Ek en Griffin het gedink dis nodig om bietjie ‘n feature te doen oor concert en venue accessibility vir kreupels. Nie net omdat ek self in ‘n rystoel is nie – ek was oor baie jare by heelwat concerts – maar ook om bietjie ‘n conversation te begin met concert organisers en venue owners – net om te kyk of ons nog op die regte pad is wat accessibility aanbetref. En of mense wat nie disabled is nie, die regte mense is om die besluite maak – mense wie se besluite ‘n groot klomp aspekte van my en ander mense soos ek se lewens affekteer. In fact, dit affekteer nie net disabled mense nie maar ook hulle familie, life partners en vriende. Festivals waar mens moet oorslaap is bietjie moeiliker vir my, en ek gaan minder soontoe, want dis kakbaie moeite, nie net vir my nie, maar vir almal wat my moet help die hele tyd. Dieselfde beginsels sal obviously geld en ek gaan probeer om nie net te dink aan my eie challenges nie want daar is hordes verskillende disabilities met hul eie individuele challenges. Ek kan nie guarantee dat ek in elke geval akuraat gaan wees nie maar ek kan wel vir myself met 100% akuraatheid praat.
Raait, ek dink ons moet begin by die law. Sonder om nou te tegnies te raak, ons noem “dit wat in elke disabled persoon se pad staan” om dieselfde take as abled persone te vrrrig, barriers. So picture jouself in ‘n rystoel. Of dalk loop jy nou permanent met twee krukke. Of jy is dalk nou blind vir so paar minute. Kies gerus vir jou enige disability wat jy graag wil hê. Imagine nou jy het dit al redelik aanvaar (as much as anyone can) en jy wil jou lewe net soos ander mense geniet. Imagine nou jy wil na ‘n live concert of show toe gaan. Wat sou jy dink is al die goed wat jou gaan laat stress? Wat is die dinge wat jou gaan verhoed om ‘n goeie tyd te hê?
Ok, voor ek begin pedanties raak laat ek eers verduidelik wat die law wil hê julle (die samelewing wat ook insluit event organisers en venue owners) oor die algemeen moet doen:
Die Grondwet tune geen persoon mag direk of indirek onregverdig teen ons kreupeles diskrimineer nie. Ook, in die Grondwet is daar destyds aan die Parlement opdrag gegee om wette te maak wat dit beter uiteensit. Hulle het dit toe mooi gedoen in die Equality Act ‘n paar jaar terug. Hoe help dié wet disabled mense? Wel, om dit eenvoudig op te som kan jy nie enabling facilities wegneem van iemand of toegang tot so iets verhoed nie. Soos ‘n behoorlike toeganklike werkende kakhuis by ‘n concert byvoorbeeld. Jy mag ook nie die Code of Good Practice of Regulasies van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde oortree nie, so gaan lees dit maar. Ek het dit nou nie gaan lees nie maar ek neem aan jy kan byvoorbeeld nie ‘n ramp bou wat nie ‘n standaard gradiënt het nie. Hoe de moer het SARS daar in Alphen Park weggekom daarmee? The Wheelchair Ramp from Hell! Nie almal is net parapleë nie, hoor. Party van ons se arms is ook gefok. Daar is obviously ander wette ook. Ek dink byvoorbeeld aan die Occupational Health and Safety Act. Have fun reading it! Maar meer as dit nog moet jy REDELIKE STAPPE neem om alle disabled mense se behoeftes na te kom en enige barrier wat ons onregverdig beperk en wat verhoed dat ons nie dieselfde goed as jy kan doen nie te probeer verwyder.
Die belangrikste goed wat barriers kan veroorsaak as dit by live concerts kom, in my opinie, is die volgende: kaartjieverkope, toegang, parking, moontlikheid van assistering, geen of kak training van medical en security staff, seating, voedsel, vloeistof, kakhuis, gatwas en dosplek. Daar gaan altyd kak mense in die equation wees, so dis ‘n given. Maar daar gaan ook kief mense wees wat baie gaan help. Dit is die lewe, dis die lot.
