Deur Melt Sieberhagen
So die vakansie is verby en die lewe gaan weer aan. Die arme nuwe jaar is ook al klaar besig om geblameer te word vir die heengaan van die eerste popster. Asof die jaar self die bose een. Hopelik is hierdie die jaar waarin die jaar self nie weer die skuld kry vir alles nie, maar mense actually begin besef niks verander eintlik nie – dit gaan net aan.
Jy’t dit gemaak to die einde van nog ‘n jaar. Veels geluk. Kry vir jou ‘n hoedjie, ‘n klop op die skouer en ‘n fokken nommer… Staan in die ry. Dit was vir ons almal ‘n rowwe enetjie. Maar hierdie nuwe een is nie gewaarborg om beter te wees nie. Niks het reset, ge-Ctrl+Alt+De of wonderbaarlike terugggaan na die begin toe nie. Dinge gaan aan. Die ou probleme is nog daar, dis net die datum wat anders lyk.
En laasjaar was nie net aaklig nie. Die feit dat jy vandag hier is om hierdie te kan lees, wys dat jy dit oorleef het. Wat meer is as wat ‘n paar ander mense kan sê. Of dan nou nie kan sê nie… Daar was in 2017 goeie dinge ook. En in elke jaar voor dit. Probeer miskien om hierdie jaar ‘n bietjie minder oor die hede en die toekoms te karring en kerm en kla. Vat hom soos hy kom, maar moenie die stof van die pad wat jy tot hier gestap het, té hard van jou skoene afskop nie. Soms is daar niks lekkerder as om bietjie in die verlede te delf en indulge nie.
En wat ‘n beter plek is daar om te begin as met ‘n bietjie geskiedkundige televisie…
As jy oud genoeg is, sou jy onthou dat daar ‘n vakansiedag met die naam “Geloftedag” was. Dit het toe nou in die hel geduik… (Net sy naam as amptelike vakansiedag, let wel. Daar word op geen manier afbreek gedoen as jy dit nog steeds as ‘n dag van danksegging aanpak nie. Vat net sonskerm saam as jy einde van die jaar weer Voortrekkermonument toe mission om te gaan kyk hoe die son 12:00 deur die gat in die dak skyn. Die kere wat dit nie bewolk en reënerig en net ‘n klomp droefgeestige ou omies met nat baarde agterlaat nie, kan die son nogal skerp en gevaarlik wees.)
Deesdae is dit Reconcilliation Day. Dit was ook al bekend as Dingaansdag. Dis ook die dag waarop die ANC gestig is. En Taliep Peterson vermoor is. Jirr. Dis eintlik nie ‘n moerse happy dag nie. Maar al daai goed het gebeur. So delf terug in hierdie mal land van ons se geskiedenis. Daar het mal goeters gebeur, skaars ‘n honderd of twee jaar terug.
Feast of the Uninvited is ‘n epic storie wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel. Al is die geskiedkundige tydperk al klaar ‘n deeglike kyk of twee werd, gaan hierdie storie oor meer as net die oorlog. Dit gaan oor die mense. Regte mense. En wat maak van hulle sulke regte mense? Want hulle is geskryf deur P.G. du Plessis, dis hoekom. Een van die beste storievertellers wat hierdie land nog ooit opgelewer het. In die 70’s het hy ‘n eerlike kykie na die proto-zef werkersklas gegee, in die 80’s het ons ouers vasgenael gesit en kyk wat doen ou Genis weer hierdie week op Koöperasiestories. Toe’t hy saam met oom Jan Spies stories vertel op Spies en Plessis en op 7 Junie van daardie pootuit ou jaar 2017, het hy gaan plek inneem langs die grotes.
Feast of the Uninvited is ‘n drama oor die gewone mense wat deur ‘n oorlog soveel groter as hulleself meegesleur word en hoe hulle gedwing word om met mekaar vrede te hê, ten spyte van die alliansies wat deur beide die geskiedenis en die maalkolk van die tydsgees op hulle afgedwing word. (Okay, sorry. Daai’s ‘n epic sin. Kan iemand asb hierdie inskryf vir die ATKV se Mediaveertjies?)
Duik bietjie in jou erfenis in en vier ‘n groot gees se nalatenskap en talent terwyl moed bymekaarskraap vir die jaar wat kom.
