Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2019) teen Augustus se kant 11 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ons die boek se einde bereik.
Suid-Afrikaanse toeriste
Ek het my eerste gly gevang in hierdie spesie op ‘n skooltoer na Namibië. ‘n Outjie in my klas het pappa se duur kamera ingepak en alles wat hy afgeneem het (en dit was omtrent alles) se groottes met muntstukke en vuurhoutjies aangedui.
Hierdie kinders het ouers. Ouers wat kinders met vakansie neem en hulle irriterende gewoontes aanleer soos hoe om bokke verkeerd en beterweterig aan hulle mis of ballas uit te ken. Ouers wat kindertjies op die strand laat nommer twee waar vakansiegangers probeer ontspan. Die poefies word dan seker verbrons om langs Boeta se eerste paar skoene op die kaggel te staan onder die gemonteerde koedoekop wat tydens die vorige winter se bosveldvakansie eers gekwes en toe doodgeskiet is.
Die ergste is om hierdie mede-burgers oorsee raak te loop. Daar is jy nou, in ‘n vreemde land, ten volle oorgehaal om ‘n nuwe kultuur te beleef, die ryk geskiedenis te ontdek, die onbekende te verken.
“Steek jou vir ‘n dop, bokkie!”
Jou kop ruk verward om – jy kan nie glo wat jy hoor nie. En dis nie ‘n welkome verrassing nie. Meer soos daai vereassing as jy gedroom het jy swem die hele aand en dan word jy wakker met jou bene wat jeuk van jou eie pie.
Die beste wat jy kan doen is om jouself uit die voete te maak. Want as jou mede-Suid_afrikaners agterkom jy’s ook van hier af is jy kniediep in die kak. Daai beroemde gasvryheid (met apologie aan die xenofobie-slagoffers) beteken jy moet eers saamgesels oor waar jy vandaan is, hoe sleg dit in Suid-Afrika gaan en hoe die regering nie weet wat hulle doen nie. Terwyl beide partye ryk genoeg is om oorsee te toer.
Jy kan selfs vir ‘n bier genooi word, veral deur die tipe wat Bok-truie soos ‘n uniform dra, sodat jy na meer van dieselfde geklaery kan luister – heel moontlik met rassistiese ondertone en vele rondtes bier.
Voorspoedige reis!
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Watkykjy staan op 3,110,937 post views in totaal sedert 1 November, 2019.