Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2020) teen Augustus se kant 12 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, siende dat ons die regte besit en dat die boek nie weer ge-reprint sal word nie. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ons die boek se einde bereik.
Vereeniging
Vereeniging – wat ‘n kak jol. Suid van Joeys en boonop geklassifiseer as ‘n stad, maak dit deel uit van die Vuildriehoek, saam met Vanderbijlpark en Sasolburg. Dis op die Hoëveld so die weer is omtrent dieselfde as in Jo’burg; dis op die Vuilrivier, grens aan die Vrystaat en lyk nogal treurig.So, wat kry mens in Vereeniging? Wel, longprobleme is nogal gewild. Jy kry ook issues, blou oë, ‘n bloedneus of twee, skelm polisie en so aan. Daar’s ook zef mense, die meeste tweedehandse karplekke per vierkante meter, die lelikste Kersversierings op huise – en dan die Vryheidsmonument.
Jy sien, die Vrede van Vereeniging is in 1902 na die Anglo-Boereoorlog se tweede episode daar gesluit. ‘n Afgesaagde stomp wys presies waar dit gebeur het. (En glo my, dis nie al wat afgesaag is nie.)Die eintlike Vryheidsmonument is deur Coert Steynberg ontwerp en staan langs die afgryslike Stadskouburg. “Gewond maar onoorwonne,” lees die plaatjie onderaan ‘n gewone klip Boer waaruit ‘n silwer Saint-tipe staalmannetjie opstaan met sy arm in die lug. Dis die Boer se gees, jy sien. Wat opstaan om nie kak te vat nie. Die bandelier en blommekrans en als het ook ‘n betekenis, maar die gedeelte van my brein wat daardie onnodige inligting moes huisves het seker plek gemaak vir al die ander indoktrinasie waaraan ons onderworpe was.
Maar behalwe vir hierdie waardevoll funksie in die geskiedenis van die Afrikaanssprekende gemeenskap, het Vereeniging ook nog ‘n paar ander belangrike persone opgelewer, onder andere die Ruiter Van die Windjie homself, Francois Pienaar, Bakkies Botha, oom FW de Klerk, The Helicopters en meer onlangs daai Morkel-boeties wat so vernuftig verwoesting op die krieketveld saai.
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen een of sander tyd besluit wat om met hulle te maak. Dit sal probably deel uit maak van een of ander tipe crowd funding. Kort antwoord – dis nie tans enige plek beskikbaar om te koop nie.
Watkykjy staan op 3,084,134 post views in totaal sedert 1 November, 2019.