Welkom terug by Rolbees reviews Marabse! Julle is seker almal nou platsak, spekvet en lewerloos. 2016? Goeie fok, dit voel bietjie soos sci-fi. Die-jaar-tweeduisend-en-sestien. Kom ons time travel bietjie weer terug in tyd om die jaar behoorlik af te skop. Nie met ‘n DeLorean DMC-12 nie, fok. Met musiek. Dis nou as jy gelukkig genoeg is om hierdie versamelstukkies in jou versameling te hê – of as jy dit iewers in die hande kan kry. Sit dit op en mindmelt weer telepaties met die idees en vibes wat jou vryheid van denke help brrrrei het. Die fok weet ons het weer sulke protes tunes nodig in 2016. Nie die Steve Hofmeyr tipe nie, by the way. Die eerste album is Die Naaimasjiene Live by Oppikoppi en die tweede juweeltjie is Voëlvry: die toer – met musiek van Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand. Need I say more? Hierdie CDs is skaarser as hoendertanne en deel van alternatiewe afrikaanse musiek se geskiedenis – so ek gaan nie eens probeer om punte te koppel daaraan nie.
Die Naaimasjiene Live
Die show is opgeneem in 1996 by die Oppikoppi se Moeritboeti-festival. Seker daarvan julle weet waar daai plaas is. As jy nie die Naaimasjiene ken nie is die eenvoudigste manier om hulle musiek te beskryf blues, folk, reggae en rock met sosiale kommentaar wat sedebewakers nou nog in hulle broeke laat kak. Daar was dertien artists op die stage gewees daai aand. Een mase orgie! Behalwe vir die Naaimasjiene self was daar ook ‘n paar random guest artists soos Ampie Omo (onthou julle Boo!?) en David Poole (onthou julle die band Dorp?) op stage. Een van die hoogtepunte was tydens ‘n Blommie Rosekrans kitaarsolo in die middel van die song Raai-raai. Een van die backup singers Misty (van die Yskasterte) het die welbedeelde danser Toyboy se klere stadig en sensueel van sy lyf afgetrek totdat hy net in ‘n wit onderbroek gestaan het. Daarna het sy, sy hele lyf vol bodypaint geverf. Toyboy se hooflid het blykbaar nuuskierig by sy onderbroek begin uitgeklim. Harde tye gewees daai.
Die Naaimasjiene was nooit skaam om kak te maak en kontroversie te veroorsaak nie. Hulle album Die Saai Lewe wat in 1990 record is, is deur die Direktoraat vir Publikasies verbied vir besit en verspreiding. Was dit hulle naam of die song Kwêla vir Mandela wat almal afgepis het? Of die woord ‘naai’ dalk? Of was dit net hulle totale weersin teenoor die Afrikaanse kultuur van die tyd? Of was dit Anneli van Rooyen se pa wat nie van Theunis Engelbrecht (aka Randy Rambo) se resensies gehou het nie en hulle gaan verkla het? “Afrikaner volksvermaners……”.
Anyways, hulle moes daarna ondergronds gaan en het hulle naam verander na die Naaimasjiene toe – en dis probably hoekom my generasie nie vir Randy Rambo en die Rough Riders so goed ken nie. Ons was nog te jonk om live shows te gaan check. En tog het ons die Voëlvry compilation (release in 1986) in die hande kon kry en sat geluister in 1990. Jong Dames Dinamiek was op daai legend album en is steeds in my psige verweef. Selfs deesdae as ek dames ontmoet wat die profile pas, mindmelt ek met die song en is dit die res van die dag ‘n oorwurmpie. Ja daar is nog baie sulke skêre.
So watse ander kief tunes is op die CD? In die tradisie van alternatiewe Afrikaanse musiek van die laat tagtigs en vroeë negentigs is die hele show ‘n weerstand teen die Suid-Afrika van daai tyd. Almal loop deur: die regering, die army, Vrystaatboere, die fokken plaas, Menlopark, Johannes Calvyn en nagmaalwyn. You name it. Songs soos die Generaal wou gaan opsit, Girlfriends in die Wimpy bar en Ek gaap laat my terugdink met nostalgie aan hoe kak dinge eintlik was daai tyd. Jirre, ons kom al ‘n lang pad van twee dekades terug. Miskien moet ons dit waarvoor hierdie bras gestaan het meer onthou as ons in 2016 op social media stry oor die politieke conundrums van ons tyd. Wat sou Randy Rambo se oplossing wees vir al die politieke struweling deesdae? Wel die song Raai-raai beklemtoon dit duidelik. As die sisteem jou afpis, is die oplossing warm stomende seks! En as die sisteem jou deur die ore naai – naai die sisteem eenvoudig terug! Soos om Gé Korsten se song, Liefling ‘n meer realistiese make-over te gee. Mmmm… wil jy nou meer? Die woord “naai” rym met “raai-raai”,”slaai”, “saai”, “eye” en “wegwaai”. Hoe kon so produktiewe woord ooit verban word? Die Saai Lewe is darem in 1997 ontban maar het ‘n ouderdomsbeperking van 18 gekry. Really? Ek het 2-16 movies gehuur by die video shop op die hoek in 1986 (toe ek 11 was) wat meer eksplisiet was.
