Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2018) teen Augustus se kant 10 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ongeveer Augustus.
Fakse
Dit gaan my verstand te bowe hoe sekere instansies nog steeds daarop aandring dat ‘n mens dokumente soos bankbesonderhede, aansoekvorms, en bewys van identiteit vir hulle moet deurfaks in plaas daarvan om om dit per epos te stuur. Miskien dien die faksmasjien as alibi vir hulle swak diens.
“Meneer, ons kon nie u kredietkaart stop nie. Ons moet ‘n faks as bewys hê dat u die kaart opgesny het.”
“Ongelukkig kon ons nie u aansoek voltooi nie. Die Afskrif van u ID is nie duidelik genoeg op die faks nie.”
“Ons het probleme met ons fakslyn hierdie week, so dit is moontlik dat u eis van die mediese fonds nie hierdie maand uitbetaal sal word nie.”
‘n Faksmasjien op sy eie is ook nooit genoeg nie. Jy het ‘n kopieermasjien nodig om eers donker afskrifte te maak en met kleurskakerings rond te neuk tot dit semi-aanvaarbaar lyk en reg is om gefaks te word.
Onthou die dekblad ook, asseblief. (“Merk dit duidelik vir my aandag.”)
Jy moet die hele spulletjie oor en oor doen en wag en knoppies druk en paper jams regmaak en herhaal as die lyn beset is.
Alhoewel die faksmasjien aan jou kant reken als is okay, is ‘n foonoproep of ses nodig om seker te maak dat die persoon aand wie die faks geadresseer is, dit wel ontvang. Jou papiertjie het heel moontlik te donker aan die ander kant uitgekom en is onmiddelik deur iemand weggebliksem.
En elders, so ‘n paar honderd kilometer verder in ‘n bos wat aan Sappi behoort, kak ‘n groep bome stil-stil in hulle broeke…
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Watkykjy staan op 3,056,547 post views in totaal sedert 1 November, 2019.