1) My ma het altyd gereken mens moenie iemand anders op hul baadjie takseer nie. Maar as daai baadjie ‘n koeëlvaste baadjie is, dan moet mens maar aflei die persoon is bang hy word gekwes. En as daardie persoon Steve Hofmeyr is, dan moet mens wonder hoekom ou grootbek skielik so bang is? Sy uitverkorenheid het duidelik bedreigd gevoel terwyl hy ‘n leerskare karavaankinders op Kerkplein in Pretoria toegespreek het en onder andere uitgevaar het teen Zuma, Malema, Mmaimane, swartkoppies, swartgalligheid, swartsakke, swarte-krag, swartwoudkoek en swartpeper.
2) Hoe weet jy een van jou eie dissipels gaan jou in die rug steek? Drie keer se hanekraai? Nee pappa. Hanekom. Derek Hanekom. Die Minister van Toerisme het sy stem dik gemaak oor Zoom-zoom en probeer om ander ANC-lede te kry om hom te steun. Daar was een of twee, maar die comrades het hulle almal weer agter die leier geskaar. Sulke pissies. Dit vat baie vir ‘n wit man om applous van die EFF te kry, maar Hanekom het dit vermag met sy brawe besluit.
3) En daar vergaan onkruid toe wel. In-Fidel Castro, die voormalige Kubaanse president en algemene siek bliksem, is hierdie week dood in die ouderdom van 90 jaar. En die ANC en die EFF huil sulke lang trane want hy was soos hulle Helen Zille… geliefd in sekere gelede maar algemene kakmaker. Ja sure, hy het ‘n rol gespeel in die stryd om Suid-Afrika apartheidvry te maak. Maar mense kyk met oogklappies na wat alles in sy eie land aangegaan het en hoe enigiemand wat van hom verskil het, gedwing is om na Celine Dion te luister (*verification needed.) Sy mees impressive achievement? Hy het meer as 600 sluipmoordpogings oorleef. Maar toe verstik hy aan ‘n Jager-bomb. (*verification needed.)
4) Wat is die verskil tussen Suid-Afrika en Wallis? 14 punte. Almal se ergste vrees (naas bumping into Jurie Els by die Spar op die hoek) het toe waar geword. 27-13!!! Die Bokke se 8ste afkak vir die jaar, hierdie keer teen Wallis, is een vir die annale. En die anale. Want sulke poef.
5) Baasspeurder Piet Byleveld het klaarblyklik aansoek gedoen om sy naam te verander na Piet Skoonveld. Nog meer beweringe rondom mense wat hom geld betaal het om die verdwyning van geliefdes en mak hamsters te ondersoek, het aan die lig gekom. En die geld is skoonveld. En die resultate is skoonveld. En Piet, asook sy prokurowers, is so stil soos ek was toe ek die eerste keer ‘n Nicholis Louw musiekvideo gesien het en gedink het “Is dit waar al die verlore kouse heen gaan?”
Watkykjy staan op 3,056,164 post views in totaal sedert 1 November, 2019.