1. Onthou jy die moewie Toy Story? Die speelgoed Woody en Buzz wat dik pelle raak na hulle eers vasgesit het? Wel, hierdie week was dit meer ‘n geval van Hoodie en Buzz. Groot buzz soos wat fokken almal, behalwe drie mense van Witbank wie se data klaar was, hulle toys gegooi het oor ‘n foto op klerewinkelgroep H & M se website van ‘n swart laaitie in ‘n hoodie. Mara why? Want op die hoodie staan daar “Coolest monkey in the jungle.” Sulke meewarige kopskud. Regtig, mense. Is this what it has come down to? Ek verstaan goed dat die hele monkey vergelyking neerhalend is vir swartmense. Maar glo iemand wragtag dat hierdie intensioneel gedoen is? In die era van sosiale media waar nuus vinniger versprei as cholera, spring almal op die stasiewa en kies kant. Kom ons verskoon nou maar die helfte van die Afrikaans Is Groot crowd wat reken “My kind sal daai hoodie dra – ek sien nie iets fout daarmee nie.” Nee goed dan, Elsa-Riana. Jou fokken kind is maar net wit. Maar aan die ander kant van die spektrum is daar die massa histerie met swartmense regoor die wêreld wat dreig om hulle H & M klere te verbrand. Tot die ma van die kind wat as model gebruik is reken al mense moet oor dit kom. My opinie? Die wêreld benodig ‘n PK groter as Angus Buchan se bankrekening.
2. Die Suid-Afrikaanse Weermag het hierdie week mense gewaarsku teen ‘n slenter met advertensies wat valslik op sosiale media versprei word en blykbaar lede probeer werf vir die Militêre Vaardigheidsontwikkelingstelsel. Dankie tog. Dit was darem maar so hittete of ek het my CV aangestuur. Nee kyk, dit gaan moet sneeu in die fokken Sahara voor die Weermag enigsens aantreklik gaan lyk vir my as ‘n moontlike beroepskeuse. In ander nuus: Dele van die Sahara is hierdie week vir die derde keer in 40 jaar in ‘n sneeukombers bedek. O fok…
3. Ons geliefde president, Jacob Zuma, het hierdie week ook aangekondig dat hy ‘n Kommissie van Onderkroek na staatskaping gaan aanstel. Hy is aangehaal dat hy bekommerd is dat die kwessie al geruime tyd die publiek se gedagtes besig hou en dat hy voel dit nou dringende aandag verdien. Kan jy nou meer? Mens kan dalk argumenteer dat hy uiteindelik tot sy sinne begin kom, maar dan weer, dis Jacob Zuma en almal weet hy is van sy sinne beroof. En hy het gehelp om dit te roof!
4. Gepraat van Zoom-zoom – hy het hierdie week ook sommer ‘n lekker salarisverhoging aangekondig vir tradisionele leiers, voormans- en vroue, voorsitters, draadsitters, kings and queens… Dit gaan darem maar lekker hoor… “A king or queen will receive a 4.5% increase and a salary of R1 176 730 per year.” Asof opper-queen Hannon, die Glam Guru, nie reeds genoeg verdien uit sy reeks skoonheidsprodukte nie. Skandalig!
5. Imagine jy is een van die 13 mense wat nog Idols kyk en die koorkind wat jy back, wen die reeks en jy jubel. En dan kom die koorkind se CD uit en dis kak. Teleurstelling of hoe? Dis pretty much hoe die meerderheid van blanke Suid-Afrika moet voel nadat hulle verheug was met Cyril Ramaphosa se verkiesing tot ANC-president in Desember net om hierdie week te hoor hy is ‘n groot voorstaander van grontonteiening sonder vergoeding. Sulke hou in die ballas.
Watkykjy staan op 3,049,129 post views in totaal sedert 1 November, 2019.