Sisters het hierdie idees al in die nineties deel gemaak van pop culture. Toe hulle nog gebroeders was in The Matrix, en hier is ons nou.
Verlede Saterdag was die begin van die toekoms van virtuele musiekfeeste in Suider Afrika. Ek was redelik moeg en die koue het my onder die komberse ingeboender. Gewapen met my 5G, my foon, my Android TV Box en my laptop kon my gees vlieg na verskillende optredes, gestroom uit uiteenlopende plekke. Dit het begin by STRAB Live in Stellenbosch. Die talking heads crew in Pretoria was gemik op die STRAB-gemeenskap en het maar gelyk soos ‘n amateur nineties documentary, maar ons Gen-X kids het met ZX Spectrums en Commodore 64s gerol, so ek kyk verby die stroombeperkinge van 2020. Wat sien ek? Ek sien die toekoms. Die OMG-produksie in daai dungeon van hulle was weer, soos met die Albert Frost Trio event, befok gewees! So, kom ons praat eers bietjie oor die musiek…
Jeandré Swanepoel en sy band kon my tot in die feels bestroom. This laitie’s got talent, hoor? Watch hom! Stellenbosch se weggooikind gaan julle nog verbaas. Willim Welsyn en sy orkes het my energievlakke ge-jumpstart laat ek soos Bernie van Weekend at Bernie’s ronddans op daai giftige rock and roll. Die sweet het behoorlik gespat. Asems het gejaag en daarna het ek eers die fees verlaat, opgevaar en oorgevlieg na Georgetown en The Moonies se livestream toe. Hierdie brasse het ‘n vibe op ‘n frequency van hulle eie. Musikaal uitstekend! ‘n Colab wat permanent kan werk. Dit was ‘n DIY multi-cam produksie gewees maar met die hulp van daai Georgiades klanksangoma sommer in een van die band members se sitkamers, daar waar die boerewors wild groei.
My afgematte gees was nou al so hoog soos Snoop Dogg op ‘n daggawolkie langs ‘n braaivleisvuur in Ponta Malongane. Toe skiet ek weer terug na STRAB Live toe om die legends te sien. Akkedis. Ja, hulle was die laaste band wat ek gedink het hierdie bose towerkuns gaan probeer. Maar nou is hulle in en as die Akkedisse eers in is dan is allieworries moertoe. Fans soek daai interaksie. As die tunes real is gaan die konneksie sterk bly.
Jirre, en daar bel iemand my, ek praat te veel kak en ek is laat vir Wolfgang Marrow se stroom op Homestage. Sukkel met die kode, want my hande is vertraag. Ook maar net betyds. Vlieg so in Wonderland in. Klomp mad hatters met Sandy Little wat intelektuele eksentriese elektrisiteit in die partytjie inplug. Loukie? Hy slaan daai kitaar laat die ding luister. Dit het gevoel of die entertainment nie wil ophou nie en ek het net opgestaan om files te gaan download in my poepketel en om te eet en water te drink. Nie in daai spesfieke volgorde nie.
Gareth Wilson het vroeër die middag verby my gevlieg en my van Die Heuwels Fantasties se album launch en Die Bushfire Festival vertel. So, met daai inligting in mind maak ek toe ‘n woeste draai na die Swazi’s se Bushfire Festival toe. Dis mos nou net waar ek die res van die aand gaan staan en vashaak het. Jirre, vier virtual stages met hordes kunstenaars van oral oor die wȇreld. Eswatini, Uganda, Kanada, Japan, Brasil, Duitsland en nog meer. Van ons land was dit Donovan Copley, Derek Gripper, DJ Doowap, Albert Frost, Theron & Canfield, Red Robyn en Zara Julius. Ek het obviously nie by almal uitgekom nie want dit was ‘n daglange festival maar ek het wel Albert Frost en Red Robyn van ons land gesien optree en wat die res aanbetref het ek net ge-drift van stage tot stage. Bushfire Festival is hierdie week se baanbreker vir my. Die feit dat jy na crowd rooms toe kon gaan en sit en kyk hoe die mense reageer op die musiek soos ‘n regte gehoor was unreal. Ek was nie binne in die kamers nie maar ek dink jy kon die mense hoor praat het as jy binne was. DJ Kampire van Uganda het so mean set gegooi en dan dans some sexy girl in haar huis tot die kamera in-zoom op haar en all the while pomp die musiek en trek jou in. Ek kon wel na ‘n paar mense se reaksies op die screen kyk. Soos ‘n Zoom call amper. Dit was fantasties!
Kan jy die toekoms imagine post COVID19? Jy kan nie kaartjies kry om na ‘n gewone fisiese festival toe te gaan nie want jy moet werk maar daar is ‘n digital festival opsie wat konkurrent plaasvind met die fisiese een. So jy kan breaks vat en jou gunsteling festival bywoon van jou couch af. Menslike avatars of selfs androids later met go-pros op hulle koppe mission rond in die crowd en daar is multi-cams by elke stage. Digitale feesgangers kan self kies waarheen hulle wil gaan en selfs merchandise koop wat later afgelewer word.
As die toekoms jou nie excited maak nie is jy ‘n dinosaur. Koes maar vir daai asteroid, hoor.
Watkykjy staan op 3,090,351 post views in totaal sedert 1 November, 2019.