Hier aan die einde van 2017, is dit tyd om bietjie te reflekteer op almal en alles wat ons moere gekoer het gedurende die jaar en die goeters wat ons ons koppe net meewarig laat skud het. Hier, volgens my, die 10 storietjies wat in 2017 uitgestaan het soos ‘n brandende Ford Kuga langs die snelweg.
- WEEK 10: Die Reserwebank het hul kommer uitgespreek oor ‘n toenemende verskynsel waar Suid-Afrikaners weier om hul skuld te betaal want hulle ontken net eenvoudig hulle het skuld. Die verskynsel, genaamd die Bathabile Dlamini verskynsel, raak al hoe gewilder nadat dit blyk dat die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, die einste Bathabile Dlamini wat die hele tyd skuld ontken vir haar aandeel in die uitkringende SASSA-skandaal, actually dalk daarmee kan wegkom. Geklee in ‘n ANC tafeldoek, het sy die media, die president (sulke waagmoed), die tweede prinses in die Mejuffrou Witbank Skoonheidskompetisie, vier makoue, Huisgenoot se moderedakteur, ‘n man wat vir Eric Barnard Meubels werk en ‘n blokfluitspeler van Ellisras die skuld gegee vir die kommer en onsekerheid of 17 miljoen Suid-Afrikaners op 1 April hul staatstoelaes gaan ontvang.
- WEEK 9: Ek onthou in Standerd 5 toe ek ‘n briefie van Elsie Nienaber gekry het in die Aardrykskunde-klas waar sy toe allerhande suggestiewe voorstelle gemaak het van wat sy met my sou aanvang by die fietsloods na skool. Fok, twee van die woorde moes ek opsoek. Maar toe draai dit uit die briefie was eintlik bestem vir Gerhard Beukes, die dokter se seun met die knopbroek. Praat van ‘n teleurstelling. En vernedering. Veral toe ek by die fietsloods opdaag soos afgespreek en Gerhard en Elsie speel reeds soekie-moemfie!! Ek dink dis plus-minus wat hierdie week gebeur het in Hollywood toe die Oscar vir die beste moewie per ongeluk vir die verkeerde moewie se mense gegee is. Halfpad deur hulle dankie-toesprakies, toe kom dit aan die lig dat Warren Beatty en Faye Dunaway (beide 119 jaar oud in die skaduwee) wat die wenmoewie moes aankondig, die verkeerde koevert gegee is. Sulke bloos! Toe wen La La Land nie meer nie, maar Moonlight doen. Die laaste keer wat daar soveel verbaasde mense op ‘n verhoog saam was, was toe die stellasie waarop ons hoërskoolkoor moes staan ingegee het onder jare se Afrikaner-skuldgevoelens.
- WEEK 33: Wat maak jy as jy ‘n toeris is in SA, maar jy kry nie al jou draaie nie? Jy fokken beplan ‘n extension okay? Dis presies wat Grace Mugabe gedoen het, maar toe gryp sy die extension en moer ‘n model oor die kop. So far so Ena Murray omnibus. Zim se presidentsvrou is in die land en toe sy vir haar twee spruite in ‘n Sandton hotel gaan kuier het, toe is dit asof iemand terpentyn aan haar hol smeer, want toe fokken hardloop haar common sense weg met haar en sy gryp ‘n extension cord en slaan vir model Gabriella Engels (wie?) oor die kop. Bloed, snot en trane later, toe grace haar bakkies elke nuus website se homepage. Gepraat van homepage, sy het ook sommer R45 miljoen uit haar bra gehaal en betaal vir ‘n huisie hier in sonnige SA. Dis ‘n plaas se prys! En daarvan het hulle mos baie in Zim.
- Week 24: Een karakter wat nou waaragtig nie enige Dux-trofee gaan inpalm vir sy wilde insigte nie, is Andile Mngxitama, die leier van die BLF. BLF is natuurlik die Black First Land First beweging, maar kom ons kloof nou nie hare oor die feit dat die dwaas nie eers sy party se naam reg kan afkort nie. Waar’s die ekstra F, poephol? Die wyse heer reken toe mos hierdie week dat die onlangse woeste storms in die Wes-Kaap die gevolg is van “white-owned monopoly capital.” Ander gebiede waarin ons vriend ook blykbaar ‘n deskundige is, sluit in “Hoekom Woolies se yskaste goed kouer hou vir wittes,” “Hoe kan die spoed van wit lig korrek wees as die spoed van swart lig nog nooit getoets is nie,” en “Hoekom, as jy kak aanjaag, praat mense van ‘n swart merkie agter jou naam en nie ‘n wit merkie nie?” Wag tot die werfetter weer sy vullis gaan uitgooi en begin werk aan ‘n tesis oor swartsakke.
