1) Net in Suid-Afrika betaal jy miljoene om jou gat te sien. Actually, net in Limpopo. Maar die kak is jy sien nie jou gat nie. Om die waarheid te sê, jy is geboor. Twee beamptes van die Mopani Munisipaliteit (wat Tzaneen, Giyani, Phalaborwa, Hoedspruit en Modjadjiskloof insluit) is summier geskors toe daar bevind is hulle het bedrog van nagenoeg R100 miljoen gepleeg deur kwansuis boorgate te laat boor in die soeke na water. Maar ‘n horde van die gate is nooit geboor nie en meer as driekwart van die 4 820 boorgate wat wel geboor is, het nie ‘n enkele druppel water opgelewer het nie. Gelukkig het die segsman vir die munisipaliteit, ene Witness Tiva, aangedui hulle het dadelik twee ander beamptes aangestel sodat “dienslewering nie daaronder sal ly nie.” Dankie, Witness. Ek meen die put van ellende kan nie dieper nie kan dit?
2) Die CEO SleepOut kom nou al so jaar of twee onder skoot dat dit ‘n moerse bemarkingsfoefie is vir corporates. Maar jaar na jaar maak hulle mense warm onder die kraag en doen hulle presies die selle. Wel, presies die sel. Die slim mense wil sommer hierdie jaar een nag in Madiba se sel op Robbeneiland opveil ten bate van liefdadigheid met 250 000 Amerikaanse zak as die beginprys. Maar oepsie. Dis ‘n wêrelderfenisgebied en volgens ‘n woordvoerder vir Robbeneiland het hulle nooit so iets goedgekeur nie. Die rondslapery sou op 18 Julie, Madiba se 100ste verjaarsdagviering, plaasvind, maar is nou uitgeskuif na later in die jaar. Mens kan maar net hoop die organiseerders sal voor dan wakker skrik.
3) “Pa, waar is Ma?” “Weet nie Frikkie. Gaan kyk in die yskas.” Die vrou wat sowat twee weke gelede lewend in ‘n Carletonville-lykshuis se yskas gevind is, se identiteit is hierdie week bekend gemaak nadat daar vermoed is die polisie het koue voete gekry om haar te identifiseer. Isabel Dongua, vermoedelik in haar 40’s, is steeds in die hospitaal waar sy nou aansterk na die karongeluk waarin sy was, maar sy het gevra dat haar privaatheid gerespekteer moet word. Blykbaar wil sy om die dood nie op lewendige TV verskyn nie.
4) ‘n Sangoma van Clocolan in die Vrystaat het hierdie week kop gehou toe hy effektiewelik tot 5 jaar tronkstraf gevonnis is vir lykskending. Mpho Mokhethi, 42, het in 2017 ‘n graf oopgegrou, die bokant van ‘n kis verwyder en die lyk se kop verwyder. Polisie het die kop in die grond voor sy voordeur opgegrawe, maar die tong was verwyder. Die tong is later opgesny in drie dele in ‘n plastieksak gevind. Aanvanklik is vermoed dat dit sy skoonma se lyk was, maar dit kon nog nie bevestig word nie. Hy het ook blykbaar nie daarvan gehou om na as ‘n toordokter verwys te word nie aangesien die term misleidend is. Volgens hom is baie GP’s eerder toordokters omdat hulle so goed met pasiënte se mediese fondse kan toor. Nietemin, sy wandade is nie deur die hof oor die hoof gesien nie.
5) Weens die wanvoorstelling van die jagbedryf in Namibië in die media, het die Namibiese regering besluit om die plasing van jagfoto’s op sosiale media te verbied en om individue wat hulle hieraan skuldig maak, te straf. Dit geld selfs vir jagters met wettige jagpermitte. Aanvanklike paniek onder Namibiese internet-gebruikers wat lief is vir hul pornografie, het ontaard in blydskap toe dit bevestig is dat dit jagfoto’s is wat verbied is en nie jags-foto’s nie.
Watkykjy staan op 3,089,928 post views in totaal sedert 1 November, 2019.