Deur Melt Sieberhagen
Snaaks hoe bitterbekke en grompies wat altyd kla oor die dinge van die ‘goeie ou dae’ wat hulle mis, nooit die moeite doen om te sê hulle mis die Scope en die sag-beligte rondborstige modelle met die groots perms en sterretjies oor hulle boobs en dik swart strepe oor hulle onderdele nie…
Sensuur was een van die ou regering se grootste talente. Daar was oompies wat seker gemaak het hulle kyk elke liewe stukkie van ‘n film om enige skalkse verskyning van ‘n tepel of ‘n skaamhaar te bespeur, herhaaldelik te kyk daarna en na deeglike oorleg dit uit die film uit te sny. Ja, hulle het ook vir movies soos Staying Alive sommer ‘n re-cut ook gedoen sodat ‘n mens nooit kon sien hoe swart en wit dansers saam boogie nie. Maar hoofsaaklik was dit oor seks, naaktheid en die voorkoming van sedelike verval.
Toe kom 1994 en skielik is alles wettig. Van dobbel tot porn. Net so! Joe Theron het nog vir ‘n rukkie daardie aaklikge ‘scratch card’ goed oor die al skaamdele in sy tydskrifte geplaas. So jy moes nie net die Hustler skelm gaan koop nie, jy moes nog geduldig wag vir jou kleingeld ook, anders moes jy met jou vingernaels invaar. Sies man…
Ons het nie soseer ‘n porno revolution gehad nie. Net ‘n skielike verdwyning van die siel-polisie wat daarop uit was jou te keer dat jy jouself oorgee aan vleeslike lus en oordadige…uhm… “meelewing”. Met die gepaardgaande blindheid en harige hande, natuurlik.
Amerika se porno bedryf het ‘n meer sigbare revolusie ondergaan. Daardie in-jou-gesig oopgevlekte foto’s en later videos met die internet saam wat almal al gesien het (maar niemand ooit kyk nie) het ‘n lang geskiedenis in Amerika. Van stoute storieboeke na prentjieboeke na tydskrifte na film. Later video en deesdae iets soos 90% van die internet.
‘n Revolusie is net ‘n revolusie as daar bloed spat en tande kners…
In die 1970’s het die smetterige, sedelose wêreld van prostitusie, dwelms en sekswerk in al sy vorme en inkarnasies uit die skaduwees begin kruip en die hoofstroom ingevaar. Vandag kan jy nie eers jou email check sonder om ten minste twee tieties en ‘n advertensie vir tolvergrotingsroom te sien nie. Porno is so genormaliseer dat ‘n mens nie eers meer twee keer kyk nie. Maar dit is nou. Daai was toe.
The Deuce is nie net die naam van die nuwe series uit die pen van David Simon wat The Wire geskep het nie, dis ook die naam van ‘n gedeelte van 42nd Street in New York. Dit was ‘n super-suf straatblok met peepshows, pimps en prostitute, maar nie juis polisie nie. (“Fourty-Deuce” was die straat-slang vir die gebied… ‘deuce’ soos in twee… ah, nou vang ek dit ook).
Die vakansie lê voor en ek het die afgelope week so hard ge-job, daar was nie eers tyd om ietsie te kyk en voorsmakie te kry nie. Maar as jy check hoe die mense oor hierdie nuwe show aangaan, is dit beslis heel eerste op my “To Watch” lysie. (Net na Hartstog, om die waarheid te sê. Ek wil eers kyk hoe Carel Nel in Chris Barnard se skoene klim terwyl ‘n ander meisie se hart in Louis Washaknsy se borskas klim…
Dis ‘n show oor die tyd toe porno gewettig was en die gepaardgaande turmoil en tossery wat dit teweeg gebring het. Hierdie is nie ‘n review nie, dis ‘n preview, so ek kan nie self ‘n stempel van goedkeuring daarop plaas nie, maar hier is vir jou ‘n paar goeie redes om dit te kyk:
1 en 2: James Franco. Hy speel sommer ‘n tweeling – ‘n gier wat weer deesdae gereeld ingespan word, soos met Ewan McGregor in Fargo. Ek weet nie of dit beteken hy is dubbeld betaal ook nie, maar hy doen letterlik twee mense se werk en volgens die publiek en kritici doen hy dit nogal redelik goed ook.
3: Maggie Gyllenhaal. Dat hierdie dame die mees talentvolle van die twee Gyllenhaal kindertjies is, is nie eers te betwyfel. Nie dat ou Donnie Darko nie ook ‘n great actor is nie, maar hierdie vrou bring net ‘n next level na enige rol wat sy aanpak. En sy staan nie terug vir die groot kanonne saam met wie sy op die skerm is nie. Sy’t destyds kliphard vir James Spader hou vir hou gematch in The Secretary (figuurlik, natuurlik – letterlik was hy die een wat die pak slae uitgedeel het). In The Deuce is sy ‘n straatlopende sekswerker met ‘n bietjie “entrepreneurial spirit” wat die gaping in die porno bedryf sien (pun not intended) en dit met twee hande aangryp en ry vir al wat dit werd is (pun very much intended).
4: Die 70s. As dit kom by televisie is daar min tydperke wat so lekker is om na te kyk as die 70s. Al die vrolike, vreugdevolle blomme en kleure van die 60s het plek gemaak vir meer realistiese, vuilerige kleure en klere en ‘n strak realisme wat die era van Nixon, Vietnam en algemene befoktheid perfek versinnebeeld. Ja, die 80s het dit toe kom opfok met neon en glitter en moerse groot hare, maar die 70s was hard, onapologeties strak en – in retrospek – pragtig om na te kyk. Marting Scorcese se Vinyl het veral hierdie strek wêreld van bruin, oorryppampoen-oranje en ‘n ander verskeidenheid van vaal, beige en vaalbeige ontgin as ‘n tyd van morele verset/verval (afhangende van watter kan die die moraliteit jy was). The Deuce duik nog dieper in die donkerder kant van hierdie era in.
5: The Wire. Aanghangers van David Simon sal jou ure lank kan besig hou met hoe befok The Wire was. Met elke reeks wat op ‘n ander wetstoepassingsagentskep in Baltimore gefokus het, was die vyf reekse wat ‘n getroue fanbase opgebou het. ‘n Fanbase wat jou lank kan besig hou. Die afwagting vir hierdie outjie was groot, en dit lyk of dit nie teleurstel nie.
6: Seks. Nie om daarna te sit en kyk met jou hand op ‘n gemaklike plekkie nie, jou zefgat. Eerder die insae wat ‘n mens kry in die lewe van gewone mense wat in ongewone posisies beland en die beste van hulle bedenklike omstandighede maak. Die sielskant van seks, as jy wil.
Maar ek is seker jy sal dalk hier en daar ‘n nipple ook bespeur. Jou siek bliksem.
Sign hierso op vir ‘n 14-dae free Showmax trial. Dit sal jou hou tot net voor die nuwe jaar en jy kan hierdie wintervakansie duisende ure se kief shows kyk op jou TV, foon, laptop of tablet. Yup, ons het gesê “wintervakansie”. Die weer het nie ‘n fokken idee wat hy wil wees nie.
As jy van ons vorige reviews gemis het en jy soek lekker leesstof, gaan krap hierdo rond: https://www.watkykjy.co.za/tag/showmax/
Watkykjy staan op 3,084,120 post views in totaal sedert 1 November, 2019.