As jy klaar is met die Boere-oorlog, maak jou reg vir die ander kant van die coin. Shaka Zulu. As ‘n laaitie in die middel 80s het hierdie show my verbeelding en aandag met albei hande aangegryp. Bill Faure het hierdie reeks gemaak en dit is vandag nog wêreldwyd ‘n moerse hit. Plaaslik het dit natuurlik minder aftrek gekry, want die regerende bleek outjies was nie heeltemal lus om te erken dat hulle tweede in die ry staan as dit kom by een van die grootste, mees suksesvolle en strategies briljante magte in die geskiedenis van Suider-Afrika nie. Shaka was nie noodwendig ‘n nice ou nie, maar militêr was hy op die selfde vlak as Napoleon: moerse uitgeslape en fokken slim.
Hierdie reeks gee jou ‘n idee van die geskiedenis was jy nie jou handboeke geleer het nie. Dit vertel die storie van die verhouding tussen hierdie seun van Senzangakhona en sy ma Nandi. Dit vertel ook ‘n ander storie: Van Senzangakhona se klein en redelik onindrukwekkende klein stammetjie, die Zoeloes, tot die massiewe militêre en sosiale moontheid wat dieselfde stam was teen die tyd to Shaka uitgecheck het aan die einde van sy kewe. Henry Cele gee ‘n ongelooflike performance as Shaka. Dat hy na hierdie nie deur Hollywood opgeraap is nie, maak geen sin nie. Hy kan vir Denzel Washington met Lawrence Fishburne bliksem terwyl Danny Glover vir Samuel L. Jackson in die hoekie troos.
Daar is natuurlik geen rede om net in die verlede rond te delf nie. Jy werk hard, jy verdien dit om jouself te bederf. (Het jy ook “jou rowwe bliksem” geprewel na daai line? Te veel baardolie, bra…) Nog iemand wat haarself kas toe werk, met groot suskes, is Julia Anastasopoulos. Weet nie wie dit is nie? Jy weet presies wie dit is. Maar jy ken haar dalk net as Suzelle. Van DIY-faam. Julia is ‘n aktrise met ‘n stewige lys rolle agter haar naam, maar soos baie Kaapse akteurs en aktrises is dit in internasionale produksies wat nooit hier wys nie. Dis hoekom ek een of ander BBC historical re-enactment affêre gekyk het en vir baie lank gedink het “Jissie, Cleopatra lyk darem maar baie soos Suzelle DIY….” Tot ek besef het sy lyk soos sy, want sy IS sy.
Na die sukses van haar Aanlyn-Afrikaanse-Doen-Dit-Self-Poppie-Persona, is sy terug as ‘n heel nuwe karakter: Tali. Tali is van Joburg, sy bly in die Kaap, sy’s selfie befok, sy’t followers, sy’t ‘n moeilike lewe… o ja, en sy gaan trou. Just in case die naam Tali’s Wedding Diary dit nie weggegee het nie.
Is dit ‘n tong-in-die-kies blik op die slimfoon-generasie se tegnologiese veelsydigheid in skrille kontras met hulle houvas op realiteit? Is dit ‘n kykie na die totale bubble waarin bevoorregte mense hulleself bevind in ‘n erg minder-bevoorregte wêreld? Is dit ‘n klassieke geval van ‘n stereotipe uit ‘n ander wêreld wat skielik in ‘n ander stereotipiese milieu moet funksioneer? Is dit kaksnaaks?
Lyk my dis iets van alles. Hierdie girl gaan trou, kom volg die manewales. ‘n Showmax original – spesiaal vir ons, deur ons. Die feit dat daar nuwe content create word – spesiaal vir die online/on-demand medium – wys vir jou waarheen dinge aan’t beweeg is. So check bietjie een van die eerstes uit. Ons sal later ‘n deeglike bespreking daaroor hê. Dalk selfs sommer met die meisie self gesels. As sy tyd het. Want sy’s nie net moer goed nie, sy’s donners besig ook.
Daarsy. ‘n Lekker handvol all-sorts om die jaar mee af te skop. Gaan groot, of gaan aan soos jy het. Dis jou lewe. So jy kan dit doen net soos jy wil.
Sign hierso op vir ‘n 14-dae free Showmax trial – daar is so paar duisend uur se entertainment. Jy sal glad nie eers ‘n dent in die content kan maak nie, maar ons kan jou verseker dat twee weke genoeg tyd is om te besluit om die diens te hou of te cansel.
As jy van ons vorige reviews gemis het en jy soek lekker leesstof, gaan krap hierdo rond: https://www.watkykjy.co.za/tag/showmax/
Watkykjy staan op 3,090,242 post views in totaal sedert 1 November, 2019.