Deur Potskerf Potgieter
Vir ‘n lang ruk het ek hierie moerse wroeging binne-in my gedra. Ek het ‘n groot teenkantsbeweging, ‘n tipe van eenman terroriste organisasie sonder enige”ammo” teen Koos Kombuis geloots. Immers was dit sy toedoen dat ek een van my grootste wroegings moes uitwroeg. Soos ‘n recce in die nag gewapen met net ‘n kitaarsnaar en ‘n blikkie bulliebeef het ek iewers in 1992 my anti-Koosisme beweging begin. Ek kon nie wag om my nuut selfgeskepte “Koos is ‘n Doos” T-shirt vir die mense van Sunnyside te wys nie. Tot my groot ontnugtering het meer as wat ek op ge-bargain het my voor gekeer in Sunnypark en in Esselen straat met die volgende vraag: “wie die fok is Koos?”. Ja jy het reg gelees, nie: “who the fuck is Alice?” nie, maar “wie die fok is Koos?”. Meeste van hierie gesprekke het as volg uit gedraai:
“Hey my bru!”
“Yes!!” met ‘n moerse tevrede smile
“wie die fok is Koos?”
“Koos Kombuis man!” my smile nou minder tevrede
“wie die fok is Koos Kombuis?”
“Dis die doos wat Johannes Kerkorrel probeer wees!” my smile nou feitlik non-existing.
“wie die fok is Johannes Kerkorrel?”
“Nee my jissus man, hoe kan jy met my Afrikaans praat en nie weet wie Johannes Kerkorrel of Koos Kombuis is nie!!” my smile het nou in ‘n vertikale posisie van my mond na my voorkop verskuif.
“dis nie nodig om die Here se naam fokkin ydelik te gebruik nie – ek vra net, Fok!”… en omtrent ‘n halwe kakhuisie vol variasies van bogenoemde.
Nou het ek in ‘n dilemma beland – om my haat teenoor Koos uit te spreek het my nou begin irriteer, want in plaas van die “kitaarsnaar” te gebruik om Koos stadig te verwurg het ek begin vasberade raak om die ding op Sunnyside se mense te gebruik. Ek het nou met een van twee keuses gesit: of ek trek na ‘n ander neighbourhood wat vir Koos beter ken en paradeer my Koos T-shirt daar (‘n moeilike een want ek bly huur-vry in my pa se flat in Gerhard Moerdykstraat Santa Maria woonstelle nommer 606), of ek drop die hele anti-Koosisme ding. DIT was close onmoontlik want al my vriende het teen die tyd kennis gedra van my hate relationship met hom. Almal het geweet ek profeteer dat die hele Koos-aktivis-anti-regering ding net ‘n moerse show is om te probeer famous raak. Amper soos die KISS make-up – kak musiek maar cool make-up. Almal het geweet ek profeteer dat dit mense soos Koos is wat Alternatiewe Afrikaanse musiek so repeterend soos techno gaan laat begin klink.
Bly sal ek bly by my geloof – sowaar as wat publieke kakhuisdeure slotte vermis sal ek hierrie veldtog deurdruk. Ek het dit ten goede gedink om heelaas my blikkie bulliebeef met Mrs Balls se hot chutney te verorber en my kitaarsnaar op te hang voor iemand seerkry. En so het my fase van geheelonthouer begin. Doelgebonde het ek my strategie van in-your-face Koosisme-haat-verkondiging verander na ‘n totale weerhoudingsaksie. Ek sal nie Koos luister nier! Ek sal nie Koos lees nie! Ek sal nie Koos praat nie! Ek sal nooit, ooit en verewig (bedoelende fokken lank van nou af) Koos koop nie! Dit sou alles goed en wel kon realiseer, het ek nie die nuwe Koos CD, Niemansland en Beyond in ‘n geweefde grasmandtjie voor my voordeur een oggend ontdek nie, met twee rooi rosies en ‘n nota op die voorblad: “Gelukkige Verjaarsdag. Kobus. Ek is nog steeds lief vir jou. Jy weet wie!” Wie die fok is “Kobus”? So het my moerse soektog na “Kobus” begin. Helikopters, die Taakmag, die FBI, die CIA, die hele Santa Maria blok woonstelle. Plakkate het opgegaan: “Kobus, kom haal jou CD by my: Santa Maria 606.” Hierrie soektog het die Osama sage na wegkruipertjie laat lyk.
