1) Die laaste boek wat soveel opslae gemaak het was die Kinderbybel. Maar nadat The Lost Boys of Bird Island so bietjie meer as ‘n week terug kak begin maak het met beweringe dat onder andere oud-minister Magnus Malan hom met kinderspeletjies besig gehou het, sneeubal dit net meer en meer. Veral nadat een van die skrywers, Mark Minnie, hierdie week dood aangetref is met ‘n selfmoordbriefie by hom en ‘n gun wat nie aan hom behoort het nie. Waar’s Fox en Mulder as mens hulle nodig het? Die Conspiracy Theories loop so dik soos stroop. Is hy vermoor? Wat sou hy nog reveal het? En wat sien Derick Hougaard en Nadine in mekaar?
2) Shaun Abrahams. Fokken LOL. Die swerkater moes hierdie week sy kantoor begin ontruim nadat sy aanstelling destyds as hoof van die nasionale vervolgingsgesag deur Jacob Zuma as onkonstitusioneel verklaar is. So as jy nou ‘n behoefte het om in leepogies vas te kyk, kry vir jou ‘n Basset.
3) Net as ‘n ander dorpie die titel van Rofste Bliksems In Die Land wil vat, herrys Benoni uit die stof en claim sy regmatige plek op die podium. Ter stawing, vra maar die vermeende bendelid wat hierdie week deur die Daveyton gemeenskap in die groter Benoni-area na ‘n area langs ‘n skool geneem is en aan die brand gesteek is. Korrek mense. Langs ‘n skool. In my dae as ek kak aangejaag het by die skool, het my gat gebrand. In Benoni vat hulle jou skool toe en brand die sewe soorte hel uit jou uit as hulle vermoed jy het goedkoop gom aan een van hulle kids probeer verkoop. En die bendelid se lot? Trompie sterk tans onder polisie-bewaking aan in ‘n hospitaal.
4) Die 18 mense wat nog Survivor kyk het kollektief hul asems opgehou hierdie week in afwagting om te sien wie die wenner van die 133ste reeks is. En die wenner was… almal wat nie meer die kak kyk nie… Seriously. Enige nuwe idees vir TV? Asseblief. Maybe iets waar mense se musiekkennis getoets word? Met ‘n aanbieder in ‘n kleurvolle onderbaadjie. Just a thought.
5) Alhoewel hulle altyd voorgee hulle het die boer se belange op die hart, kom AfriForum se support blykbaar teen ‘n prys. ‘n Plaas se prys in fact. Die bekendmaking deur AfriForum van ‘n ongeverifieerde lys van plase wat moontlik vir onteiening geoormerk is het ten minste twee boere redelik die moer in. Beide van hulle sukkel om hul plase te verkoop en nou gaan hulle, wel, meer sukkel. Plaas wag AfriForum eers bietjie. Maar nee. En dan sit ons nog met Gwede Mantashe se aankondiging dat hy dink enige wit boer moet beperk word tot ‘n maksimum van 12 000 hektaar en dat enigiets meer as dit weggevat moet word. At least, dis wat ek dink hy voorstel. Met sy roggelstem kan mens nie seker wees nie. My counter voorstel sal natuurlik wees dat enige politikus wat meer as R12 000 per week verdien, die ekstra pitte ook moet opoffer. Vrywillig. Ja raait.
Watkykjy staan op 3,084,134 post views in totaal sedert 1 November, 2019.