Hierdie is nie sommer net ‘n travel program of iets wat gemik is op mense wat bikes stukkend smaak nie. Dis ‘n moerse buddy adventure met Zander (Parow) en sy bra, Hardus Van Deventer. Die production is fokken slick, dis non-stop entertainment en ‘n goeie aanduiding dat Suid-Afrikaanse TV besig om die regte pad te loop met ons. Boonop maak hierdie reeks mens net lus om jou baas ‘n toffie te druk, leave in te sit en dieselfde roete deur Suid-Afrika aan te pak as wat hierdie twee brasse met hulle Harleys gedoen het. Ekself het SA al plat ge-travel en het geskiem dat ek al orals was. Duidelik fokken glad nie. Ek het bietjie met “Hardy Van Dee” gesels oor hierdie epic avontuur wat hulle aangepak het. Sekere beloftes is ook onverantwoordelik rondgegooi hier aan die einde rond, en nou het ek duisende getuies. Volgende keer gaan ek fokken saam…
So vertel my, Hardus, hoe en waneer het jy en Zander die eerste keer ontmoet?
Ek dink nie een van ons twee kan dit onthou nie. Dit was obviously in ‘n dingy bar erens besig om brandewynstories met mekaar te deel. Ek en Jaco Snake van Fokof is al vriende van voor Fokof faam en hy het my aan al die Bellville-manne voorgestel en die beste bars in Kaapstad natuurlik.
Dis pretty much ‘n fokken lang tyd. Hoe lank was julle ouens op die pad gewees en hoe vêr het julle ge-travel om Dis Hoe Ons Rol te shoot?
Ons was 30 dae op die pad en het so net kort van 6000km afgele.
Goeie fok, dis ampper driekeer die lengte van Suid-Afrika se kuslyn! Wie is almal in julle crew gewees en wie het wat gedoen job-wise?
Zander Tyler (Jack Parow) – producer en aanbieder
Hardus van Deventer (dis ek, haha!) – co-producer en aanbieder
Johan Nel – Director of Photography – hy het ook ons direct (Moeilike job, daai! Eissshhh!)
Nic van der Westhuizen – videographer
Jonothan Paizee – location Klank
Jaco Snake Venter – vibe manager en fotografie (sy fotos het so baie na die tafel gebring vir ons produksie)
Jaco Laubscher – Stitchpost (beste editor in die land)
Ek het nogal gedink julle editing is next level, ja. Verduidelik bietjie van die logistical kak – het julle like ‘n support kar of iets gehad? Dis nou eintlik ‘n fokken stupid vraag, want ek het intussen die eerste 5 episodes ge-binge watch
So hiers die vibe – VW het vir ons twee Caddies geborg om support car te wees. Een was ‘n gear kar en die ander een was ‘n crew kar – daai Caddies was amazing! Uit die gear kar het ons gefilm – Caddies se deure agter oopgemaak en Johan of Nic het actually hulleself dan vasgemaak en agteruitgehang om daardie amazing ryskote af te neem! Ons moes natuurlik baie kak saamry soos byvoorbeeld surf boards, rain gear, skateboards ensovoorts en natuurlik al die kak wat Zander langs die pad gekoop het. Hy love ‘n padstal!
Ja-nee, mens kan daai kokkelol met een van daai miniature “Hang Ten” Durban-beursies in ‘n wip vang. ‘n Klomp mense wat so saam travel op ‘n vêr pad is lekke,r maar op ‘n stadium maak iemand kak en iemand anders strip ‘n moer of drie. Wie het eerste kak gemaak en wie het eerste sy moer gestrip?
Hahaha! Funny you ask – nog niemand het daardie vraag gevra nie – bra, ons is ‘n klomp hardkoppige manne, so daar was so hier en daar ‘n niggle. Ek dink nie daar was ‘n spesifieke oomblik nie, maar eerder ‘n build-up van kak. Ek as ‘n TV regisseur kan nogals pushy wees om seker te maak ons kry die content wat ek dink ons nodig het. Zander is hoogs professioneel as dit kom by sy performances, so as iets nie loop soos wat hy dit verwag nie, kan dit wrywing veroorsaak. Ou Snakie (Jaco) het baie beteken vir ons op die pad – hy het immers jare se experience met Fokof op toere en het vinnig die vure uitgeblaas waar nodig.
Ja-nee, ou Snake. As jy hierso lees – jy is ‘n mooi mens en ons almal is baie lief vir jou. So, het julle enige ander kak opgetel? Noue ontkominge? Dalk van die bikes afgepoes oor ‘n oliekol of iets?
Yes ja, ons het ‘n drone shot geskiet by Outeniquapas en moes toe omdraai om nog ‘n skoot te kry. Ek het te skerp gedraai teen die styl opdraande en die bike omgegooi! Daar lê ek toe op die nasionale pad met verkeer van albei kante. Gelukkig was Zander daar om my te help en om vinnig weer die bike op te tel. Geen beserings gelukkig nie, maar ‘n brused ego. Tranksei was baie gevaarlik met mis en reën en dan natuurlik die potholes en taxis. Yoh! Bygesê, dit was wel van die mooiste paaie wat ons gery het.
