1) Bereken die volgende woordsom:
250 koshuisleerlinge van ‘n Oos-Kaapse hoërskool word na die hospitaal gehaas. Hoekom? Weens worsies. Skies… Weense worsies… Die 250 word ontslaan, maar nog 180 koshuisleerlinge van die skool word daarna opgeneem vir voedselvergiftiging. Hoeveel koshuisleerlinge in totaal is deur die week opgeneem? Is dit:
a) Te veel
b) 19
c) Malusi Gigaba se moer
2) Gepraat van ons Minister van Finansies… na hierdie week se begrotingsrede, wil dit voorkom of ou Brilletjies nou minder gewild kan wees as ‘n woordsom. Volgens sy sommetjies, kan die Suid-Afrikaanse regering ‘n ekstra R22,9 biljoen in belastinginkomste genereer deur BTW met een persentasiepunt te verhoog. Dis die eerste keer in 25 jaar wat BTW verhoog sal word vanaf 14% na 15%. Dit beteken ons gaan kak en betaal, maar ons gaan net one-ply kan bekostig. Intussen vee hy hom af aan die noodkrete van ‘n nasie wat fin-voos is. Natuurlik doen hy ook sy bes om van ons almal geheelonthouers te maak deur belasting op drank ook te verhoog. En is ons dankbaar vir sy omgee? Nee. Dis nou stank vir drank.3) Dis min dat ek en AfriForum dieselfde voel oor iets maar dit smaak my ons beide het bittermin ooghare vir Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging. Die posterboy vir die LMFOUJM (Los My Fokken Ooghare Uit Julle Maaifoedies), het al te veel bewys hy is vertraag deur die proses om oudpresident Jacob Zuma te vervolg, te vertraag. Daarom het hulle besluit om strafregtelike aanklagte teen hom in te bring en dring hulle aan Abrahams moet summier afgedank word. Laat my dink aan daai ou grappie wat ek sopas uitgedink het: Wat is die ooreenkoms tussen Shaun Abrahams en ‘n klomp stoele in ‘n ry? Hulle is albei sulke stoelgang.
4) Een van Zuma se main manne, toevallig ook een van Zuma se mynmanne, Die Minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane, moes hierdie week uitvind dat hy op Instagram geblok is deur die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale hulbronne. Hulle gaan nou ‘n ondersoek van stapel stuur om beweringe teen hom te ondersoek nadat hy geïmpliseer is in ‘n verslag deur die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, wat bevind het dat vriende van Zoom-Zoom probeer het om onbehoorlik invloed uit te oefen op van Zwane se besluite. Sy response? “Au!” Wat ook toevallig die simbool vir goud is op die periodieke tabel. Kan jy nou meer?
5) Ons Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, het blykbaar na Pole verhuis en deur ‘n meer geswem om op ‘n eilandjie te bly, weg van al die drama in Suid-Afrikaanse politiek. O wag. Dit was ‘n koei. Easy mistake to make. ‘n Koei het in Pole die koerante gehaal deur uit ‘n trok wat oppad slagpale toe was, te breek, weg te hardloop, in ‘n meer te spring en te swem na ‘n eilandjie in die meer waar sy nou baie gelukkig leef. Jy kan hierdie poef nie opmaak nie, hoor.
Watkykjy staan op 3,049,125 post views in totaal sedert 1 November, 2019.