Kaartjieverkope
Hierdie is meestal net ‘n issue wanneer dit by groter concerts kom. Big Concerts en AMP Events se size. Ten minste betaal ons kreupeles net vir een kaartjie – whoever jou help die hele aand hoef nie te betaal nie. Dit het begin in 2010 met die oploop van die U2 concert toe een of ander drol wat ‘n konsultant vir Big Concerts was, getune het “disabled mense moet net fokof.” Ari Seirlis van QUASA het sy e-mail vir die media gestuur en dit was voorbladnuus. Daarna het ons altyd ‘n free ticket gekry. Dis ‘n blessing en ‘n curse op ‘n manier maar ek sal later meer daaroor verduidelik. Managers by Computicket het hulle prosedure ook al mooi verduidelik vir my. Omdat mense dose is en in die verlede al die disabled tickets opgekoop het (selfs al is hulle nie disabled nie), kan ons kreupeles nie meer van die online fasiliteite op die interwebs gebruik maak nie. So omdat jy ‘n dom kont is, maak jy dinge nog moeiliker vir ons. Ons kan net inbel op die Computicket tolvrye nommer en dan sit die tele-operators jou naam op ‘n lys. Jy moet dit so gou as moontlik doen die oggend wat die kaartjiekantoor oopmaak vir ‘n show want dis first come, first served. Laasgenoemde is fair enough maar nou moet jy wag dat Computicket se mense jou terugbel sodat jy jou kaartjie kan confirm en betaal daarvoor. Hulle kan enige tyd bel, selfs dae later en selfs as jy besig is. Dan gaan jy probably maar weer moet terugbel sodat jy nie jou kans verloor nie. Dis alles goed en wel as dit by die Ticketpro Dome of op daai grasperk in Brackpan is waar hulle al die siekes en krankes op een platform gooi. Moenie worry nie, hulle doen dit by meeste venues. Soos daai treine in Indië: Luggage and disabled in the back. Dit gaan nie rêrig saakmaak waar jy sit op daai platform nie, solank Computicket net terugbel en nie weird shit doen soos om tienuur die oggend op lunch te gaan nie. Hulle werk weird nagskofte, soms. As die concert by FNB Stadium is, wil jy so gou as moontlik geholpe raak as die kantore oopmaak om nader aan die stage sit as heel poesvêr agter.
Toegang en beweging
Onthou nou – jy is nog kreupel nê? So jy het baklei vir jou ticket oor die foon en dit deur die verkeer gemaak tot by die concert. Die verkeer was die maklike deel. So imagine nou jy kom by die concert aan. Dis kakbesig. Karre toet vir jou en mense gooi vingers want jy lyk nie of jy weet waarheen jy gaan nie. Soos meeste dof mense net voor ‘n concert. “Het jy voor die tyd disabled parking tickets gekoop?” “Wat? Daar was nie beskikbaar nie?” “O poes, you’re on your own, buddy.” Vra gou die eerste security guard waar jy moet gaan voor iemand sy kak verloor.” Ag jissus, lyk nie of hy weet nie. Welcome to my life. By Big Concerts se Rammstein show (2011) moes ek op security guards skreeu voor hulle ‘n parking kon organise. Ek haat dit. Dis gewoonlik wat gebeur by Ticketpro Dome. Hulle het great disabled parking reg voor die ingang maar dit is limited en dis first come, first served. So jy moet maar vroeg gaan en ‘n burger gaan eet by die Wimpy in North Gate of iets. Dis ook vêr om te rol soontoe. Ek het darem altyd assistance. As jy op ‘n gewone spot park is die risiko daar dat daar nie spasie vir jou rystoel gaan wees nie en jy vasgeparkeer kan word. Dit kan pynvol wees.
