Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2019) teen Augustus se kant 11 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ons die boek se einde bereik.
Oppikoppi boneheads
Kyk, ek laaik ‘n dop net soveel soos die volgende ou, maar daar’s iets wat verkeerd gaan as jy te veel dop en son mix, veral in die bosveld. Ontmoet die Oppikoppi-bonehead: Vieslik vuil in sy stowwerige overall (of mock deathrow suit), dop oppie pens met ‘n waatlemoen*helmet op sy gesuipte kop waaronder sy rooigebrande bakkies of skree of grinnik. Lieflik.
Oppikoppi is sweerlik die eingste musiekfees in Suid-Afrika waarvan die naam so ydelik gebruik word. Elke oggend word die bosveldstilte vergruis met ‘n bulderende “Oppikoppieeeeee!” dat die kranse antwoord gee. En so gaan dit aan, tot laat die aand. Of regdeur tot opstaantyd. En hulle kamp altyd naby jou, trust my – hulle is oral, bietjie soos die teenoorgestele van engele.
Gebeur dit by raves, huh? Sie jy byvoorbeeld twenty-somethings wat van hulle tiete af is op pille en “H2-ahoooooo!!!” skree? “Voooortex! Vooortex!” Nee, jy doen nie, Vernon Koekemoer sal jou bliksem.
En hoekom moet die doringbome op die plaas deur jou 24 leë Black Label-blikkies of jou een-ply boudservette ontsier word? Doen jy dit by die huis, ou bees? Nooi jy 30 mense na jou braais toe sodat hulle jou huis kan bevark en leë blikkies aan jou connifers hang?
Dis dieselfde brekers hierdie wat die kattebakke oopmaak voor negeuur die oggend oggend (saam met die derde dop) en skiem almal in ‘n 200 meter radius ket gekwalifiseerde hangovers sal dit moerse like om nou na “De la Rey” te luister. Op full-blast en op repeat. Met sporadiese uitbarstings van “Oppikoppieeeeeeeeeee!” tussenin. Hier teen tienuur begin hierdie clown (al klaar hees) aan dieselfde mense wat hy met sy kak musiek geïrriteer het te karring vir jumper cables, want surprise-surprise, Ouboet se karbattery het gekak.
Sonder sukses sal hy maar probeer om ‘n band te gaan kyk (verkieslik Koos Kombuis) en aan sy equally donk tjommies met bierkartonhoede reg voor die stage gaan hang en aandring daarop om die liedjie wat die meeste lugtyd op RSG kry eerste te hoor. Die liedjie word altyd laaste gespeel, maar hulle sal skree so tussendeur die dodgy opmerkings wat hulle na die meisies se kant toe gooi.
Ou, jy gaan nie score nie. Jy is ‘n bonehead. “Oppikoppieeee!”
Kry vir jou.
*In die afwesigheid van waatlemoene sal die Oppikoppi-bonehead gaan vir ‘n Crocodile Dundee-leerhoed of Black Label-bierboks. Ten spyte van die ekstra dekking bly die gatsiggie steeds helderrooi. Van die dop.
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Watkykjy staan op 3,124,116 post views in totaal sedert 1 November, 2019.