- Week 19: Gretha Wiid. Ken jy hom naampie? Sy is ‘n bekende lekeprediker en gooi motiveringspraatjies vir Afrikaanse vroue wat heimlik weet hul GHD het baie meer gebruike as net wat op die doos staan. Wel, daar is sekere goed waarvan onse Gretha bittermin weet en haarself liefs van moet weerhou om kommentaar te lewer. Of boeke te skryf. Vat nou maar haar Lyfslim-boekies vir seuns en meisies. Vir die meisies byvoorbeeld word die boeke op haar website so geadverteer: “Jy het miskien honderde vrae oor jou lyf, jou tieties, en al die goed wat nog met jou gaan gebeur.” Tieties. In watter fokken karavaan het jy grootgeword, tannie? Om nie te praat van haar doktersgraad in moffiewees nie want in haar boekie vir seuns praat sy oor wat seuns gay maak en hoe jammer sy hulle kry want hulle gaan nooit ‘n normale verhouding kan he nie. So, wat aldus onse Gretha, maak jou gay? Wel, seuns word aangeraai om fokken wye draaie om ‘n klavier loop. Jip. Seuns wat klavierspeel mag dalk deur maats geterg word as moffies en who knows where that could lead! En skaak. Diefokweet. Iemand moet vir haar vertel dit word “pawn” gespel en nie “porn” nie. En die queen op die bord is nie Elton John nie. O, en as jou pa jou nie liefgehad het nie of hy afwesig was in jou lewe, is die kans goed dat jy gaan buk vir meer as net om die seep op te tel. Sulke stereotipering. Maar vrees nie. Die mense is lus vir haar. Nie daai tipe lus nie. Lus om te dagvaar en te verkla by die Menseregtekommissie, die SPCA, twee komplekse in Silverton se body corporates en die Noord-Transvaalse Jeugkoor.
- WEEK 6: As jy ‘n goeie Suid-Afrikaner die joost in wil jaag, dan moet jy 23 jaar se goeie werk probeer undo met ‘n tikkie rassisme. Soos Riaan Lucas wat oornag bekendheid verwerf toe hy homself verlekker het aan Joost van der Westhuizen se dood. Riaan en van sy maatjies het tog te lekker gebrag oor hoe hulle witmense se moere gekoer het, maar voor jy kon sê “Start die bakkie en bring die honde,” toe moes Riaan en van sy maatjies hul Facebook-profiles deaktiveer na duisende unfriend requests en doosdreigemente. Ja, dreigemente van dose wat die oog-vir-‘n-oog beginsel toe deeglik toepas en die ander kant van die rasmuntstuk speel. Maar my persoonlike gunsteling is die private speurder tipes wat toe ronddelf en die adresse en telefoonnommers van Riaan Lucas se vorige werkgewers, Sondagskooljuffrouens, agterkleinniggies en yoga-instrukteurs op Facebook gaan plaas. Want duidelik is almal aandadig. Sulke meewarige kopskud.
- WEEK 46: As jy Dallas onthou, sal jy dalk die episode onthou aan die einde van Reeks 38 waar Bobby wat dood is in die vorige reeks, skielik springlewendig in die stort verskyn het ten aanskoue van die lifde in sy lewe, Pam (sonder haar perd). Dit het mense se verbeelding aangegryp. Hoediefok? Waddiefok? Wanneerdiefok? Alles geldige vrae, maar toe Bobby sukkel om werk te kry in die regte lewe, het die vervaardigers hom ‘n tweede kans aangebied. Of dieselfde gaan gebeur met Bobby van Zim, sal net die tyd leer. Robert Mugabe wat al leier is van die land toe die Toyota Cressida nog ‘n statussimbool was, is na 37 jaar uiteindelik in ‘n hoek gedryf toe die Zim weermag hulle gatte gewip het en met tenks opgeruk het na sy majestueuse woning. Maar hierdie is een van daai ontwikkelende stories, want die een oomblik hoor ons Bob is gereed om duur handdoek in te gooi en die volgende oomblik dat hy weier om sy huis te verlaat. Die een oomblik is vroulief Grace blykbaar landuit en die volgende oomblik hoor mens sy is doening met kragwoorde en kragkoorde in hul majestueuse woning. Die een oomblik wens ons dieselfde gebeur in ons land van melk en seëning en die volgende oomblik word jy wakker en besef dit was als net ‘n droom. Nes Pamela.
