Ons (griffin & chopper) se boek, Is Dit Net Ek Of Is Als Tos? word hierdie jaar (2018) teen Augustus se kant 10 jaar oud. Om dit te celebrate het ons besluit om alfabeties met die lys af te gaan en ‘n paar topics uit die boek te kies om weekliks hier op Watkykjy te publish, seinde dat ons die regte besit. Dis lekker kort stukkies wat jy op die kakhuis kan lees. Dink daaraan as jou klein zef kakhuisbybeltjie met pitkos vir elke dag… Wel, elke dag tot ongeveer Augustus.
Blou Bul-ondersteuners
“Was jy ooit al daar op Loftus as dit vol is en dit rof is?” sing grapgat Leon Schuster destyds in ‘n poging om die unieke gees te beskryfwat heers wanneer Pretoria se rugbyspan die dag ‘n game het. Jy hoef nie eers op Loftus te wees om hierdie bedenklike ervaring te beleef nie.
Blou Bul-onderteuners is oral. Hulle is rondom Loftus vanaf negeuur die oggend en hulle is op die paviljoen as die Bulle elders speel. Op hierdie plekke is hulle gewoonlik groot, vet en blou met wit horings op hulle koppe. Sommige verf net hul rooigedrinkte gesigte blou, ander hulle pense ook. Want pense is standaard in dié geweste.
Almal se bloed is blou. Mans, vrouens en kinders. (Altyd die kinders. So jonk, so onskuldig, so blou.)
Moenie dink Blou Bul-ondersteuners bly net naby rugbyplekke nie. O nee. Trotse Blou Bul-families stoot Saterdae trollies vol vleis in middelklas winkelsentrums rond en ry groot vierwielaangedrewe bakkies met dik tekkies en blou ballas aan die towbar. Want hulle ballas is ook blou. Die hele familie s’n.
Is Dit Net Ek Of Is Al Tos is in 2008 geskryf en uitgegee en daar was so baie copies verkoop dat ons dit in 2009 laat herdruk het. All-in-all is daar nog net so 10 onverkoopte copies oor op aarde en ons sal teen Augustus se kant besluit wat om met hulle te maak. Kort antwoord – dis nie tans te koop nie.
Watkykjy staan op 3,110,847 post views in totaal sedert 1 November, 2019.