Alles vergeefs, Kobus het nooit sy CD om haal nie. Die feit dat ek nou met ‘n Koos CD sit wat ek nie gekoop het nie en wat nie myne is nie en wat ek nie mag luister nie en waarvan ek nie die woorde mag luister nie het my gewroeg. Probleem nommer drie het sy kop uitgesteek: “Jissie bru, ons check jy het ‘n Koos Kombuis CD ge-shop!” “Is jy uiteindelik oor die Koos ding?”
“Nee fok man, dis nie myne nie!”
“Wie s’n is dit?”
“Dis Kobus s’n”
“Wie’s Kobus?”
“Ek weet nie! Dit was in ‘n mandtjie voor my deur, soos die Moses babatjie innie Bybel”
“Koos is besig om jou te haunt my bru!”
“Moenie fokken belaglik wees nie!”
Dit het my letterlik maande gevat om van die CD te probeer ontslae raak. Eckard by Mainline Music wou nie die ding hê nie want daar was “Gelukkige Verjaarsdag” op die cover geskryf. Ek het vir eers vir Eckard probeer soft talk deur voor te stel dat ons ‘n kleurkopie maak van ‘n bestaande kopie in sy winkel. Dit het natuurlik op dowe ore geval. My volgende voorstel was dat ons 50/50 in ‘n handtekening-fraud-scam ingaan deur Koos se handtekening te vervals op die voorblad saam met die: “Gelukkige Verjaarsdag”. Die laaste voorstel het Eckard in ‘n “doos” laat verander. Ek kon nooit weer CD’s by Eckard se shop gaan koop of verkoop nie. Fok vir Eckard – ek kan van hierdie CD ontslae raak sonder hom. Dieselfde storie het by Jan se vlooimark stalletjie te Sunnypark uitgespeel. Ek het wel die handtekening-fraud idee ‘n skip gegee!
My meisie wou dit nie hê nie want sy is Engels en dit kom glo van een van my ex’s af. My pa reken dit is godslasterend (ek kon nie met hom redekawel nie as gevolg van die feit dat ek nog nooit na die ding geluister het nie). My boetie was into Black Sabbath en Uriah Heep, en volgens hom is Afrikaanse musiek kak and that’s it – die einde van die storie. My sussie is ‘n groot Rina Hugo, Karen Houghaard en Modern Talking aanhanger – hier het ek maar skuins voor die tuinhekkie verby gehou. Ek het geweier om enige van my vriende aan Koos bloot te stel (alhoewel meeste van hul alreeds ‘n kopie besit het). Die laaste uitweg was Joe, die tuinjong wat Santa Maria se patchie gras so lowergroen en mooi gesny gehou het. Vol hoop nooi ek hom vir ‘n koppie koffie en begin my storie vertel van hoekom ek vir hom ‘n Koos CD wil gee – die hele anti–Koosisme tot die CD-innie-mandjie-storie. Joe was moerse in sy noppies met sy nuwe toevoeging tot sy reeds bestaande collection van vyf CD’s, en kon my nie genoeg bedank nie. Alles was wel tot die volgende oggend toe ek die CD in my posbus kry met die nota: “danki ver di mesik maar det es kak – Joe”
So staan ek toe weereens voor die teologiese gevurkte pad waarna Led Zeppelin in Stairway to Heaven refereer (ek verwys graag na die normale version, nie die backward masked version soos opgesskryf deur Rodney Seal nie). Moer ek die CD weg of breek ek my eie lewensmaatstaf en luister daarna (miskien was my pa reg)? Moer-weg is nie ‘n goeie opsie nie – CD’s is immers erg duur en daar is kinders wat sonder kos gaan slaap! Is dit so verkeerd om net ondersoek in te stel? Gaan my vriende uitvind as ek dit doen? Gaan God kwaad wees omdat ek geknak het onder die druk; dalk straf Hy my dat ek nooit ‘n jackpot by ‘n casino wen nie of erger; Hy breek my kar dat ek nie meer dronk girls van The Shaft af ‘n lift huis toe kan gee nie.
