Die Bob Dylan van ons land het al weer vir ‘n paar skatte gaan skep. Padkos is die Liedjieboer se eerste album in elf jaar en ek moet sê dis baie, baie welkom! Dis altyd ‘n plesier om regte musiek in Afrikaans te hoor maar daar is iets baie spesiaal daaraan wanneer ‘n legendariese kunstenaar (waaarna jy al luister sedert jy ‘n klein tjokkertjie is) dit regkry om die regte balans tussen daai bekende nostalgie en die tunes wat die moderne folk sangers deesdae jol, te vind. Dis afgestroop tot die naakte eenvoud en dis onbetwyfeld “uniek Suid-Afrikaans”. Organies, soos die Liedjieboer dit noem. Klink bietjie vegan vir my want daar is baie vleis aan hierdie offering. Beestepote is nou al vir ‘n halfuur op repeat en ek kan nie ophou om na daai Kaapse Ghoema Jazz gemeng met Hillbilly Country banjo te luister nie. Wat ‘n great kombinasie! Beestepote skoongeskraap, die lekkerste kossies van die Kaap! Gee my nog so halfuur, dis verslawend en ek is nou honger.
Ok, so bietjie informasie: Die album is oor ‘n tydperk van ses jaar opgeneem op verskillende plekke. Sommer so oor die internet by die Liedjieboer se huis in Gansbaai of by die bekende vervaardiger Peter Pearlson se kantoor by die Academy of Sound in Kaapstad waar hy klankingenieursklasse gee. Slegs die Solms-Deltakoor (die Soetstemme) is in die ateljee opgeneem. Die vioolspeler, Denzl Keenan het sy deel vanuit Clarence gedoen. Schalk Joubert is ook weer terug en as ek reg verstaan is van die tunes se bass van Amsterdam af opgeneem. Welkom by die toekoms! Die global village kan nou al in jou komper inpas. Lize Swart is ook weer op back-up vocals en hulle het drie banjo spelers gebruik. Die laaste een was Nielen Prinsloo.
So watse lekker klanke hoor ek op die album? Daar is nie volle rock orkestromme of elektriese kitaar nie; hier en daar ‘n tranetrekker maar dis oorwegend ‘n feel good reisigersalbum met ‘n love song of twee ook op. Wanneer ‘n land se mense so negatief of apaties is soos nou is dit altyd die kunstenaars wat ons herinner dat alles orraait gaan wees. Wie beter om ons op te cheer as Anton Goosen Unplugged in Azania met ‘n bonsende jaw harp (trompie) en ‘n stomping floor tom en bongos, akoestiese kitaar, bekfluitjie, klavier, viool en traporrel sommer ook?
Die Liedjieboer vertel nog altyd stories van ons eie wêreld en sing tunes oor ons almal se land en hierdie album is vol daarvan! Folk en blues lore op eie bodem. Ons hoef dit nie altyd te gaan soek in verre lande nie nê. Dis reg onder ons neuse, net hierso. Padkos het my nogmaals herinner hoe lief ek vir hierdie blêrrie fokken land is en dit sluit in die mense, al die beeldskone plekke en die fassinerende stories wat oral te vinde is. Al breek die mense amper elke week van voor af my hart. Ok, meestal politici, verkramptes en mense met oogklappe aan. Mzansi, Mzansi, mooiste land in die Suide! Hy sing ook van die inwoners van die fiktiewe Damnville in die rolprent Paw-paw vir my Darling en van die toweragtige Nieu-Bethesda en die Uilvrou, Ms Helen Martins en haar assistent, Koos Malgas. As jy nog nie het nie, moet jy die klein dorpie gaan besoek as jy mooi wil verstaan waaroor dit alles gaan. Daar is regte magic daar, ek sweer!
Hy sing ook oor Oom Ollie en wat vriendskap beteken, die beeldskone Tsitsikamma en Gansbaai, sy oorlede hond, Skye en ons eie Robin Hood legende, Scotty Smith. Jirre, hy sing ook oor daai vier letter woord: WERK. Siesa! Die eerste song, Diep Blou See is die porthole waar die hele reis begin en dan word jy uit die magical boomhuis ge-teleport na al die wonderlike plekke en so reis jy deur al die stories. Ek gaan nou eers weer die hele album deurluister van voor tot einde en nog so bietjie travel oor die land.
Of jy nou langpad of kortpad rol, sorg net dat julle aanhou rol. Tot volgende keer, Watkykertjies!
Watkykjy staan op 3,110,466 post views in totaal sedert 1 November, 2019.