Big Concerts het by Metallica (2013), Bruce Springsteen (2014), Foo Fighters(2014) die befokste paved parking gehad by die FNB Stadium. Hulle het dit altyd beskikbaar gemaak so paar weke voor die tyd en jy moes betaal daarvoor deur Computicket. Ek kan nie onthou hoeveel dit was nie maar dit was nie goedkoop nie. R150 of so iets. Dit was wel die moeite werd want dis perfek geleë en jy is eerste in en eerste uit. AMP Events se parking en Big Concerts se parking by Rock on the Lawns en Iron Maiden, onderskeidelik, was free as ek reg onthou en ook nie te bad nie. Dit was net ‘n nagmerrie om daar uit te kom, though. Maar daar is almal (kreupel of de not) in dieselfde bootjie. Die Casinos en teaters se parking is altyd tops. Sun City, Monte Casino, Sun Arena in Menlyn, Carnival City, Atterbury Theatre en Rockwood Theatre byvoorbeeld. No stress there. As jy ‘n kleiner venue het en jy het nie ‘n dedicated parkeerplek nie, kontak hierdie champions: http://qasa.co.za/. Hulle sal jou uitsort because it are the laws. In fact, jy kan hulle kontak oor enige publieke plek wat nie disabled parking het nie. Rumour has it – as die gebou se eienaars vol kak is, sneak hulle in die aand in en verf een skelm. Befok!
Wat basic understanding van toegang aanbetref is meeste security, medical personeel en hulle supervisors by die venues clued up. Hulle help jou vinnig en dinge beweeg. Dis wanneer jy mense met curve balls gooi waar dit tricky raak. Dis hier waar jy supervisors nodig het wat hulle menslikheid en breins kan gebruik om besluite te maak. By die Metallica show het ek en my cuzzie in daai fancy VIP parking gepark. Maar dis heel aan die ander kant van die stadium moer vêr van die biertuin af. Die security mense wou ons nie deurlaat na die stadium voor ‘n sekere tyd nie want dis teen die reëls en regulasies. So ons moes daar sit in die parking lot tot die hekke vir die concert oopgegaan het. Jy is dus beperk in beweging. Not so cool. Gelukkig was daar ander kief mense en ons het saam met hulle ‘n paar kappe gemaak.
By meeste festivals gaan jy mense nodig hê om jou rond te stoot as jou rystoel of elektriese rystoel nie 4×4 is nie, so die terrain self is ‘n probleem en dit kan nie maklik aangepas word nie. I suppose iemand kan jou met ‘n bakkie rondry maar jy gaan spesiale toestemming moet kry. Stof is bad vir duur rystoele ook – wat seker alles redes is dat ek nie juis Oppikoppi toe gaan nie. STRAB was befok maar dit was net so ‘n moerse mission met al daai seesand en ‘n klomp mense moes my heeltyd help. Ek is nou nog dankbaar vir so kans maar dit put mens uit. Ek weet nou nog nie of die toilette by STRAB disabled friendly is nie – ek het net versigtig geëet en op die strand gepis. Ek gaan maar aanneem die kampeerterrein se toilette was van die laer tipes. Ons het in een van daai fancy huise op stilts gebly en my toilet het ge-rock. Letterlik.
