1) Die arme fokken Kurt Darren. Weer nie benoem vir ‘n Grammy nie. Wat? Jy dink dis far-fetched? Well pappie, Be-fokken-yonce is benoem in die Rock kategorie. En skamel-geklede Rihanna se Pullitzer-worthy “Work” is benoem as Record of the Year. Vreemder goed het seker al gebeur. Soos my droom oor daai antie van die kafee op die hoek met die snor. En mense wat hul kinders Gotliep noem. Maar hel. Bewysstuk A: “Work, work, work, work, work, work You see me I be work, work, work, work, work, work You see me do me dirt, dirt, dirt, dirt, dirt, dirt There’s something ’bout that work, work, work, work, work, work When you a gon’ learn, learn, learn, learn, learn, learn Me na care if me tired, tired, tired, tired, tired, tired.” Ja dis catchy. Maar so is kinkhoes.
2) Die kinders is die moer in. Heel jaar hulle gatte afgewerk en ge-Pythagoras en ge-woordsom. En nou hoor Graad 7 – 9 leerders dat hulle net 20% nodig het in Wiskunde om aan te beweeg na die volgende graad in 2017. En dit na dit laasweek bekendgemaak is dat Suid-Afrika se Graad 5 – 9 leerders in die bottom 5 lande ter wêreld is wanneer dit kom by Wiskunde. Maak jy maar self die somme, maar my berekeninge wys ons is kollektief gefok.
3) Dit blyk of ANC-lede die groep mense in die land is wat meeste vatbaar is vir geheueverlies. Dit kom na die DA burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, hierdie week (die redelik onverskillige) opmerking gemaak het dat immigrante wat sonder die nodige dokumentasie in Johannesburg woon, met kriminele aktiwiteit verbind word en gedeporteer moet word. Nou wil ons comrades die man verkla by die Menseregtekommissie. Dieselfde comrades wie se vreeslose leier in April 2015 die volgende kwytgeraak het: “As much as we have a problem that is alleged to be xenophobic, our sister countries contribute to this. Why are their citizens not in their countries and are in South Africa?” Ek persoonlik dink dis tyd dat Tannie Carike se betrokkenheid by alles ondersoek moet word aangesien dit sy was wat almal so vriendelik uitgenooi het met lirieke soos:
“Daar’s ‘n land aan suiderkant kom deel in sy verhale
uit die ooste weste noorde suide toegebring
Dis ‘n land met milde hand wat uitreik telkemale
om die hoop van more te besing.”
4) Dis darem altyd lekker om ‘n stukkie positiewe nuus raak te lees. Soos die storie van die student, Eldrich Engelbrecht, wat in Pretoria deur ‘n motoris van sy motorfiets afgestamp is en taxi-bestuurders wat laer getrek het met hul taxi’s om te keer dat ander voertuie hom raak ry… soos die feit dat ‘n passassier in een van die taxi’s ‘n paramedikus was en hy dadelik Eldrich begin behandel het nadat hy ‘n ambulans ontbied het… soos die feit dat nog ‘n passassier uitgespring het en luidkeels verkondig het dat hy weet wat Juanita du Plessis se Ska-rumba lirieke beteken… soos die feit dat ‘n voetganger so geïnspireerd was deur alles wat sy gesien het dat sy haar werk by ‘n telebemarkingsindikaat bedank het en belowe het om op te hou om mense wat sy nie ken nie te bel en kak aan hulle te probeer afsmeer… daar is hoop mense. Hierdie is ‘n fantastiese land! Ons kan dit doen. Ja! JA! (Nota aan myself: maak vensters oop wannneer ek met Spray n Cook werk).
5) In ‘n verrassing groter as die einde van ‘n Afrikaanse romantiese fliek waar die outjie met die drie nipples (gespeel deur Ivan Botha natuurlik) en ‘n plaasmeisie met ‘n lisp (wie anders as die nimlike DonnaLee Roberts) mekaar vind, is Donald Trump aangewys as Time Magazine se Persoon van die Jaar. Hy pryk (pruik?) op die voorblad met sy rug na die kamera (en Mexiko) gekeer terwyl hy so omloer soos die duiwel in die kinderbybel. Die ander benoemdes het Steve Hofmeyr, Dan Roodt, ons Minister van Spot, Fokkol Mbalula en die 2016 Koeksuster-koningin ingesluit. Okei nie rêrig nie. Fok. Daai Spray n Cook is potent, pappie…
Watkykjy staan op 3,056,548 post views in totaal sedert 1 November, 2019.