The greatest trick the Devil ever pulled was convincing the world he didn’t exist. Aldus Verbal Kint aka Kaizer Soze (aka Blerrie Kevin Spacey voordat almal geweet het hy’s ‘n drol) in The Usual Suspects. Enige onvoorbereide toespraak vir redenaarskompetisie was altyd soveel meer effektief as ‘n mens dit met ‘n lekker quote kon begin. En dan die res van die toespraak spandeer aan elke liewe moontlike verwysing na die quote aan die hare insleep om jou nuutgevonde uitgangspunt te onderstreep, verdedig of inkleur.
Hierdie storie het egter niks met die duiwel of Kevin Spacey te doen nie, maar dit gaan wel tot ‘n mate oor hoe goed jy kan doen as jy mense van iets kan oortuig. Maak nie saak hoe belaglik, simpel of langdurig nie. Neem byvoorbeeld Afrikaans. Die afgelope twintig jaar het mense dit reggekry om so baie geraas te maak oor Afrikaans en hoe dit besig is om ‘n stadige dood te sterf/uitgemoor word deur die regering, dat dit die in-ding geword het om Afrikaans te ondersteun. So half “Praat Afrikaans Of Hou Jou Bek”, maar met geldjies. As jy mense kan oortuig dat die taal wat hulle praat besig is om uit te check, kan jy omtrent enige kak in daardie taal aan hulle verkoop en dit sal met ope arms ontvang en gekoester word. Want ons help die arme beleërde taal. Dis bietjie soos bybelboekies van Lux Verbi of CUM. Salvation for sale. Ondersteuning en after-life insurance all-in-one.
Dis nie asof ek reken daar was ‘n geheieme meeting van ‘n klomp ou ballies wat saam besluit het om met die kollektiewe skuldgevoel en onsekerheid van die Afrikaanse mark op hol te gaan nie, maar dit het beslis ‘n baie onbvious manier geword om zak te maak. “Hou jou taal lewendig deur die taal te ondersteun, kwaliteit ten spyt. En dit het gewerk. Vir die afgelope tien jaar is daar musiek en televisie gemaak wat lyk en klink asof dit in ‘n Borat movie ingedruk kan word. Visvang-, kook- en kampprogramme wat lyk asof dit op ‘n selfoon geskiet is. Flou jokes en kak acting in reekse wat omtent net soveel bestaansreg het soos ‘n sneeuman in Windhoek. Maar dit is ondersteun en dis gekyk en dis -bowenal – TEN MINSTE IN AFRIKAANS!
Tog, daar was darem ‘n goeie uitloop ook. Regtig.
Met dié dat die maak van televisie en filmpies in Afrikaans nou ‘n daadwerklike ding geword het, het daar genadiglik talent ook deur die krake begin inglip. En van die grootkoppe se kant af, is daar darem die geleentheid gegee aan die jong, kunssinnige tipes om Afrikaans ‘n go te gee sonder om drie poepgrappe elke vyf minute in te druk. En net so is ons terug by die Silwerskermfees. Verlede week het ons geloer na die meeste van die kortfilmpies wat daar te sien was – en nou ook op Showmax vir diegene wat nie gelukkig genoeg was om genooi te word om skouers te skuur by die fancy hotel in Kampsbaai nie.
Daar is baie gesê oor die movies wat ek geniet het – ek sê weer, Vrekfontein is die beste Afrikaanse comedy in jare. En movies soos Die man Met die Snor wys net weereens dat ‘n goeie idee en bietjie oorspronklike denke baie makliker is om na te kyk as iemand wat in esoterika en kuns induik en so te sê verdrink tussen metafore en allegorie. Iemand wat daardie slaggat baie susksesvol ge-sidestep het, is Nico Scheepers met Die Maan Val Bewusteloos. Oorpsonklik was dit ‘n teaterstuk en ‘n mens kan in die kortfilm sien hoe die verhoog-elemente nog steeds daar is, maar die idee van dit op skerm sit, het ‘n nuwe dimensie daraan gegee. Tot so ‘n mate dat jy amper dink jy kyk na een van daardie heavy kunsmovies soos Baraka. Hierdie tipe movie sou nie gemaak kon word as dit nie was vir die feit dat Afrikaanse televisie ‘n nuwe lease on life gekry het nie. Nou kan ‘n mens dit uiteindelik ondersteun omdat dit goed is, en nie meer net omdat jy dink jy doen jou deel vir die oorlewing van ons ou taaltjie nie.
En dis nie net 2017 se Silwerskerm movies wat jy na kan kyk nie. Check ook Hum uit – een van 2016 se wenners. Daar word baie tyd, moeite en geld in hierdie kortfilms ingesoot en die hele spul is almal daar op Showmax. As jy regtig wil, check sommer Konneksies ook uit. Waar anders sal iemand soos ek ooit die kans kry om ‘n romantic lead te speel…? Nog beter – gaan delf diep in die Showmax argiewe en kyk na die leker stokou Afrikaanse flieks wat daar is. Die dae toe ouens kakbaie geld moes bymekaarmaak om met regte egte film iewers in die Kalahari te gaan movies maak. Die feit dat daai flieks in Afrikaans was, was ‘n totale bysaak – dit het gegaan oor goed en entertaining wees.
As jy persoonlik wil terugsit en kyk hoe Afrikaanse vermaak uiteindelik begin om te gaan oor actual entertainment en kwaliteit en nie net aanvaar word omdat dit in ‘n sekere taal is nie, delf deur die argiewe en kyk wat daar alles vir jou is. As jy bloot wil geld stoot vir die bevordering en behoud van jou Taal – stuur my ‘n direct Message op Twitter by @meltsieb, dan gooi jy dit sommer reguit in my bankrekening in. Ek belowe ek sal dit net in Afrikaans spandeer!
Watkykjy staan op 3,056,644 post views in totaal sedert 1 November, 2019.