Kak staff training
As jy nie aan staff basic sensitivity training gaan gee om bietjie vergunnings te maak vir iemand wat disabled is in redelike situasies nie, gaan hulle rely op hulle eie verwysingsraamwerk en dis nie altyd ‘n simpatieke een nie. Daar was supervisors by ander Big Concert events in dieselfde situasie wat my toegelaat het om vroeër van die parking na die biertuin toe te beweeg. Ek dink dit was by Red Hot Chili Peppers (2012). Daar kon ek ook nie die biertuin se toilet gebruik nie want dit was nie stabiel genoeg vir my nie (een van daai portables) en ek moes binne gaan na die stadium self, maar dit was nog nie oop vir die publiek nie. Supervisors het hulle diskresie gebruik en my laat ingaan anders was dit ‘n fokop. Jy is mos nog disabled in jou imagination, nê?. Imagine daai oomblik wat die man (met die gesag) op sy walkie talkie praat en jou tooestemming gee net om te gaan piepie. Blessed be the fruit! By The Killers by Val de Vie in die Paarl (2009) wou die gate guard my nie voor by die venue laat parkeer nie en daar was amper ‘n moerse fight tussen die mense saam met my in die kar en die gate guards. Die boom was oop, toe jaag ek maar net deur. Meer onlangs by Francois van Coke en Vriende nou die aand was daar weer ‘n fokop met seating. Die disabled seating is heel teen die kant waar ek fokol kan sien so toe beweeg ek verder maar ek sit voor ‘n trap. Daar was oorgenoeg plek vir mense om verby te beweeg maar die security guard wou my forcibly remove deur my weg te stoot. Toe verloor ek my kak. Don’t touch me on my crippleness!
Moontlikheid van hulp
By groot concerts gaan jy nie sukkel om iemand te kry om jou te help nie. Jy moet net vra. Meeste gestremde mense kan hulleself help en kan nogal anaal wees daaroor as mense hulle sommer net begin help sonder toestemming. Dis soos met enige ander persoon. Vra net eers voor jy hulp aanbied. Die van ons wat hulp nodig het, reël gewoonlik voor die tyd of ons het gewoonlik iemand by ons. So ja, daar is sommige van ons wat hulp benodig en ook self uitgaan na plekke toe. Daar is min, maar ons bestaan. Beste is seker maar om te reël met die venue waarheen jy gaan as jou tjommies nie naby is nie. As jy ‘n klein venue het en dis so bietjie ongelyk met ‘n paar lastige trappies kan hulp nogal berge versit. Niemand het my nog ooit hulp geweier as ek gevra het behalwe een keer by die V&A Waterfront (2005) toe ek vir werk daar was en een van die security guards daar my flat out ignoreer het. Toe bly ek maar in die kar sit tot my kollega gekom het.
Seating
Seating hang obviously af van venue tot venue. Meeste groot concert venues het ‘n verhoogde platform agter of skuinsagter die Golden Circle spasie en jy kan een persoon saamvat om jou te assisteer. Dit skep inevitably ‘n probleem vir disabled mense wat saam met ‘n groep vriende ‘n show wil gaan geniet. In meeste gevalle kan jy net eenvoudig nie saam met al jou tjommies in ‘n groep party nie en julle gaan opgebreek word. Soms gebruik die medical of security personnel hulle diskresie en soms is hulle absoluut fokken drakonies. Die verskoning is altyd die mediese personeel is verantwoordelik vir jou en as daar ‘n brand of bomontploffing is, moet hulle jou vinnig en ongedeënd daar uitkry. Good point, I get that, maar by Iron Maiden (2016) wou hulle nie vir Griffin en Chopper inlaat om my net te kom groet nie. Ek het so iets tussen fokken heavy VIP en totally isolated gevoel. Gelukkig het ek ‘n ou skoolpel saamgevra, anders was dit maar lonely. By One Republic se show by die Ticketpro Dome het ek en my sus my niece en haar tjommie by ons gehad wat onder ons gestaan het by general standing en die medical bra het hulle ingelaat. Diskresie? Training? Good job!
Die plek waarmee ek die grootste beef het oor seating, is FNB Stadium. Dis ‘n bietjie van ‘n double edged sword want die dedicated disabled seats is baie convenient. Dis naby die kos en koeldrank en toilette. Probleem is, maak nie saak hoeveel jy kan betaal nie, jy sal nooit so naby soos ander venues van die stage af wees nie en vir seker nooit so naby as die Golden Circle nie. Ek het onlangs met Attie van Wyk, die Chief Executive Officer van Big Concerts International en Len Marais, die Operations Manager, gepraat na ek gesukkel het om Guns and Roses tickets naby aan die stage te kry – net om te kyk of mens nie ‘n verhoogde platform kan kry onder in die stadium nie, maar hulle weiering het baie meriete. Dis daai lastige Health en Safety Regulasies en as iets verkeerd gaan met ‘n brand is en daar is ‘n stampede is ons almal en hulle reputasie moertoe. Voel jy darem al bietjie magteloos? Daar is ook VIP losies wat nader is en dit het geklink uit ons gesprekke of daar sekere losies is wat wel rystoel vriendelik is, maar dan is die opsie vir die assistent nie meer verniet nie want daar is catering koste betrokke, wat verstaanbaar is. So dis ‘n opsie seker, maar overall is dit nogal ‘n conundrum as jy kreupel is en nader aan die stage wil wees.
