1) Navorsing in Australië het bevind dat komkommers van rockmusiek hou en om in slaapsakkies te slaap. Jy lees reg. Die Universiteit van Sydney het bevind komkommers wat na rockmusiek luister, het baie groter en meer reguit gegroei as die wat aan jazz- en klassieke musiek blootgestel is. Nou maak die term “komkommerkoel” ook heelwat meer sin. Dis natuurlik nie die eerste keer wat dit bewys is dat sekere tipes musiek meer op vegetables gemik is nie. Het jy al van die koolkoppe by ‘n Kurt Darren konsert gesien? En die pampoene by ‘n Steve show?
2) Goed wat ek al in Durban verloor het: My cool, twee argumente en ‘n onderbroek. Goed wat ek nog nie in Durban verloor het nie: Die Statebondspele. Maar moenie worry nie, ander mense het. Daar is hierdie week aangekondig dat Suid-Afrika die geleentheid verloor het om die Statebondspele in 2022 in Durban aan te bied. Dit kom na Fokkol Mbalula, ons Minister van Spot, vroeër die maand aangedui het Durban sal dit moontlik nie kan aanbied nie weens finansiële beperkinge. Sulke skaam. Ja-nee kyk, daai X5’e, Q7’s, Grand Cherokees en Mercs kos ‘n kleinhuisie. Actually kos dit ‘n groothuisie. Ons praat Nkandla-size.
3) Ander goed wat Durban hierdie laaste week verloor het sluit in ‘n baba en mense se simpatie. Dit nadat ‘n Durbanse ma die hele land se emosie aangegryp het toe sy aangekondig het haar kar met haar maand-oue baba binne-in is gekaap (gedurban?) Die hele fokken land het help soek en al lyk alle baba’s dieselfde, is ‘n foto van die kind wyd versprei op sosiale media. Maar toe ‘n kinkel! Die kind word in ‘n kar met twee volwassenes by ‘n tolhek opgespoor. En in ‘n skokwending groter as toe dit uitkom Milli Vanilli het nie self op hulle liedjies gesing nie, word die ma ook in hegtenis geneem. Kan jy dit fokken oorvertel? JA! Jy kan. Ek het nou net. Persoonlik sal ek die ondersoek bietjie uitbrei en Minister Bathabile Dlamini ook betrek. Einste sy wat reken mense gooi die baba saam met die badwater uit oor hierdie hele SASSA-ding.
4) Gepraat van… SIESA vir SASSA. Die hoofregter van die konstitusionele hof, Mogoeng Mogoeng het nie doekies omgedraai toe hy hierdie week na Minister Bathabile Dlamini as onbevoeg verwys het nie. Hy het haar daaraan herinner dat een van haar kernverantwoordelikhede is om toe te sien dat maatskaplike toelaes uitbetaal word en dat sy haar plig versuim het om 17 miljoen Suid-Afrikaners wat daarvan afhanklik is, die gemoedsrus te bied dat als okei sal wees begin April nie. Tans word gerugte ondersoek dat Dlamini ook bewus was van heelwat ander krisisse, maar niks gedoen het om dit te keer nie. Voorbeelde sluit in Nickelback se tweede plaat, die feit dat Wimpy se burgers altyd kleiner is as die prentjie op die menu en mense wat Coke by duur whiskey gooi. Sulke oor-die-vingers-geraps.
5) En die Suid-Afrikaanse Kar Van Die Jaar is die… Bloupil Astra. Opel. Bloupil. Selle ding. Deesdae is dit omtrent net krimpies en mans wat bloupille moet drink wat die Opel Astra aanskaf want die dae waar die Opel Kadett (onthou jy die Boss?) nog kon kompeteer met die GTI, is so verby soos die Parlotones se kans om ooit weer cool te wees. In fact, die laaste keer wat Opel die titel kon wen was in 1995, die jaar toe die Springbokke NIE nommer 7 op die wêreldranglys was nie. Anders as in 2017 byvoorbeeld. NOMMER 7!
Watkykjy staan op 3,057,592 post views in totaal sedert 1 November, 2019.