Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2018) teen Augustus se kant 10 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ongeveer Augustus.
Kulula.com se grappies
Mango verkoop hulle vliegtuigkaartjies by Checkers, wat lekker gerieflik maar ook half zef is. As jy vlieg, wil jy effens soos ‘n snob voel. Baie mense sal nou hulle koppe skud, maar hulle weet in hulle harte dis die waarheid. Juis oor Mango en Checkers kop in een mus is, verkies ek ‘n ander goedkoop opsie. Kulula. Dis net ‘n groot jammerte dat Kulula so verskriklik snaaks probeer wees en totaal daarin misluk. Dit was miskien effens snaaks toe dit nuut was, maar dis steeds deel van die opstyg-en-land roetine en die grappies word totaal en al emosieloos deur ‘n onbelangstellende outjie of vroutjie in ‘n groen pakkie met ‘n nasale aksent afgerammel. Daarmee kan ek nog saamleef, maar wat my verstom is dat party mense (amper altyd ‘n groterige tannie met leesbrille en ‘n hoë skril lag) hulself kraak en die persoon langs hulle in die ribbes pomp en die grappie herhaal en dan weer lag. Die hartseer grap is dat die potjierol vir ons hoër brandstofverbruik verantwoordelik is. Daai dik gat trek ondertoe terwyl die aerie langer op die runway moet klou voor hy sy neus sonwaarts kan punt.
Een grap wat altyd die laggies uitlok is die “Please help children and passengers behaving like children”-juweeltjie. So as die vliegtuig val, onthou groot seblief om vir die laaities en doedies vanvan Kulula.com veilig te hou. Anders, wie gaan grappies maak terwyl ons in die see ronddobber?
En is dit regtig so snaaks as die vliegflossie reken dat hulle mense wat rook sal vra om onmiddellik die vliegtuig te verlaat? Of sal dit snaakser wees as ek ‘n sigaret aansteek en kyk of hulle die grappie deurvoer?
Nee wag, ek het ‘n beter idee. Verf so ‘n geel mannetjie wat sy boude koebaai soen buite op die groen vliegtuig. Dis mos nog een van Kulula se grappies. Verf dit lekker groot maar laat sy ballas so onderstebo oor sy ken hang. Met ‘n speech bubble dan skree hy “Kulula dot koooooooom!” so in rooi letters oor die res van die vliegtuig se gat en vlerke. Dit sal blerrie snaaks wees. Of nie.
Hulle het anyway niks om te verloor nie.
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Watkykjy staan op 3,083,865 post views in totaal sedert 1 November, 2019.