Vandag se album lê al vir ‘n aansienlike tydjie in my inbox maar ek het net te veel struikelblokke om te oorkom op die oomblik en kan nie elke week by ‘n review uitkom nie. Ek het so vinnige Youtube-brokkie gesien wat die promoters gestuur het en laat weet ek sal bietjie koekeloer en koekeluister. Dit was seker drie maande terug. Time flies, even when you’re not having fun.
Hierdie album se tema is iets waaroor min mense praat: depressie. Jy hoef nie ‘n chroniese depressielyer te wees om te verstaan waaroor dit gaan nie. Alle mense gaan deur moeilike tye. Die musiek op die album self is meestal uplifting. Van die beste rock and roll ooit volg daai resep, by the way, en dus is dit ‘n baie relatable offering. My struikelblokke het meer met verlies te doen op die oomblik, maar die boodskap en medium was steeds baie welkom.
Wat SA musiek (spesifiek) aanbetref is The River Band nie eintlik ‘n groep wat deesdae in my visier sou verskyn of in my gemiddelde gemaksone sou lê nie. Aan die ander kant, soos ek stelselmatig elke song ingeneem het, het ek besef ek luister al hierdie tipe musiek my hele lewe lank. Dis seker hoekom ek instinktief ingestem het om ‘n review te doen. Dit laat my dink aan die musiek wat op Engelse kommersiële radiostasies gespeel het toe ek op laerskool was. Pop Shop, Radio 5 en bokjol tunes.
The River Band kry dit suksesvol reg om hulle eie klank en struktuur te skep maar ek kan kunstenaars soos Michael Bolton, Bruce Hornsby and the Range, Billy Joel, Bruce Springsteen, Joe Cocker, Gino Vannelli en John Cougar Mellencamp se gees in die note en woorde hoor. Sterk vocals. Standvastige songs. Gatskop kitaarsolos. The works. The River Band se musiek is baie dieselfde as die kommersiële Amerikaanse popmusiek wat destyds noukeurig uitgesoek was om groot platemaatskappye in staat te stel om wêreldwye treffers te smous, en het hulle nie sakke vol geld gemaak nie?
In ons plaaslike musiekbedryf is die naaste ekwivalent waaraan ek kan dink die Afrikaanse popmusiekfabriek. Oorsee het mumble rap weer deesdae dieselfde effek op my. Maakies my naarkies. Dis alles musiek wat mense haak en hou. Maar daar is ‘n verskil tussen die popmusiek van ouds en deesdae se holruggeryde reseppies. Deesdae se musiek klink meerendeels presies dieselfde en het geen of baie min siel. Die popmusiek van ouds was ook netjies verpak (albeit in ‘n langspeelplaat) en jy kon dit ook by Pick and Pay, Dions, OK en Hyperama op special koop maar elke band kon darem met hart in hand op hulle eie bene staan, nie waar nie? Daar is ‘n moerse verskil tussen kunstenaars wat dieselfde vlak lirieke sing en autotune gebruik om hulle derderangse stemme te verberg en talentvolle musikante met unieke stemme wat professionele opnamemetodes gebruik om hulle reeds uitstekende stemme net duideliker te maak of ‘n groter koor klank te bewerkstellig. Dis wat die groot geeste van rock en pop gedoen het en dis wat vandag se groepe soos The River Band ook nou moet doen. Hou dit oorspronklik en professioneel. You don’t have to reinvent the wheel. Baie ironies dat die bands wat in 2019 legit popmusiek maak nie eintlik meer by die boksies van ons tyd inpas nie. Ek kan maar net hoop dat hierdie musiek weer mense se aandag trek en verfrissend begin klink vir ‘n groter aantal jonger mense.
Dis ‘n lekker album hierdie as jy bietjie opbeuring nodig het. Geniet dit!
Watkykjy staan op 3,110,201 post views in totaal sedert 1 November, 2019.