Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2019) teen Augustus se kant 11 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ons die boek se einde bereik.
Mense se honde
Daar’s ‘n ou grap van oorle Mike Schutte en Kallie Knoetze wat in die straat afloop en sien hoe ‘n hond sy ballas lek. Mike haak af: “Jislaaik, ek wens ek kon dit doen!” waarop Kallie antwoord: “Moenie simpel wees nie, man, die hond sal jou byt!”Honde het nou maar eenmaal sulke gewoontes, en jy as eienaar laat jou brak toe om oor jou gaste te kwyl of sy nat neus herhaaldelik tussen mense se lieste in te stamp asof hy ‘n versteekte bederfie soek. Soms is jy baie ongelukkig en Wagter besluit dis tyd om met sy nuwe beste vriend te paar. Indien Wagter groter as ‘n medium-sized hond is, is daar probleme. Lang, nat, pienk probleme. Jy kan dit sien as ‘n “flank two posistion”, as jy Jack Bauer van 24 wil quote. Lekker ongemaklik, soms vreesaanjaend. Is dit vir jou oulik?
Sommige eienaars behandel hulle honde asof dit hulle eie kinders kon wees. Hulle laat die vuil vlooidraers op die rusbank slaap, voer hulle gekookte, gekerfde en ontbeende hoender, soet sagte biltong en romerige sjokolade. Mooi so. Deur jou geliefde kind so te bederf vat jy ses jaar van sy reeds beperkte lewensduur af. In hondejare.
Hier’s ‘n opregte boodskap van ons wat nie honde het nie aan julle wat nie julle honde kan beheer nie: Ons hou nie van julle honde nie. Trouens ons hou nie eers van honde nie. En nee, jy gaan ons nie oortuig nie.
Ons gee nie om of hulle vriendelik is nie. En jy weet nie of jou liewe vlooisak my gaan by nie, so moenie vir my sê hy sal nie. Nou weet julle hoe ons voel. Kanselleer maar ons Kerskaartjie. Dis nou die een met die oulike Golden Retriever met die takbokhorings op.
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Watkykjy staan op 3,090,242 post views in totaal sedert 1 November, 2019.