Deur Melt Sieberhagen
Te danke aan streaming musiek hoef jy nie meer ure lank in niche musiekwinkels soos Seedy’s rond te krap terwyl Richard, Ruan en Wesley jou voorstel aan Cake, Them Crooked Vultures en Manu Chao nie. Dit was moerse lekker, maar dis nou verby. Nou kan jy vir iTunes of Spotify sê wat jy smaak en dan kry jy sommer ‘n klomp suggestions gebaseer op jou smaak. Ure se awkward rondkrap uitgeskakel en geen gevaar dat jy jou naam gaan gat maak omdat jy vas oortuig is dat die band James een en dieselfde ou as James Iha van Smashing Pumpkins is nie.
Al probleem met die instant access tot al die musiek in die hele wêreld, is dat jy moet sien waarna die res van die wêreld luister. As jy verkeerd kliek kan jy sommer hoor ook. Dan besef jy dat jy absoluut niks meer met die wêreld in gemeen het nie. Behalwe die feit dat jy ouer word. Dit gebeur met almal.
Deesdae is televisie ook so. As jy aan die verkeerde kant van dertig is, kan jy nog met nostalgie terugdink aan die dae toe jy moes wag tot sesuur in die aand vir die SAUK om hulle transmitters aan te sit. Jy kan verlang na Knersus, Haas Das, Tannie Magda en Oom Gert en Karel en Sarel en Bennie Boekwurm. Meng nou daardie lekker warm en wollerige hunkering na jou sorgelose kinderdae met ‘n goeie dosis moord, doodslag en emosionele marteling, dan is jy amper by die creepy gril-fees bekend as Channel Zero.
Daar’s baie dinge waarvoor ek bang is. Bankstate en slange is nogal hoog op die lys. En alhoewel ek dit nie geweet het voordat ek Channel Zero gekyk het nie, is moerse grillerige marionette heel bo. Dis ‘n lekker ses episode reeks wat begin en klaarmaak. ‘Anthology’ vibes, so daar is geen gevaar dat die reeks vir altyd gaan aankarring en dan ‘n stofpoeperige einde bereik soos Lost nie. Dit begin en dit maak klaar. Ek het vyf episodes agter die rug, maar omdat ek op ‘n plaas in die Overberg sit vir ‘n ‘wegbreek’, kyk ek not te fok nie die laaste episode voordat ek nie omring is deur hoë geboue, baie mense en lig en elektrisiteit nie…
Sonder om te veel weg te gee, kan die show nogal vergelyk word met…uhm…wel, kom ons noem dit maar net: die grootste nagmerrie wat jy nie eers geweet het jy het nie. Mike Painter (Paul Schneider) is ‘n kindersielkundige wat na vele jare terugkeer na die dorpie waar hy en sy tweelingboetie grootgeword het. Wel, hy wat Mike is, het grootgeword. Sy tweelingboetie was nie so gelukkig nie. Blykbaar ‘n hele paar ander kindertjies ook nie. Deur flashbacks vind ons uit hoe al die kindertjies op die dorp gekyk het na ‘n kinderprogram met die naam ‘Candle Cove’. Probleem is net, die program is nooit amptelik uitgesaai nie. Dit het sommer net so op ‘dooie’ televisiekanale verskyn en altyd gehandel oor presies welke probleem jy op daardie stadium in jou lewe mee geworstel het. Verbeel jou net – dis so goed soos jy kyk Jukebox en net voor Pieter Koen ‘Mphe die hoenôr’ se musiekvideo aankondig, kyk hy so stip uit die televisie uit en kak jou uit oor die feit dat jy te veel brandewyn drink (en Jukebox kyk).
Te danke aan die vreemde Skeletor-agtige main marionet (verbeel jou ‘n gehekelde geraamte) is die boodskappies wat die nimlike karaktertjies vir die tjokkertjies gee ook nie juis vriendelik van aard nie. Dis so goed soos die kouse in Wielie Walie wat jou vertel om jou Graad 1 juffrou met ‘n geroeste fietsketting te gaan ophang. Dis die tipe modderige memories waarmee Mike moet deel. En dan hoor hy hoe sy eie dogter na Candle Cove kyk…
Tussen die twee parallelle storielyne (die kindertjies in die 80’s en grootmense in die hede) ontrafel ‘n hoendervleis-induserende storie van jeugdige onskuld, kleindorpse intriges en moerse creepy kindertelevisie. Regtig. Ek wil nie daaroor aanhou nie, maar die bemanning van die seerowerskip waaroor Candle Cove gaan, is genunely grillerig. Dis soos die hele crew van Die Beertjieboot wat raak soos daai klein blonde meisietjie in ‘Poltergeist’. En as daar iets is wat selfs meer creepy is as creepy puppets, is dit die creepy kinders wat die creepy goed doen wat die creepy flippin’ poppe vir hulle sê om te doen. (Hoekom voel ek nou die lus vir ‘n Radiohead song…?)
Kyk dit self. In die daglig, verkieslik.
Op ‘n minder senutergende vlak, is dit nogal lekker om deesdae te kyk na stories wat in die ‘verre verlede’ afspeel. Die 80’s is lank genoeg terug om te tel as histories en jy kan met heimwee terugkyk na dinge soos retro-fone, genuine BMX’e en modes wat nou meer snaaks as period-specific lyk. As jy ook ‘n bietjie navorsing gaan doen oor Channel Zero, kom jy af op een van die vele gesplete persoonlikhede van die Internet. Iets waarvan jy nooit geweet het nie, maar nou kan jy dit net nie uit jou kop uitkry nie: Creepypasta. As jy geweet het wat dit is, is jy nie net beter ingelig as ek nie, maar tien teen een ook geneig om so ‘n bietjie van ‘n obsessie met die aaklige kant van die mensdom te hê, ‘Creepypasta’ is afgelei van ‘copy and paste’ en behels moerse freaky stories wat mense vir mekaar op message boards begin vertel het. Amper soos urban legends, maar met ‘n bietjie meer in-diepte bloed, derms en mindfuckery. Die mooi naampie is ‘internet short form horror’ stories. Moerse baie creepy, boggerol pasta.
Candle Cove is so ‘n creepypasta wat in 2009 deur die webcartoonist Kris Straub geskryf is. Jy hoef net na die man se Twitter account te kyk om te sien hy’s dalk goed met wat hy doen, maar hy is verseker nie heeltemal lekker nie. Maar hy kan ‘n lekker geil storie vertel. Dis nie altemit nie.
Kyk gerus Channel Zero terwyl jy lekker snoesig onder ‘n bersie sit voor die kassie. Hou jou meisie/boyfriend/kat/kussing maar styf vas. En maak jou reg om te gril. En as jy ooit weer iets anders op die televisiemasjien kyk en skielik sien hoe Karel Kraai vir Sarel Seemonster met sy filmprojektor begin doodbliksem, gaan soek eerder vir jou ‘n leker popliedjie op een of ander streaming site.
Urgh… ‘pop’. Nou sien ek weer net daardie donnerse geraamte. Siesa.
Sign op vir Showmax se 14-dae verniet trial as jy nog nie het nie en onthou weereens om Channel Zero nie in die donker op jou eie te kyk nie…
Watkykjy staan op 3,091,382 post views in totaal sedert 1 November, 2019.