Deur Melt Sieberhagen
Vanoggend skiet ek gou na die plaaslike supermark toe om katkos te gaan koop. Lourens, die rondloperkat wat ons (en etlike ander mense in die woonstelblok) as sy mense aangeneem het, was van 07:00 aan’t gil en skreeu vir sy snacks. Nie asof daar nie in enige van die ander woonstelle ook vir hom iets sou wees om te eet nie. Nee, ék moes Checkers toe draf. Terwyl ek die mandjie uitpak vra ek of ek sommer sigarette ook kan koop en die vriendelike meisietjie roep vir die knaap agter die kiosk te toonbank om dit aan te gee. Niks nie. Sy roep weer, hy antwoord iets wat ek nie kon uitmaak nie en stap weg. Nodeloos om te sê is ek toe daar weg sonder my smokes. En die knaap wat so ongeërg was, sit nou met ‘n suisende geluid in sy ore van die “As jy jou fokken werk haat is dit nie my skuld nie, nool!” wat ek oor sy skouer gaan ‘fluister’ het waar hy toe gaan staan en kyk het hoe die kondensasie op die blaarslaai vorm.
Dis nie maklik om in retail te werk nie. Mense is veeleisend en ure is sleg. Pay is min en voordele nog minder. Maar dis regtig nie die klante se skuld dat jy daar is nie. Trouens, meeste van hulle werk iewers anders in dieselfde set-up en kom gee net hulle hardverdiende zak by jou uit omdat hulle moet. Nie omdat hulle wil nie. Almal van ons – kopers tot rakpakkers tot bakkers tot die manager met die vreemde spiral snor – sou veel eerder iewers ander wou wees.
Soos miskien in Cloud Nine. Die moerse groothandelaar waar Superstore afspeel. Almal sekerlik al kennis gemaak met die “People of Wallmart” www.peopleofwalmart.com – ‘n kykie na die vreemde gedaantes en gediertes wat hulle verskyning in Amerika se super tabernakel van kapitalisme maak. Indien jy nog nie het nie – doen jouself ‘n guns. Enige kritiek wat jy teen jou familie of vriende mag uitspraak, sal taan in vergelyking met die Superzef wat jy daar sien.
Dit sou maklik gewees het om oor hierdie mense ‘n komedie te maak, want let’s face it – die tekste sou hulleself skryf. Maar “Superstore” gaan nie oor die kopers nie. Dit gaan oor die spannetjie agter die skerms wat die winkel aan die gang hou. En hoe hulle dit regkry, is net ‘n wonderwerk. Superstore is ensemble-komedie op sy heel beste. Die karakters is nie net quirky en off-the-wall nie, maar werklik uitgebrei, volledig en met diepte. Hóé diep is seker debatteerbaar, maar ten minste diep-erig.
Die twee karakters wat sekerlik die naaste aan normaal is, is Amy en Johna – onderskeidelik vertolk deur America Ferrera (van Ugly Betty) en Ben Feldman (hy was blykbaar ook al in ander shows, maar ek onthou hom uit Silicon Valley uit). Die reeks begin waar Johna by Cloud Nine begin werk en ons ontmoet die karakters hoofsaaklik uit sy perspektief. Dis nie asof hy nie sy eie deeglike skeut disfunksie weg het nie, maar in vergelyking met die ander is hy so normaal en algemeen soos homofobie in die Moreletta NG Kerk. Die ander karakters wat al ‘n wyle in die Cloud Nine masjien funksioneer, is die eintlike sterre van die reeks.
Eerstens is daar die bestuurder Glenn, gespeel deur Mark McKinney. Hierdie ou is so clueless en verdwaal soos ‘n poep in ‘n windstorm. Hy’s glo die bestuurder, maar die werknemers stap oor hom soos trust-fund Afrikaners oor die Camino de Santiago. Hy is eng en konserwatief, maar hy volg die corporate handbook tot op die laaste nommer. Dinge mag hom dalk nie aanstaan nie, maar hy probeer dit altyd nugter en regverdig uitsorteer. Onder normale omstandighede sou hy nie naastenby likeable gewees het nie, maar die eerlike cluelessness en geforseerde regverdigheid waarmee hy alles aanpak, maak hom so uniek en likeable, jy wil hom eintlik net nou en dan ‘n drukkie gee.
Dan is daar Garret, Mateo en Cheyenne (Colton Dunn, Nico Santos en Nichole Bloom). Die een is in ‘n rosltoel, die ander net baie awkard en die laaste enetjie… wel, as die reeks begin is sy pregnant en op die punt om te trou met ‘n ware zefgat, and then things get worse. Die karakters maak hierdie reeks en hulle interaksie is wat dit aan die gang hou en voorstu. Elke episode is ‘n “Bottle Episode”. Vir diegene wat nie weet nie (soos ek, tot ek dit gister opgelees het): Dit beteken elke episode speel in dieselfde omgewing af en draai om die hoofkarakters self, sonder gasspelers wat groot bydraes maak of storielyne voorstu. Dit kom uit die dae van Star Trek toe episodes wat net op die Enterprise afgespeel het ge-label is as “Ship in a bottle”-episodes.
Te danke aan dié styl en struktuur leer ken ‘n mens die karakters van die begin af, maar daar is in elke episode nog ‘n stukkie inligting wat oor elkeen geopenbaar word. Soms ten goede, soms ten slegte, meestal tot groot vermaak van die kyker. Dis waarvoor ‘n mens soek in ‘n lekker ligte komedie – karakters wat tot jou spreek en met wie jy kan identifiseer (maar nie te veel nie, hopelik…)
Daar is natuurlik vinnige kykies na die vreemde kopers in so ‘n winkel ook, soos die man met sy kat aan ‘n leash, die kind wat in die middel van ‘n gang sit en poef op ‘n training potty ensovoorts, maar hulle is aanvullend tot die komedie en dryf selde die episodiese intriges.
Persoonlik het hierdie reeks vir my ook ‘n nuwe held opgelewer: Dina (gespeel deur Lauren Ash). Onthou julle vir Rain Wilson in The Office? Die unlikeable drol wat geen social skills het nie? Wel, maak hom vroulik, bietjie meer hard-core, minder van ‘n drol en meer van ‘n militêre spesialis as dit kom by persoonlike interaksie. Of so iets. Dis ‘n karakter wat amper herinner aan Stephanie Beatriz se Rosa Diaz in Brooklyn 99 (wat ons so rukkie terug gecover het) – net bietjie minder aan die ooglopend sexy kant. Maar ewe veel guts, gusto en balls. In die spreekwoordelike sin, natuurlik. In die letterlike sin is sy ‘n no-nonsense estrogeenmasjien wat nie kak vat van kabouters, kinders, kopers of kollegas nie. En die manier waarop sy dit doen, is hilarious…
Dis Desember en iewers moet jy tog ‘n blaaskansie vat. Behalwe as jy werk vir ‘n totale Scrooge (of by die Checkers in Kloofstraat, blykbaar). Sit terug en maak tyd vir bietjie ontspan saam met die span van Cloud Nine in Superstore. En al kan jy ‘n Showmax voucher gaan koop by jou plaaslike Checkers (of baie ander winkels), hoef jy nie die plaaslike retail-hel te trotseer nie. Jy kan sommer online ook inteken of selfs deur Internet Banking ‘n voucher koop. Probeer dit gerus en gee Superstore ‘n spin.
Okay, ek moet nou gaan smokes koop…
Watkykjy staan op 3,074,331 post views in totaal sedert 1 November, 2019.