1) Jy sal nooit in ‘n miljoen jaar kan raai met wie Oros, ons Minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo hand om die blaas is nie. Raai-nou. Toe, Rhino. Guan Jiang Guang. Wie hy? ‘n Selferkende Chinese baasbrein renosterhoringsmokkelaar met sy eie masseersalon in Mbombela waar Mahlobo skynbaar gereeld besoek afgelê het. Dit aldus Guang in ‘n onderhoud met Al Jazeera (fok, moet die scoop van die jaar wees vir hulle). Maar Mahlobo ontken hy het geweet die plek van plesier behoort aan Guang. En nou na al sy manicures is die naels uit vir Mahlobo om te bedank. Of om ten minste mediese wetenskap te help deur te wys hoe jy iemand se rug masseer wat nie ‘n ruggraat het nie.
PS: Ons weet Collen Maine se naam is eintlik Oros, maar Mahlobo is net so ‘n vet fok, so nou is hy ook sommer ‘n Oros.
2) Beslis nie ‘n goeie week gewees vir Oros nie. Sy dae van die dorp op horings neem is stadig maar seker besig om af te kak. Nadat hy in die parlement ontken het dat hy die omstrede studenteleier Mcebo Dlamini ken, het ‘n video aan die lig gekom waarin hy self sê dat hy Mcebo ken en dat Mcebo al ‘n paar keer by hom aan huis was. Liar liar, size XXXL pants on fire!
Minister Mahbolo says he is not responsible for the arrest of Mcebo Dlamini, says Dlamini has been even visited his house many times #ISS pic.twitter.com/mv7bbwxee8
— Jameel (@indie_impimpi) November 14, 2016
3) ‘n 28-jarige man van Tzaneen wat hierdie week bietjie kinky-kinky wou raak het sy naam letterlik tottie gemaak. Vriende reken hom mos toe hy moet sy trouring om sy peester trek vir verhoogde seksuele gratifikasie. Fok, met vriende soos syne, wie het vyande nodig? Nou, ek wil nie snaaks wees nie, maar óf die man het die grootste fokken vingers in die land of die kleinste tros. Either way, die eksperimentjie loop toe skeef en sy lallie swel toe op soos my Oom Bertus na 3 rum-en-cokes. “Maar wag,” dink hy toe by homself, “ek kan my naam nog meer vergat deur my ma te vra om met my hospitaal toe te jaag.” Sulke ellende. Ek vermoed geen dokter in die geskiedenis moes al sy lag so probeer wegsteek soos die arme drommel wat ons held weer voëlvry moes maak nie. Boonop kan Katotterman blykbaar ‘n stywe rekening verwag.
4) “Raait ouens, Engeland… kom aan boys… wat het ons om te verloor?” Na hul loesing teen Engeland, is die enigste ding wat die Springbokke oënskynlik nog nie hierdie jaar verloor het nie hul sin vir humor. En die doemprofete voorspel reeds ‘n verdere pakslae teen Italië hierdie naweek. Nou kyk, verloor is nooit lekker nie. En wanneer jy 6 brannas sterk staan, is enige Bok-supporter redelik gefokken-challenge om positief te bly. Maar wat ons kollektief as ‘n nasie tans goed regkry is om ‘n hele geslag skoollaaities te ontnugter met ons wen-is-nie-alles-nie-tensy-jy-verloor mentaliteit. Die Bok sal weer sy kop optel. En dan behoort jy jouself op die skouer te klop omdat jy daar was vir die span in hul uur van nood.
5) Enigiemand wat gehoop het dat rassisme in Suid-Afrika dood en begrawe is, het hierdie week maar net weer besef hulle leef in ‘n wêreld waar wit en swart en bruin kindertjies handjies vashou en in slow-mo deur groen velde hardloop terwyl Juanita du Plessis se treffers in die agtergrond op panfluit speel. Twee dom donners (wit natuurlik) van Middelburg het ons reënboogdroom ‘n kishou toegedien toe ‘n video op sosiale media beland het waar hulle ‘n swartman dwing om in ‘n doodskis te klim, skynbaar omdat hy op hul plaas oortree het. Die video wys hoe hulle dreig om die kis met die man binne-in toe te maak en aan die brand te steek. Dit vat ‘n spesiale tipe stoepid om so iets te doen en dit te verfilm en dan op sosiale media of die interwebs te gaan laai. ‘n Geval van dom vang sy baas. Die twee belhamels het reeds in die hof verskyn en gevra dat hulle nie borgtog moet kry nie. Want sulke bang vir hulle lewens. Sug.
Watkykjy staan op 3,101,745 post views in totaal sedert 1 November, 2019.