Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2018) teen Augustus se kant 10 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ongeveer Augustus.
Daggarokers
Ons is nie noodwendig teen dagga nie. Blykbaar kan dit vir pyn aangewend word en in plaas daarvan om te huil, lag mens die hele tyd vir cartoons op televisie en drink baie water. Wat wel bietjie onder die kraag krap is optrede van die gereelde daggaroker.
Nie die thirtysomething besigheidsman wat saans met ‘n glasie Pinot ‘n spliff rol om ondeund te voel nie, maar die full-on mofkop bankie-‘n-dag tiep van daggaroker. Gewoonlik manlik, wit en met lang hare, of nog erger, dreads. Hierdie bra’s beweeg stadifg praat stadig en dink nog stadiger. Maar hulle dink, hoor.
Want een een van die goed wat hierdie ouens so super-irriterend maak is juis dat hulle dink. Daggarokers kom standaard uit met ‘n spul eenvoudige filosieë en langdradige stories. Want hulle het so baie tyd om te “dink”, jy sien. Terwyl hulle stoned is. Want dan sien jy als in perspektief. Man.
Jy “sien” dan die regering wil nie hê mense moet fun hê nie en dat die korporatiewe wêreld eintlik net ‘n gejaag na wind is. Werk is ‘n mors van tyd en mense is slawe. So ‘n hippie-vuilgat mentaliteit wat daarop neerkom dat dit lekkerder is om dagga te rook en rond te lê as om te werk.
Dis briljant.
Persoonlik is ek bly dat ek nie mofgerook moes wees voor ek dit agtergekom het nie. En dat ek nie met sulke halfmas oë en ‘n moerse paplip-glimlag by paarties sit terwyl die wêreld verbydraf nie.
‘n Spliffie nou en dan is seker nie te sleg nie, maar as daar nou een folisofie is wat wel waar is, is dat te veel boom jou kop plat maak.Loop sit daai Teletubbies af!
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Watkykjy staan op 3,089,925 post views in totaal sedert 1 November, 2019.