Parkiebank, herfs 2017 kom van Fokofpolisiekar se nuutste ablum, Selfmedikasie (2017) af en is deur Sean Metlerkamp direct, dieselfde bra wat Die Antwoord op die map help sit het met daai Zefside video. Enjoy!
Fokofpolisiekar wou iets meer as net ’n musiekvideo maak en só ’n sosiale dialoog aanvuur. Hulle het die visuele kunstenaar, Sean Metelerkamp, genader wat in 2008 ’n musiekvideo van “Antibiotika” vir die groep gemaak het.
Die resultaat is ’n visuele stuk wat bestaan uit 3 dele:
1. ’n “Konvensionele” musiekvideo;
2. ’n reeks onderhoude wat jong Afrikaners se sienings oor hul plek in die wêreld en hoe hulle hul toekoms sien, dokumenteer en
3. ’n virtuele realiteit-wêreld wat nog net Francois van Coke gesien het.
Fokofpolisiekar het in November 2017 via hul sosiale media-netwerke mense uitgenooi om deel te neem aan die “Parkiebank, herfs 2017”-musiekvideo. Onderhoude is gevoer in Durbanville, Stellenbosch en Bloemfontein. Enigiemand kon meedoen en almal se opinies is gedokumenteer sonder oordeel.
Met die opbou na die musiekvideo se bekendstelling is van hierdie onderhoude oor die afgelope twee weke op Fokofpolisiekar se sosiale netwerke gedeel.
Die portuurgroep se sienswyses is uiteenlopend en inspireer meer vrae as antwoorde.
“Uiteindelik dink ek die punt van die lied is om mense te kry om net weer hulleself belangrike vrae af te vra rondom identiteit en die rol wat hul hulself sien speel in ons breë samelewing om sodoende mense te kry om ingeligte besluite te kan neem,” sê Hunter Kennedy, liriekskrywer en kitaarspeler van die groep.
Hunter Kennedy deel sy denkwyse rondom “Parkiebank, herfs 2017”:
“In die stuk bepeins ek finansiële welvaart as ‘n maatstaf van sukses en die etiese dilemma rondom rykdom in ‘n land soos ons s’n, waar as gevolg van eeue se kolonialisasie, burgeroorloë, uitbuiting van goedkoop handearbeid en natuurlike hulpbronne, blatante rassistiese onderdrukking en in ‘n post-demokratiese milieu, ons slagoffers was van grootskaalse wanbestuur; die ryk/arm lyn nog steeds ‘n kleur het. Dit handel ook oor die maatstaf van geluk volgens prestasie en die teenstrydigheid van jou hele lewe lank werk om eendag niks te kan doen nie. “Duidelik het ek ’n probleem met vasgevang wees in ons produk-gedrewe, kapitaal-sentriese bestaan en ek dreig gereeld om te ontsnap, maar ons doen nooit wat ons sê ons gaan nie, nè? My haat/liefde verhouding met die media lei na baie slapelose nagte. Ek het soms ‘n dringende paranoia op my van die nuus lees en dan vermaak ek die idee van ontsnap. Van nie net die lokvalle van weelde en rykdom nie, maar ook van die rasse-diskoers in ons land (dit was toe Bell-Pottinger se plan ‘gepeak’ het). Ek voel baie keer ek hoort nie hier nie, maar dan wonder ek ook waar ek nou eintlik hoort. In ander stukke het ek al die geldigheid van grense in ons al hoe meer geïntegreerde wêreld bevraagteken en ek voel dat ons, en die mense wat soos ons is, nie dink aan onsself as patriotte nie en dus het ons nie tuisland nie en het in fact nie een nodig nie. “‘Wat maak ons nog hier?’ is ’n oproep tot aksie om interne ondersoek in te stel en met die vraag te worstel tot jy ’n antwoord het.”
Parkiebank, herfs 2017 lyrics
jy mag jouself dalk vind
in die middel van die dag op ’n parkiebank sit
en dan dink jy
hoe bekostig hierdie mense hierdie Europese karre en paleisale Toskaanse tronke
jy mag dalk dink
in ’n arm land is rykdom ’n skande, maar
iemand is altyd ryker as almal anders
en jy mag dalk dink
wat doen ek
dat ek in die middel van die dag op ’n parkiebank kan sit?
en dan raak ek bly
want wat is daar om te doen?
wie probeer ek beïndruk?
en dan dink ek by myself
ek gaan nie my hele lewe lank werk om eendag niks te kan doen nie
ek sal sommer nou begin
ons doen nooit wat ons sê ons gaan nie, nè?
wat maak ons nog hier?
hierdie plek is nie ons s’n nie
huis is waar jou mense is
my mense het nie tuisland nie
wat maak ons nog hier?
hierdie plek is nie ons s’n nie
miskien dink jy by jouself
ek is ’n produk
ek is ’n bemarkingsveldtog
ek is ’n kommoditeit
dis nie hoe ek my kinders wil grootmaak nie
die middelklas is ’n buffer
en ons moet hier uit
honger mense bly nie lank honger nie
die malles het beheer van die malhuis geneem
en hulle kom al hoe nader aan die kluis
in die donker is die blinde een koning
maghonger koning maak
maghonger volgelinge
en koning bly nie lank op sy troon nie
ek lê op die gras en luister Lucas Maree
ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik
haar hart is seer, want haar man is dood
en ek kan dit op my vingers tel wat vir my belangrik is
Watkykjy staan op 3,055,947 post views in totaal sedert 1 November, 2019.