Hulle word so gou groot. Sug. Die newbie bands wat ek review het toe ek nog self nuut by Watkykjy was. Ek het weer Bad Advice van Wolfgang Marrow geluister en ek het nog steeds dieselfde opinie oor dié album as toe ek dit review het in 2016:
“Sandy Little het ‘n moerse sterk en versatile stem terwyl Louwkie Cronje se stem Kobus de Kock Jnr-rou kan raak. Dit kan nie fokken maklik wees om daai twee uiterstes geslyp te laat klink op ‘n album nie. En die ding is een van hulle trademarks, soos dit vir my klink, om daai twee sterk stemme te combine op meeste songs. Not easy at all. So, ek dink al wat ek mis partykeer is consistency en afronding met die vocals op van die heavier kick ass blues songs. Maar as ek ‘n betting man was sou ek sê Shadow and a Threat en Blood Lust Blues gaan een van die pilare van hulle sound vorentoe word. Maar dan weer is daar ‘n song soos The Curse. Wat ‘n befokte funky tune!”
Ja, dis nou drie jaar later maar het hulle my “bad advice” gevolg op hulle splinternuwe album? Haha, ek sou dit gelike het om al die krediet te kon vat vir die rigting waarin hulle besluit het om te in te gaan. Wel, miskien het hulle tog ‘n bietjie geluister want anders as op hulle debuutalbum, hoor ek nie meer ‘n weird-as-fuck small town garage band van Bloem, wat in die mees uiteenlopendste rigtings probeer eksperimenteer en my aandag wyd en verward laat span het nie. Dit was seker cool toe, maar bands moet groei of hulle kwyn weg.
Nee, inteendeel, ek hoor ‘n klomp gevestigde musikante wat al genoeg dues betaal het in verskeie donker hole, kerkbazaars en festivals, regoor Msanzi. Ek hoor ‘n Wolfgang Marrow album. OK, Sandy is nog steeds te eksentriek vir die deursnit vervelige musiekluisteraar, maar dis een van haar en (derhalwe) die Wolfies se handelsmerke. Haar unieke energie werk nog altyd goed saam met die res van die band. Ek dink net die baskitaartokkelaar het verander sedert die laaste album, maar Benjamin van Wyk kielie hom net so lekker.
Almal wat iets weet van musiek af sal vir jou sȇ: sonder ‘n ritmebende wat weet wat hulle doen (Benjamin en Bernard “Tiekie” Britz in hierie geval), klink dinge net af en ontydig. Hierdie dudes klink nie soos daai snotneuslaaitie in jou buurt wat altyd wou kom speel maar jy kruip eerder weg in die bougainvilleabos nie. Louwkie se kitaarspel het tegnies baie meer gegroei. Meer warmte en persoonlikheid. Konsekwentheid? Afronding? Ja, op hierdie opname klink dit stukke beter. Mastering? Ook kwaliteit, ja.
Wolfgang Marrow het hulle “studio seebene” gekry en geleer van klanke wat jou aandag trek, innemende kinkels met onvoorsiene draaie, behoorlike hakies en mooi melodieë. Fokol pretensie maar baie beheer. Dis die eenvoudige ou dingetjies wat die moeilikste is om reg te kry as jy ‘n album wil opneem waarna mense actually wil gaan sit en luister. Ek dink van hier af kan hulle net nog meer kreatief raak. Lirieke? “But the sun sets on all graves, kings and lawyers and office-chained slaves. If I should leave this world a little sooner than I’d like, I want you to have my records and that old ten-speed bike.” I rest my case. Damn!
Vir die van julle wat nie weet wie hierdie band is nie en dalk nuuskierig is oor die genre: dis moeilik deesdae om spesifiek te wees. Americana-Africana-blues-folk-rock-banana? Small town kids with small town nostalgia now hustling and enjoying big city life? So iets. Gaan koop die CD en vind uit. Daar is nog meer befokte lirieke in die boekie ook. En cool artwork. Spoke, wolwe wat op die telefoon praat en een van Sandy se boobs met ‘n spinnekop op. Spider-nipple, spider-nipple, Sandy Little and her spider-nipple. Check it out!
Net so nagedagte: dis ironies, maar nou dat hulle hierdie tipe grootmensalbum gemaak het, gaan hulle volgende keer nog harder moet werk en dalk net weer van voor af moet eksperimenteer met iets heeltemaal anders. Soveel pret om ‘n kunstenaar te wees! Maar ek dink nou weer te ver in die toekoms in. Geniet vir eers net hierdie nuwe materiaal op die draadloos en live!
Haa-lȇ-loo-ja!
Watkykjy staan op 3,056,060 post views in totaal sedert 1 November, 2019.