Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2018) teen Augustus se kant 10 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ongeveer Augustus.
Call centres
Asof diens nie pateties genoeg is nie, moet elke maatskappy ‘n geoutomatiseerde call centre (of Sewende Sirkel van die Hel) hê. Om jou makliker na die regte persoon te herlei, my kind.
“Vir rekeninge, duk 1. Vir navrae, druk 2. Vir verkeerde advies, druk 3. Vir leuens, druk 5. As jy gehelp wil word, druk asseblief jou vinger in jou wolhol.”
Hier’s ‘n nota aan groot maatskappye: Wagtyd is nie ‘n positiewe ervaring nie. En weet julle wat is ook nie positiewe ervarings nie? Panfluitmusiek en advertensies. Steeds dring julle daarop aan om hierdie onheilige drie-eenheid te kombineer. Met banale boodskappe soos “U oproep is vir ons belangrik.” Sjoe, dankie tog. Vir ‘n oomblik het ek gedink julle gee nie ‘n fok om nie.
En wat is die hele idee agter voice menus dat jy deur dertig keuses moet gaan en knoppies moet druk en jou ID-nommer moet invoer en mooi moet luister net om na tien minute se aanhou by ‘n generiese foonapie uit te kom wat nie weet hoe om sy werk te doen nie? Foonapie sal jou met ‘n glimlag dan per ongeluk of afnsy of deursit na die apie op die tak reg langs hom wat self minder as hy weet. Wees reg om elke liewe keer jou hele storie weer te vertel. En vergeet van die supervisor. Daar bestaan nie so iets nie.
Diens? Nier hier nie, pappie. Partykeer vra hulle jou selfs om asseblief hulle call center te bel. Dis reg. Dis een wat jy sopas gebel het. Hou maar jou ID-nommer reg, dit gaan ‘n lang dag wees.
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Watkykjy staan op 3,065,757 post views in totaal sedert 1 November, 2019.