‘n Adventure is nie ‘n adventure sonder ‘n bietjie kak en hare nie. Wat was julle absolute hoogtepunt gewees?
Hardus: Duik in Sodwana – SA het ongelooflike seelewe, die coral, kleurvisse en die stilte wat jy ervaar onderwater.
A-fokkenmazing Zander: Die bungee by Bloukrans – hy het nogals ‘n fear of heights en moet sê eks moerse trots op hom. Hy het elke liewe challenge gedoen en ge-pass met flying colours!
Haha, ja ek dink daai was in episode 3 of 4. Zander se hart het lekker kak gevreet met daai bungee jump. Wat was ‘n laagtepunt? Waar het julle moed bietjie skoene se kant toe getrek?
Vir my toe ek soos ‘n idiot my bike se ligte aanvergeet het by Sun City. Ons moes die oggend vertrek uit Sun City en toe deur Magalies (iconic bike roete) deurskiet na Pretoria. My bike moes toe op die trailer en ons moes toe in Magalies die battery gaan charge. In terme van die produksie dink ek ons sou graag langer by van die plekke sou wou bly om dalk ook ander stoppe maak, maar dit was ongelukkig nie moontlik met so tight schedule nie – the show must go on…
Bike ligte aanvergeet is sulke laerskool mistake, my ou. Aan watter ander productions werk jy tans?
Op die oomblik skiet ek vir Top Billing waar ek direct en ook van die insetsels vervaardig – ek skryf ook aan ‘n nuwe realiteitsprogram wat hopelik later in die jaar bekend gestel sal word. En dan natuurlik season 2 van Dis Hoe Ons Rol
Ek wou nou juis vra oor planne vir season 2, want daar moet ‘n fokken season twee wees…
Vir seker! Ek en Zander is baie opgewonde om ‘n tweede seisoen van DHOR te doen. Daar is nog so baie om te ontdek en te verken in ons land en wie weet, miskien dalk sommer ons buurlande te gaan besoek. Ek wou nog altyd ‘n bike deur Namibië ry.
Jy gaan dune buggies moet vat vir Nam. Daar is net fokken sand. Wat sal jy anders doen of byvoeg met ‘n tweede season?
Ek dink ie ek sal iets wil byvoeg nie. Ons show gaan oor twee tjommies wat die ultimate roadtrip aanpak. Dit gaan oor die ervaring en daar is nog so baie daarbuite om te sien, aan te pak en mense om te ontmoet along the way. Nou is ek sommer lus om dadelik weer op die bike te spring!
Bietjie van ‘n techy question – waste gear het julle gebruik om mee te film?
2 x Sony A7s mark2 kameras – dit was wonderlike kameras in low light en het dit daardie cinematic feel gegee waarvoor ons gesoek het. En dan ons action cams was 2 X GoPro Hero 4 Blacks asook 2 X GoPro Session kameras wat ons geborg gekry deur GoPro Suid Afrika (World of Heros South Africa). Sonder die kameras het ons nie ‘n show gehad nie.
Bietjie minder van ‘n techy vraag, maar steeds related – hoe skiem jy help ‘n company soos Showmax ouens soos jy in die TV en -filmbedryf?
Ons lewe in ‘n era waar mense hulle gunsteling programme nie net op TV kyk nie maar op selfone, laptops, tablets ensovoorts . Om op hulle platform te wees beteken iemand kan ons program enige tyd geniet. Hulle het ook vir die vertaling (subtitles) betaal uit hulle sak sodat ons program deur enige iemand kan gekyk word. Omdat Showmax ook ons op hulle Internasionale Platform gehad het, beteken dit dat selfs buitelanders ook dit kon sien. Ek het al boodskappe gekry uit Australië, Canada en selfs deur Springbokke wat rugby oorsee speel wat sê dat hulle ons roete deur SA self gaan aanpak. Dit is Alles!!!
Jy weet as julle hierdie ding in Amerika doen moet ek fokken saamgaan. Want ek het Route66 gedoen en ge-document oor ‘n maand lank. O ja, en ek het ‘n fokken drone ook. Gaan jy regtig nee tune vir so iets?
NO ways!!! Jy’s in!! Dit is die droom… Vir seker! Dink nie DHOR sal ooit klaar wees voordat ons deur Amerika was nie. Hoop net Trump sal ons toelaat 😉
Wat kyk jy?
Ek kyk nie terug nie!
Piele antwoord! En julle outjies wat hier lees sal ook nie terugkyk as julle eers die reeks gekyk het nie. Dis nogal inspiring en maak ‘n mens fokken lus om net ‘n sak te pak en deur Suid-Afrika te gaan reis. Sign sommer nou op vir jou 14-dae free trial. Jy sal hierdie reeks in ‘n aand of twee sommer wil deurkyk. Daar is 10 episodes.
Watkykjy staan op 3,084,301 post views in totaal sedert 1 November, 2019.