Voëlvry – die toer
Nog ‘n live (landwye) toer wat my generasie met net ‘n paar jaar gemis het. Ons was so 13 of 14 jaar oud en niemand het daai tyd dronk laaities gelike by shows wat oor alles kots nie. Om eerlik te wees, ons sou nie eens geweet het waar om die bras live te gaan check nie. Almal het hulle eie opinie oor die effek van dié beweging destyds en hoeveel dit die Afrikaanse samelewing beïnvloed het. Koos Kombuis is van mening dat “Indirek, as gevolg van Voëlvry, is daar vandag ‘n ontploffing van local musiek, ‘n swetterjoel kultuurfeeste, ‘n opbloei selfs in die letterkunde en alle kunste.”
Ek stem saam behalwe vir die woord “indirek”. My beskeie opinie is dat dit al fokken nasionale identiteit was waaraan meeste van ons gatvol jeugdiges kon vasklou in die negentigs. Dit het selfs later van ons ouers beïnvloed om meer gematig te dink. Miskien kan mens die woord “indirek” hier gebruik.
Alternatiewe afrikaanse musiek was net so cool soos Nirvana vir ons. God, vir die eerste keer kon ons rock in ons eie taal. Eweskielik was Radio 5 nie meer so cool nie. Maar hoe het dit by ons jeug uitgekom daai tyd as meeste van die musiek verban was? Soos alle goeie gewoontes het dit van rebelse ouer broers en susters afgekom. Of jou vriende s’n. Ek dink ek en my tjommies het eers in 1992 begin om Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band en Bernoldus Niemand se musiek pal te luister. Op sulke fucked up kassette gecopy. Toe Eet Kreef net berug geraak het was die regering, kerk en onderwysers up in arms. Om die Sondagmiddag eetkamertafel was dit verdoem tot die hel. Maar time travel net ‘n paar jaar vorentoe. 1993/1994 se kant. Teen daai tyd was Johannes Kerkorrel lankal vergewe oor hy die Bothas so sleg gesê het, sy uitlatings dat die kerk ‘n drag is en sy overall anatgonisme teenoor deursnit Afrikaners. Hel, sy musiekvideos was gereeld op die TV. Daai musiekvideo van Ry sal ek ook nooit vergeet nie.
In 1993 het Johannes Kerkorrel by skole in die oostelike voorstede begin optree. Wat? En jy kon selfs die Bloudruk CD in dieselfde Afrikanergesinne wat Eet Kreef so beledig het se collection bespeur. Why the change of heart, Tannie? Ag, want Somer is dan so mooi liedtjie. Meanwhile het ons grungekoppies stukkend gesuip en gerook geraak met songs soos Revolusie en Persreën in die agtergrond. Ons het selfs André le Toit se kortverhaal, My Pa se Huis in matriek as voorgeskrewe werk gehad. Dit klink na klein dingetjies, maar dit was nie. Dit was die tye van Boipatong, die AWB-moorde in Bophuthatswana en die lang pad tot en met Madiba se inhuldiging as President.
Die Voëlvry-beweging het my generasie hoop gegee in daai tyd. En hulle boodskap is nou meer relevant as ooit. Gaan luister net weer na songs soos Sit Dit Af, Paranoia in Parow-Noord, Hou my Vas Korporaal, BMW, Almal Moet Gerook Raak, Autobank Vastrap, Lied van Ou Afrika, Snor City, Barend Vat Ons Geld ensovoorts. Jy sal vinnig agterkom wat die Voëlvry-beweging se oplossing is vir 2016 se kak.
Hou op om ‘n dom poes te wees en bou die nasie! Of so iets…
Watkykjy staan op 3,090,244 post views in totaal sedert 1 November, 2019.