Rolbees vat so bietjie van ‘n klein break om kak en hare uit te sort. Hy moet sy wiele pomp,gears olie en mags op die rolstoel sit. Die bra sal binne die volgende week of twee weer sy stoel nader rol om met julle Watkykertjies te kom kak praat oor tunes en alles wat musiek is.
In die meantime het ons agtergekom dat daar ‘n hele biblioteek op wiele vol lekker local YouTube videos verby ons gejaag het en ons rokke opgewaai het sonder dat ons eers die wind op ons kwakkies gevoel het. Lekker deur die fokken kak, huh? Maar dit kan ook wees dat musos besluit om almal op dieselfde dag ‘n spul videos te release of albums in dieselfde week te launch en soms verdwyn die goeie hits so tussen al die geraas.
Ons sal seker iets daaraan moet probeer doen, so ons gaan begin rondkrap en hierdie outjies uitsnuffel. Dis in elk geval beneficial vir ‘n kunstenaar om sy stuff weer bietjie in die spotlight te sit, al is dit maande later, want daar is ‘n goeie kans dat jy dit dalk gemis het destyds. As jy dalk van cool local videos weet wat ons gemis het, sweef dit gerus aan – ons sal dit in ‘n foldertjie op ons PC computer gooi om te revisit een of ander tyd. Solank ons net een of ander sisteem in plek kan sit. Moet nou net om godsnaam nie halfgebakte tos aanstuur nie.
Ons kyk vandag na Willim Welsyn se video vir Die Saad Van Die Onkruid. Dis die bra se eerste tune vanaf sy 2018 SAMA-genomineerde rock-album, Blitzkriek. Oor die song tune Willim: “Die Saad van die Onkruid is die eerste song op Blitzkriek, en ook die eerste een wat ek reguit uit my kop uit geskryf het, van begin tot einde, sonder pen, papier of enige musikale begeleiding. Dit was dus uitgedink, eerder as geskryf. Die lirieke handel oor ’n guitige liefdesdriehoek en ’n vervloekte gesin wat sukkel om te ontsnap uit hulle donker verlede. Ek het gespeel met die idee dat as Quintin Tarantino ‘n arm Afrikaanse filmmaker was, hierdie song dalk op sy eerste film se klankbaan sou kon werk”
Vir die video self het Willim kakbaie moeite gedoen en self al die collage animation aanmekaargesit. Hy het vir maande lank gesukkel om met ‘n konsep voorendag te kom en eventually met ou magazine cut-outs begin rondfok om collage-agtergronde te maak. Mens moet seker iets met al daai fokken Huisgenote doen, right? Elke collage se betekenis het blykbaar spesiale betrekking op elkeen van die groep se lede, met ʼn paar geheimsinnige popkultuur-paaseiers daarin verberg. Die eindproduk is ʼn kompulsiewe kunswerk wat visueel tot lewe kom op die maat van ‘ Moordenaarskaroo-anthem en ons like dit fokken erg. Dis reeds in February die wêreld ingestuur maar dis sover een van die beste local music videos wat ons sover in 2019 gesien het.
Geniet hom! Ons het vir jou die lyrics onder die video ook geplak. Dis ‘n kaklekker tune!
Die Saad Van Die Onkruid
Daar loop die girl met die koel en kalm oë
Haar hart lê begrawe in die Groot Karoo
Haar pa was gefire maar haar ma was ok
Haar boetie het gaan drugs soek by sy nooi in die vlei
Die witwater-drank proe soos piekniek in die park
en hy maak meeste mense optree soos ’n vark
Wat kan vlieg soos ’n voël en kan sing soos ’n vrou
Wat haar trouring verkoop het aan ’n ander girl se ou
Die saad van die onkruid is sterker as jou tuin
En hy groei soos ’n kaktus in die mond van ’n woestyn
En daai girl wat genoem was in die eerste vers se vou
Is dieselfde girl wat haar ring verkoop het aan daai ander girl se ou
Waar wil jy wees? Wil jy skryf of wil jy lees?
Want die skool is te skelm vir jou nuwe idees
Daar is ’n bord teen jou bors en ’n kryt in jou hand
Soos ’n swaard in die rotse van kastele in die sand
Die saad van die onkruid is sterker as jou tuin
En hy groei soos ’n kaktus in die mond van ’n woestyn
En daai girl wat genoem was in die eerste vers se vou
Is dieselfde girl wat haar ring verkoop het aan daai ander girl se ou
Die dood van haar boetie was ’n algemene saak
Van ’n man met ’n gun wat gesoek het vir sy geld
In die vlei waar hy bly het die skote hard geklap
Soos die voete van ’n vrou wat vinnig huistoe stap
© Willim Welsyn
Watkykjy staan op 3,073,790 post views in totaal sedert 1 November, 2019.