- WEEK 12: Van die 7 mense wat nog Spur toe gegaan het, is daar nou net 6 oor. Dit kom na ‘n Rustenburgse spiertier verbied is deur Spur om ooit weer enige van hul “restaurante” te besoek. Hoekom? Wel, dit hang af wie se storie jy glo. Sy kind is blykbaar in die speelarea geboelie deur ‘n ander kind. ‘n Swart kind. O ja, spiertier is wit. Skuif nader mense, hier’s ‘n goeie storie. ‘n Wannabe rolprentmaker by die tafel langsaan neem toe alles af met haar selfoonkamera en versprei die video. Want mos. Tot almal se verbasing gebruik spiertier toe groot woorde soos “poesklap” en “Is dit so?” en maak toe of hy die mamma wil klap. Die arme mamma wat ook nie op haar bek geval is nie, drop toe F-bomme soos David Guetta beats drop. En in ‘n wending groter as toe Bathabile Dlamini almal verras het met haar onskuld-aankondiging, verander die petalje in ‘n moederfokker van ‘n rassistiese skermutseling. Teen nou is spiertier bekender as Jurie Els by die Abraham Kriel Kinderhuis. En mense aan beide kante van die kleurgordyn dreig mekaar oor-en-weer met moord, verkragting, karkrap met hul sleutels en fopdosser footage. Sug Suid-Afrika. Sug. Dit terwyl almal gerieflikheidshalwe die groter probleem ignoreer: wiedefok gaan nog Spur toe?
- WEEK 44: Swart Maandag. Redelike naais idee. Wys solidariteit met boere wat vir hul lewens vrees deur swart te dra op die dag en bymekaar te kom om te bid. Natuurlik is daar gapings vir misbruik of misverstand. Dankie aan die handjievol belhamels wat met ou vlae opgeruk het. Hoop nie die dag het te veel van julle tyd vir Volkspele oefeninge opgeneem nie. Dankie aan Nickolaus Bauer, hoernalis van eNCA wat sommer wild-en-wakker foto’s van vorige byeenkomste versprei het… foto’s waar mense die ou landsvlag as hemde gedra het (Edgars rooi-in-die-gesig-hanger-uitverkoping?) en die nuwe landsvlag verbrand het. Foto’s wat niks met Swart Maandag uit te waaie gehad het nie. Die skade is gedoen. Politici (ANC, EFF, BLF, SPCA, WNNR, WWF) het almal dadelik die dag afgemaak as rassisties. Want mos. Feit is, elke dag word mense vermoor. Goeie mense. Wit. Swart. Bruin. Maandag het miskien begin as ‘n hele ding teen die uitmoor van Boere. Maar die dag het ook gedien om vir die regering te wys dat wit en swart en bruin hande kan vat en wys hulle is gatvol. Moord is een ding. Karaktermoord ‘n ander. En ons regering pleeg laasgenoemde daagliks.
- WEEK 32: Enigiemand wat al ooit koor gesing het of in Mango Groove was, sal vir jou kan sê dat dit heelwat verskeie tipes stemme vat om die gesing mooi te laat klink. Bas, tenoor, alt en sopraan byvoorbeeld. Maar die koor van stemme wat hierdie week in die parlement opgeklink het, het ‘n vals noot of twee tot gevolg gehad. Ek praat natuurlik van die Mmusi van Wantroue stemming wat gebeur het. Eers het Baleka Mbete, die speaker, almal verras deur aan te kondig dat die stem in die geheim uitgebring kan word. Amper soos toe ek vir myself as Kinderkrans Leier gestem het. Tot vandag toe weet niema… uhm, nevermaaind. Anyways, die opposisiepartye kon elkeen hul standpunte stel en die ANC kon ook hulle pionne gebruik om die koning te probeer beskerm. En na almal gestem het, het die mosie misluk. 198 stemme teen 177 stemme. En 9 fokkers wat nie gepitch het nie of buite stemming gebly het. Aan die positiewe kant, om en by 30 ANC kaders het in die geheim teen Zoom-zoom gestem. En die 177 dui aan dat meer en meer van die beloftemakers begin besef 2019 gaan ‘n moeilike jaar wees vir die ANC. Moeilik soos Meetkunde.
VAT 5 vat ‘n blaaskansie. Sien jou weer in 2018. Vat hom rustig, maar fokken vat vir hom!
Place your ad here
Hierdie post is 623 keer in totaal gelees en 1 keer vandag gelees.
Watkykjy staan op 3,085,037 post views in totaal sedert 1 November, 2019.