Wat was die beste seats waar ek onlangs ‘n show gaan kyk het? Vir seker by AMP Events se Rock on The Lawns laasjaar met The Pixies as headliner. Reg agter die Golden Circle tickets in die middel met ‘n great view van die stage. Wat was die kakste seats waar ek onlangs ‘n show gaan kyk het? Vir seker by Menlyn Casino se Sun Arena. Een van die supervisors het my getune dis die enigste disabled seats daar links bo – in so donker hoekie met fokol view van die stage se beligting. Ek was laas daar met Live en ek het ‘n tjom saamgehad wat nie ge-mind het om bietjie verder aan te mission en op die koue sement te sit nie. Die view was at least beter. Sun International Menlyn: gaan bel bietjie vir Sun City, toe? Daai Superbowl sal julle skaam maak. Julle designated seats is kreupel-Apartheid! Sies, Pretoria! Gaan lees weer bietjie daai Equity Act, hoor!
Kakhuis
Kom ons begin sommer met die belangrikste: Die hoogte van my rystoel op seat level is 53cm. Ek dink die standaardhoogte van ‘n rystoel se sitplekhoogte is so net onder 50 cm. As jy wil double check, bel vir Medop CC http://medop.co.za/ – hulle voorsien my al jare van rystoele en al daai kak. So hoekom is daar nog so baie lae poepketels in disabled toilette? Hoe de fok dink julle moet ek weer terugkom op my rystoel as ek klaar is? Dit beteken ek moet een van my tjommies bel om my te kom help en hoop hy kots nie van die stank vir dank wat hy gaan kry nie. Fokkit, ek sorg maar altyd dat ek min eet voor ek uitgaan na shows toe, want 90% van die poepketels by venues en restaurant oral is te laag. Jirre, hoe moeilik en duur kan dit wees om die poepketel uit te haal en op te lig met bietjie stewige sement? Kry ‘n grinder en maak mooi teëltjies en teël daai ekstra stukkie. Of los dit oop as jy ‘n cheap skate is. In al die jare van concerts en venues bywoon het ek nog net een of twee keer gaan kak en dit was by Atterbuty Theatre! Volpunte vir julle troon wat accessibilty aanbetref, by the way!
Gatwas en slaapplek
Meeste festivals het anyway net ‘n tent-opsie, maar sou ek travel om na ‘n festival toe te gaan, is dit nogal ‘n pyn in my gat. Hierdie laaste twee hang heavy af van elke individual. My requirements is spesifiek en as ek dit verkeerd kry kan ek nie stort of bad of op-en-af van die bed nie. So dis nogal stresvol. Die belangrikste is om te probeer om beddens op dieselfde level as ‘n standard rystoel te hou en om nie van daai matrasse te kry wat so insink nie. Springs-mattresses is ‘n kreupel se vriend. Aangepaste inrystorte is die beste en as jy boonop alle kreupels in ag wil neem, moet daar ‘n ingeboude bankie wees wat stewig genoeg is en dieselfde hoogte is as ‘n standaardrystoel.
So as jy dink jy accommodate al ons kreupeles in terme van wetgewing, gaan weer deur hierdie artikel en maak seker?
As jy nie omgee nie, wel, fok jou ook!
Watkykjy staan op 3,084,128 post views in totaal sedert 1 November, 2019.