Dividing the Element – Debuut album.
So nou en dan kom daar iets oor my pad wat my baie kinderlik opgewonde maak omdat ek die potensiaal sien vir ‘n groot verskuiwing in ‘n spesifiek genre. Meeste metalheads sal Sepultura se Roots album (1996) onthou. Ja, daai een wat meer as twee miljoen kopieë verkoop het. Die Roots album was ‘n mengsel van meer inheemse Braziliaanse musiek aan die een kant en nu metal vibes aan die ander kant. Max Cavalera het na hy Sepultura verlaat het die world music/nu metal vibe aan die gang gehou met sy solo projek, Soulfy. Hulle was suksesvol met ‘n hele paar tunes maar dit het nie ‘n moerse shift in metal veroorsaak nie, eerder meer ‘n niche genre geskep. Ek het nie rêrig weer so iets na dit gehoor nie, though.
Fast forward tot ‘n paar weke terug toe ek ‘n groep tiener Māori metalheads van Nieu-Zealand genaamd Alien Weaponry ontdek het: siek riffs en ‘n vocalist wat in hulle inheemse Māori taal skrou, bullroarers rondswaai en die Haka in hulle musiek videos gebruik. Fassinerend. Dit het my baie dieselfde gevoel gegee as Roots maar die klank is net baie meer primeval (of dalk prime-evil). Ek het ook onlangs Indian Street Metal ontdek. Bloodywood meng tradisionele Indian musiek met metal en rap. Moerse kief, funky klank. Is daar nog steeds mense wat dink metal is te stagnant en ontwikkel of hervorm nie?
Wat van Afrika? vra jy. Wel, daar is ‘n denkskool wat beweer Afrika is die laaste grenspos vir metal omdat dit nog nie deur enige mainstream scene beïnvloed is nie en natuurlik omdat daar so baie stryd, stories en onontginde mitologie hier was en nog steeds is. Dis basies die Wilde Wilde Weste van metal. Ons skryf so nou en dan oor die metal scene in SA maar Botswana het net so ‘n bose metal scene wat al op CNN gefeature het, so dis heel moontlik dat daar heavy cool inheemse bands is waarvan ons nog nie eens gehoor het nie. Dalk in Mozambiek ook. Persoonlik het ek nog net Wrust, ‘n Death Metal band, van Botswana live gecheck maar hulle sing in Engels. Hier by ons in Soweto is daar bands soos Demogoruth Satanum maar hulle is straight up black metal en hulle sing ook net meestal in Engels. Ek het nog nie ‘n metal band uit Afrika gehoor wat in ‘n inheemse taal sing en boonop Afrika ritmes binne die metal konstruksie kon gebruik, deel maak van die rhythm section, en saam met hardegat metal riffs ‘n nuwe anderste klank na vore kon bring nie.
Wel at least nie tot nou toe nie.
Ek sou gedink het dat sulke tunes al lankal uit Suid-Afrika na vore sou kom maar ‘n klomp metalheads van Zimbabwe het my stereotipering en nasionalisme mooi gaan staan en verbrokkel. Ek dink hulle het ons voorgespring. Daar was voor Zimbabwe onafhanklik geword het ‘n moerse rock scene (in die ou Rhodesia) maar na 1980 het rockmusiek ‘n stadige, stille dood gesterf. Maar metal in Zim? Ek glo dit nog steeds nie maar uit die ashes van ‘n nie-bestaande metal scene is Dividing The Element gebore. Hierdie perde is van die land se hoofstad, Harare afkomstig en hulle selfgetitelde debuut-album is uitgereik op die 5de Mei 2018. Hulle het ook op dieselfde dag deelgeneem aan die ondergrondse metal beweging genaamd Metal United World Wide. http://www.metal-united-world-wide.com. Die global metal beweging is nou maar eenmaal net befok!
Die album is in Harare in ‘n garage/studio opgeneem en produce deur die band se kitaarspeler en sanger, Chris Van. Dis die eerste metal album ter wêreld wat lirieke bevat wat in Shona gesing en ge-growl word. Chris Van en Sherlic White het die band begin in 2012 en na ‘n hele paar line-up veranderinge oor die jare is die gevestigde lede tans Chris Van (kitaar en vocals), Archie Chikoti (kitaar), Nick Newberry (tromme) en Mat Sanderson (baskitaar en backing vocals).
Wys jou net wat passie en uithouvermoë kan doen, want blykbaar, as gevolg van hierdie aanhitsers, is daar nou ‘n groeiende metal gemeenskap in Zimbabwe! Fassinerend.
Die album se overall klank is iets anders en van die songs is van die mees unieke metal wat ek nog gehoor het. Die produksie kan plek-plek nog baie verbeter maar hierdie is die tipe baanbrekerswerk waarop Dividing the Element en ander bands hier aan die suidpunt van Afrika verder kan bou en verder ontwikkel om ‘n hele nuwe metal genre die wêreld in te stuur. Behalwe dat Shona befok werk saam met metal, hoor ek die invloede van akoestiese Afrikakitaar en ritmiese tromklanke deur die album. Upenya is een van my gunsteling songs. Ek sou net die tromme meer prominent gemaak het as ek die producer was. Die kitaar riffs is soms old school en soms nu-metal terwyl die vocals meer hoorbare growling is. Net jammer ek kan nie Shona verstaan nie! Maybe is ‘n paar videos met vertaalde lirieke dalk nodig? Die song, 3rd Street, klink soos ‘n mengsel van Juluka, Bullet for my Valentine en Sepultura. Mind blown. Maar Mhandu is my favourite song op die album. Dis ‘n colab met ‘n Zimbabwiese hip-hop artist waarvan ek nog nooit gehoor het nie. T.shoC is die bra se naam. Die song is hardcore as fuck! Gots, ek kry ‘n hoendervleis-orgasme en pink sommer ‘n traan ook. Ek weet nie wat hulle alles sing nie maar die woord Mhandu beteken ‘antagonis’ of ‘teenstander’. Dit klink vir my soos die toonbeeld van Zimbabwiese frustrasie en woede wat al jare borrel en nou begin oorkook het.
Afrika Metalrewolusie! Befok! Jirre!
PS: Sorrie Griffin, hierdie is nie op Spotify nie maar ek slip hom in vir al die bogenoemde redes!
Facebook
Twitter
Instagram
YouTube
Watkykjy staan op 3,083,276 post views in totaal sedert 1 November, 2019.