1. Ek onthou in Standerd 5 toe ek ‘n briefie van Elsie Nienaber gekry het in die Aardrykskunde-klas waar sy toe allerhande suggestiewe voorstelle gemaak het van wat sy met my sou aanvang by die fietsloods na skool. Fok, twee van die woorde moes ek opsoek. Maar toe draai dit uit die briefie was eintlik bestem vir Gerhard Beukes, die dokter se seun met die knopbroek. Praat van ‘n teleurstelling. En vernedering. Veral toe ek by die fietsloods opdaag soos afgespreek en Gerhard en Elsie speel reeds soekie-moemfie!! Ek dink dis plus-minus wat hierdie week gebeur het in Hollywood toe die Oscar vir die beste moewie per ongeluk vir die verkeerde moewie se mense gegee is. Halfpad deur hulle dankie-toesprakies, toe kom dit aan die lig dat Warren Beatty en Faye Dunaway (beide 119 jaar oud in die skaduwee) wat die wenmoewie moes aankondig, die verkeerde koevert gegee is. Sulke bloos! Toe wen La La Land nie meer nie, maar Moonlight doen. Die laaste keer wat daar soveel verbaasde mense op ‘n verhoog saam was, was toe die stellasie waarop ons hoërskoolkoor moes staan ingegee het onder jare se Afrikaner-skuldgevoelens.
2. Smaak my jakkals PRASA sy eie stert. Hoe nou? Collins Letsoalo, waarnemende See-Eee-Ou van PRASA (die treinmense) het hierdie week gehoor hy kan maar sy sakke-pakke en fokof. Dit nadat hy klaarblyklik vir homself ‘n 350% verhoging gegee het. As you do. Weet nie watter stasie hierdie werfetters almal op is nie, maar daar is ‘n defnitiewe spoor van self-entitlement waansin.
3. Mens weet nie altyd watse navorsing mens kan opslurp as waar nie, maar blykbaar wys die nuutste studies onder olifante dat die natuurreuse net twee uur per dag slaap. Die slimjanne het toestelle onder die vel van die slurpe van olifante in Botswana ingeplant en bevind dat as die slurp vir langer as 5 minute nie beweeg nie, hulle veilig kan aanneem dat die loggelywe slaap. Om dit in perspektief te plaas… Bathabile Dlamini, ons Minister van Maatskaplike Ontwikkeling slaap al vir 4 jaar wat beteken dat komende 1 April, 17 miljoen Suid-Afrikaners wat aangewese is op maatskaplike toelaes nie weet of hulle dit sal ontvang nie. Dis reg, jongspan, sy weet al vir 4 jaar lank van die feit dat die huidige instansie wat die toelaes hanteer, se kontrak nie hernu gaan word nie en sy het niks daaromtrent gedoen nie. Daarom kan ons aflei dat omdat sy vir 4 jaar nie haar fokken brein gebruik het nie, sy reeds vir so lank al aan die slaap is.
4. Slim vang mos sy baas. In hierdie geval is Slim ‘n 39-jarige vrou van Pretoria wat haar as ‘n sangoma voorgedoen het. En die rol van Dom word gespeel deur ‘n vrou uit ‘n spogbuurt in die ooste van Pretoria wat alles wat die sangoma vir haar voorgesê het om te doen, slaafs gedoen het. So moes sy byvoorbeeld ‘n kluis aanskaf en met elke ritueel en saambid by haar huis, geld in die kluis sit. En sy moes haar oë toehou tydens die rituele. Nou, hou vas aan iets, want hier kom ‘n twist groter as die “Bruce Willis is ‘n spook” moment in daai moewie… die vrou het nou agtergekom die kluis is leeg. Jip. R400 000 is weg. You didn’t see that coming, did you? Die fop sangoma is intussen in hegtenis geneem en moes reeds in die hof verskyn. Haar versoek om hofverrigtinge met ‘n lang gebed te begin is van die hand gewys.
5. Die Spur-groep het ontken dat hulle binnekort ‘n drive-thru opsie by hul restaurant gaan bekendstel. Dit kom na ‘n toetslopie by die Spur in Jeffreysbaai nie suksesvol was nie. ‘n Tannie van in die 80s het haar petrol en haar briek verwar en met haar Nissan Sentra deur die Spur se een muur gebars. Die krimpie was effe geskok, maar gelukkig het niemand seergekry nie. Sy wou blykbaar eintlik Steers toe gaan, maar toe besluit sy on the spur of the moment om van plan te verander. Sulke lag.
Watkykjy staan op 3,083,244 post views in totaal sedert 1 November, 2019.