Een dag, lank lank gelede, was daar in ‘n ver en vieslike plek genaamd die Vuildriehoek ‘n grindcore band met die naam Groinchurn. Hulle het baie mooi en baie vinnig en baie hard gespeel en die wêreld getoer. Dit was baie lekker. Maar een donker dag, toe hulle sterf en vergaan, toe kruip daar uit hulle karkas iets vreemds… iets grillerig… iets wat nie dood wou bly nie… Nuwe lewe. Nuwe bloed.
Insek.
Insek is fokken hard, fokken vinnig en fokken hard. Fokken ekstreem maar fokken gees. En Afrikaans. Once pappie.
Beleef Insek op hulle Reverb Nation page hier. Hulle mal nuwe song “Kobaltinfeksie” is actually nounet gedrop daarop. Vol volume, asseblief.
Ek ken Insek se vocalist en bassist Christo (of Christ-Ou soos ons hom noem) al sedert ek ‘n snotneuslaaitie van V’Town af is. Dus het ek na hulle onlangse reünie by Witchfest bietjie weer opgecatch met die Hoofinsek om bietjie woorde te wissel oor alles en nog wat – onder andere hulle befokte nuwe tunes.
Yes Christo. Hoekom Insek, ek sê?
Dis eenvoudig. Dit werk in Afrikaans en Engels. Dis grillerig.
Once. So Insek het begin nadat Groinchurn opgebreek het. Sou dit fair wees om te sê dit klink bietjie soos Groinchurn?
Ja, ek doen maar wat ek ken en van hou. Die eerste album het nogal ‘n Groinchurn smakie aan hom. Ons nuwe materiaal is bietjie anders dink ek….
For sure. Hoeveel albums het julle uit?
Ons is nou besig om aan die tweede album te werk. Die eerste album, “Maaiers”, was in 2008 vrygestel
Lekker fokken titel. Maaiers. Wie het die tunes geskryf in Groinchurn en wie skryf dit in Insek?
Vir Groinchurn het Mark (die guitarist) die oorgrote meerderheid van die musiek geskryf, en ek die lirieke. Met Insek het ek aanvanklik die meeste van die musiek en lirieke geskryf; tans is dit meer van ‘n groepspoging in terme van die musiek.
Ek check. Hoekom skree julle so ou pellie?
Ons is kwaad en gefrustreerd. En dis lekker. Hoog en dronk help ook.
Feite. Feite. Hoekom in Afrikaans spesifiek?
Ons is Afrikaans en ek dink Afrikaans werk vir hierdie styl musiek. Dit het ‘n gebiedende en agressiewe toon wat lekker werk saam die soort musiek.
‘Gebiedende’ is ‘n bedonnerde woord. Ek check julle rock zombie makeup en corpse paint op julle promo foto’s. Wat is die vibe daar? Wie’s dood? Johnny?
Dis wat ons in so 2007/8 gedoen het. Die eerste liedjie van “Maaiers” is “Terug van die dood” wat ‘n zombie tema het. Ons het ook ons eerste paar shows met die tema gespeel….wat nogals baie moeite was. Die grimering vat baie tyd. Ons gaan op die oomblik deur ‘n spandex fase.
Hahaha. Span daai outjie in spandex. Daar is obviously minder plekke vir ’n extreme band soos Insek om te jol en min outlets om musiek uit te gee locally. Wat dryf jou na al die jare om dit steeds te doen?
Drank en dagga. Fok weet. Ek vra myself gereeld hoekom ek dit nog steeds doen. Ek dink die antwoord lê iewers in Battery 9 se song “Heel moontlik”.
Heel moontlik. Vind jy meer belangstelling internasionaal as local?
Sover is dit so 50/50 (van fokkol). Hang seker af van jou definisie van belangstelling. Alhoewel ons tans gefokus is op die Suid Afrikaanse “mark”, het ons ook ‘n paar Engelse liedjies.
Ongelukkig het ek julle nog nie live gecheck nie. Back in the day was jy nogal ’n mal naai op stage met Groinchurn met amps en guitar cases wat al in die slag gebly het. Is dit steeds so met Insek live shows?
Dis lekker om so nou en dan bietjie af te gaan. Ek probeer minder goed breek en darem ook die songs te speel deesdae…
Hahaha. Vordering. Groinchurn het onlangs ’n reunion gehad om Sepultura te support op hulle SA toer. Jy het daardie aand uncharacteristically stil gestaan. Kan jy ons sê hoekom?
Ek was ‘n week voor die shows in ‘n kar ongeluk – het gebreekte ribbes en neus gehad, so ek moes stil staan want dit was seer…
Die skree was seker makliker darem. Nou Groinchurn was destyds gesign deur Morbid Records. Hoop jy om so iets te bereik met Insek?
Insek het ‘n oorkeenkoms met ‘n Poolse platemaatskappy, Defense Records, wat ons tweede plaat gaan vrystel. (Dit klink soos ‘n resep vir sukses: Groot Afrikaanse mark in Pole het ek gehoor.)
Het jy al van ’n band met die naam Desecrator gehoor?
Dit lui glad nie ‘n klokkie nie… Of bedoel jy dalk die Desecrator van Vanderbijlpark? Daai band wat die eerste Afrikaanse death metal song ooit (“My beker loop oor”) gerecord het in 1992? Hulle was befokte baanbrekers sover ek kan onthou. Het jy nie gereeld fan mail aan hulle gestuur nie:? (Ek het nog daai briewe iewers…)
Uhm nee… ek het eintlik nie… ek dink… Kom ons praat eerder oor die hier-en-nou. Kom ons fokus eerder. Ja. Watse shows was hoogtepunte in Insek se bestaan sover?
Dit was nogal lekker om saam met die Duitse punk groep Spermbirds te speel so paar jaar terug. Was altyd ‘n groot aanhanger van hulle. Heel terloops het daai Desecrator band wat jy genoem het, ook ‘n Spermbirds cover gespeel van “Playboy Subscriber” op hulle dag. Dit was glo ‘n pragtige weergawe.
Ek is seker. Ons is albei ongelukkig oorspronklik van die Vuildriehoek af. Dink jy daai kak plek dryf mense tot metal?
Ek dink dit dryf mense eers na die mullet toe – van daar kom die Manowar en Judas Priest neigings wat dan in sekere gevalle kan lei tot metal, maar in die meeste gevalle lei dit na ‘n 1 liter brandewyn, 2 liter Coke en 3 liter Ford – asook ‘n lewe van bitter trane.
Jy praat waar. Hard, maar waar. Julle werk aan nuwe tunes tans. Wat is volgende vir Insek? Waar kruip julle heen? Wie infesteer julle volgende?
Ons probeer fokus om die tweede album klaar te kry hierdie jaar – miskien ‘n paar videos, miskien ‘n kort Europese toer volgende jaar of so iets…
Vir verwikkelinge, hou ons Facebook Page dop.
Ons maak so. Alles van die swartste.
Once.
Watkykjy staan op 3,056,545 post views in totaal sedert 1 November, 2019.