(deur Katvrou)
Ek lees nog so lekker koerant, toe hoor ek ‘n moerse slag buite. Hol uit. Bakkie het sedan getref, motorstukke oral. Bakkie se regterwiel skeefgemoer. Ouens haal die bestuurder van die sedan uit, lugsak het hom beskerm. Hol bakkie toe, geen lugsak, man vas, sy voete haak aan die pedale. Ouens haal hom versigtig uit, ek help om die een voet los te kry. Groot plas bloed smeer oor die sitplek. Hulle laat lê hom op die sypaadjie tussen die blare en gras. Moerse kopwond, gesig vol bloed, tande uit, sy oë omgedop, net sulke wit skrefies. Fokkit hy lyk dood. Ek voel niks hartklop in sy nek, weet nie eens of ek op die regte plek voel nie. Begin CPR, fok, eers verkeerde kant, fok Carina sy hart sit links. Druk, druk, druk met albei hande, kan nie lug by sy mond inblaas nie, te veel bloed. Druk, druk, druk. Ouens sit hoodie onder sy kop. ‘n Vrou sit langs hom en bid. Ek druk, druk, druk. Kyk na sy maag of dit beweeg. Niks. Twee klein bloedsmeersels by sy naeltjie. Ek druk mal vir drie, vier minute. Druk harder. Liewe fok ek weet nie wat ek doen nie, is my hande reg, wat, wat hoe? Druk druk druk. Hy gorrel. Die dooie wit stukke van sy oë rol terug, die linkeroog skaars sigbaar van die bloed. Iemand sê: “Wait he’s coming back, stop, give him a break, look, his eyes.” Ek stop en ja, wrintiewaar, hy haal asem. Iemand bring water en hy probeer sy kop lig. Ek vra of hy my kan hoor. “Ugghnn,” kom dit uit sy stukkende mond. “I wantsh to schleep.” Fok, waar’s sy tande? Het hy dit ingesluk?
So praat ek en die biddende vrou, elkeen by ‘n oor, om hom wakker te hou. Sy naam is Andile, hy’s 25, dis sy vriend se kar, sy meisie is 19 en hy het sy eie besigheid. “Check his wallet,” sê iemand. “Look for medical card.” Hy spoeg bloed en fluister “no medical I sleep now”.
Dis hoe lank ons hom moet wakker hou voordat die eerste ambulans kom. Al daardie inligting uit ‘n man met ‘n stukkende gesig wat net wil “schleep”.
Ek hou sy koue linkerhand vas en spoel die gras en bloed uit sy linkeroog met my ander hand. Hy soek bietjie water in sy bebloede mond, maak sy lippe oop. Die die bloed trek dik drade, die water gaan skaars deur. Water is klaar. Die bottel lyk soos die piepiebottels in die hospitaal. Verdere vyf minute voordat die noodmense hulle goed uit die ambulans kry. Ek vat die mou van die bebloede hoodie en vee die bloed uit sy oog, daar’s gras in ‘n lang stuk haar in. Saggies, vee, vee, “Andile, where were you going?” Hy kreun. “My stomach is open.”
Ek trek sy hemp af na sy broek toe. Dan buk ek en sê in sy oor “bye Andile, don’t worry about your friend’s car.”
Die vrou vat sy regterhand en sê in sy oor “Andile, you must pray, go to God, after this, go to God who brought you back. I will help you, I will come to find you at the hospital, Helen Joseph, there around the corner, Andile do you hear me? You must pray, oh thanks to God amen thanks God.”
Fok. Dis wat hy nou nodig het, ‘n preek.
Ek staan op, beur tussen die horde mense deur en loop die sowat 30 meter terug na die woonstel. Gaan sit op die bank, tel weer my Rapport Sake op. Ek sien daar’s swart strepe motorolie op my pantoffels. Begin lees.
O wag. Blertse bloed op my hande. Ek gaan was dit af in die badkamer.
Tel weer die koerant op en lees “Eskom wurg homself dood.”
En my hande bewe.
Watkykjy staan op 3,092,670 post views in totaal sedert 1 November, 2019.