Ek het stadig begin met eers net Liza se Klavier want immers klink dit soos iets wat Koos Kombuis by Koos Doep gesteel het. Stadig maar seker het ek die cover begin bestudeer. Eers net die agterste gedeelte Oos wes, Koos bes! – dis hier op die agterblad wat ek tot my skok besef het Johannes Kerkorrel was betrokke op hierrie album op backing vocals en klavier. Nou ja, what will be will be. As God my kar wil breek moet Hy, as my vriende my wil mock, moet hulle. Dit was soos fyndraai: ek kon nie nou meer omdraai of briek aandraai nie – die nuuskierigheid was te groot. Ek het geskiep na Kaalvoet en ’n Boer Maak ‘n Plaat begin lees. Op hierrie stadium was ek hooked. Een na die ander song het gevolg: Paranoia was my favourite en toe Kaalvoet en toe Onder in my Whiskeyglas en toe Swart September toe word Paranoia weer my favourite en so aan en so aan…
Wonder bo wonder het God nie my kar gebeek nie, my vriende het my nie gespot nie – alles was dieselfde. Dronk meisies het ‘n lift huis toe van The Shaft af gevra, my broer was nog steeds hooked op Sabbath en Heep; my sussie het die nuwe Rina album ge-shop en Joe het na vier weke weer met my begin chat. Alles was wel tot Koos eendag saam met een van my buddies kom kuier het.
Koos was ‘n nomaad, en paar maande gelede het hy vir ‘n kort maand by ‘n neef in Santa maria 506 gebly. Sy regte naam was Kobus van Heerden!
“My Koos Kombuis CD is eintlik Kobus s’n” het ek by myself gedink. Aanvanklik het ek besluit om die hele “Kobus-se-CD-ding” geheim te hou, maar my gewete het op die einde die upperhand gekry.
Een aand by Farm Inn besluit ek toe om Koos te nader:
“Kobus, sorry ek bedoel Koos – het jy ‘n babe?”
“Nee …”
“Het jy al ‘n babe gehad?”
“Jip”
“Het julle uitgemaak?’
“Jip”
Hierrie fokken ou was definitief nie lus om enige soort van conversation met my aan te knoop nie!
“Sê my Koos, like jy van Koos?”
“Hou ek van myself?”
“Sorry, nee ek bedoel die sanger Koos!”
“Koos Doep het lekker poetry geskryf, maar ek dink sy musiek suck”
“Fok, hierrie is die langste sin wat ek die ou nog hoor uiter het vir die aand” – dink ek.
“Sorry, nee ek bedoel Koos Kombuis”
“Kyk my bru, ek is into Death Metal – Koos Kombuis is fucked up!”
Net daar strip ek my moer vir Kobus van Heerden. Hoe durf hy insinueer Koos Kombuis is ‘n doos. Fok hom! Hy is die doos! “Hy kan fokken vergeet daarvan dat ek sy CD vir hom gaan terug gee” dink ek, terwyl ek met ongeloof na hierdie ou in sy KISS T-shirt staan en kyk. Ek’t besluit om nie verder asem te mors op ‘n Afrikaanssprekende breindood individu wat nie eens die ooreenkoms tussen poetry en musiek ken nie.
So het my wroegings met die Koos’e van die wêreld tot ‘n einde gekom. My buurman se rifrug se naam is Koos, maar ek en hy kom baie goed oor die weg, en hopelik bly dit so.
Koos (dis nou die Kombuis een), ek hoop jy het dit in jou om my te vergeef vir enige CD sales wat ek negatief mag beïnvloed het met die release van jou Niemandsland en Beyond CD.
Vergewens Groete
Potskerf
Watkykjy staan op 3,092,709 post views in totaal sedert 1 November, 2019.