'n Kortverhaal deur Quentin Rood.
Susan was moerig. Sy gooi haar skooltas sommer voor haar kamerdeur en storm reguit badkamer toe. Na ʼn vinnige inspeksie en regmaak, stap sy met ʼn sug by die badkamer uit. Sy het dit gehaat wanneer dit gebeur.
“Wat maak jy?” sê iemand skielik hier langs haar.
Sy skrik haar gat af, maar toe sy sien dis haar jonger boetie Danie is sy sommer woedend.
“Wat het dit met jou te doen?” antwoord sy kwaai.
Danie giggel en sê: “Ooh, jong, lyk my dis alweer daai tyd van die maand!”
Susan gluur hom aan, maar sê niks. Haar boetie was baie goed daarmee om haar net op die verkeerde manier op te vryf, en sy het geweet wat kom volgende.
“Lyk vir my…” begin hy.
“Moenie.”
“… die tannie met die rooi Kombi…”
“Danie, ek waarsku jou!”
“…het alweer kom kuier!” maak hy vinnig klaar.
Susan maak asof om hom te klap, maar hy draai om en loop rustig al laggend weg. Susan laat sak haar hand stadig. Sy het daardie gesegde gehaat, en hy weet dit. Maar wat dit erger gemaak het was dat hy reg was. Dit was weer haar tyd, en alhoewel sy dit al twee jaar lank verduur het, het dit haar steeds gepla wanneer dit gebeur het. Sy was mismoedig, huilerig, kort van draad en haar maag het konstant gepyn vir die vier of vyf dae van daai tyd van die maand. Dit was vir haar so onnodig, en Daan, in al sy wysheid van veertien jaar, kon dit nie verstaan of begryp nie. Vir hom was dit net ʼn goeie tyd om haar meer moeilikheid as gewoonlik te gee.
Sy het weer gesug, haar hand op haar maag gesit waar ʼn kramp begin het en stadig na haar kamer begin stap. Voor sy kon buk om haar tas op te tel hoor sy skielik vir Daan roep uit die sitkamer.
“Sus! Kom kyk gou hier!”
Sy tel haar tas op en sit dit langs haar bed. Sy was nie nou lus om te sien wat hom so op hol het nie. Gewoonlik was dit iets klein soos ʼn eekhoring op die grasperk. Groot nuus vir hom, nie so belangrik vir haar nie.
“Sus! Ek is ernstig! Kom kyk!” roep hy weer.
Susan frons. Gewoonlik is Daan nie baie ernstig nie, maar iets in sy stem het haar laat wonder of sy nie dalk maar moet gaan kyk nie. Sy staan op en stap na die sitkamer. Toe sy instap sien sy Daan by die venster aan die voorkant van die huis uitloer tussen die gordyne. Kiets, sy kat, lê rustig op die bank langs hom, vas aan die slaap. Daan trek sy kop tussen die gordyne uit en draai om weer haar naam te bulder, maar sluk sy woorde toe hy haar agter hom sien.
“Wat?” vra sy.
Met ʼn skewe glimlag sê hy: “ Kyk self. Oorkant die pad.”
Hy hou vir haar die gordyn oop sodat sy in sy plek kan gaan staan. Sy kyk hom aan vir ʼn ruk om hom op te som, dan skud sy haar kop en gaan kyk.
Oorkant die pad, net skuins van hulle oprit, sit daar ʼn rooi kar. ʼn Rooi Kombi. Susan knip haar oë en frons. Sy kon eintlik nie glo wat sy sien nie, maar wou nie gehad het haar boetie moet weet hoeveel dit haar ontstel het nie. Iets omtrent die rooi motor oorkant die pad was vir haar… verkeerd.
Sy kon nie die bestuurder sien nie, die voorruit was te donker, maar was oortuig iemand was daarbinne. Met ʼn gespook het sy haar frons en kommer van haar gesig verwyder en haar kop tussen die gordyne uitgehaal.
“Ja, so?” vra Daan haar opgewonde.
“Ja, so, wat? Dis ʼn rooi Kombi, wat daarvan?”
Daan se gesig sak. “ Maar kan jy nie die ironie daarin sien nie, Sus? ʼn Rooi kombi oorkant die pad van ons huis, op dieselfde dag as wat jou tannie kom kuier! Dis histeries!”
Daan gooi sy hande in die lug, en staar met groot oë na sy sussie. Susan hou haar in, maar met moeite. Sy wou hom altyd net klap as hy dit doen. Maar vandag was daar ander dinge om oor bekommerd te wees as haar boetie se irriterende gewoontes.
“ Miskien vir jou, Daniel, maar vir my is dit niks meer as ʼn rooi kar oorkant die pad nie. En sover my… situasie aangaan, het dit niks met jou uit te waai nie! Ek sal dit waardeer as jy kan ophou om dit op te bring.”
Danie skud sy kop en sê: “ Jy het die sin vir humor van ʼn dooie kwartel op die beste van tye, Sus, maar die tyd van die maand is dit onfokkensigbaar.”
“Haai, sies man, waar leer jy so praat? As Mamma en Pappa nou hier was, het jy ʼn groot pakslae gekry!” sê Susan geskok.
Daan blaas lug tussen sy lippe en draai terug na die venster. “Wel, hulle is nie nou hier nie, is hulle? Hulle is nooit meer hier nie. So wat maak dit saak hoe ek praat? Jy is soms die enigste een wat my hoor, en jy luister in elk geval nie.”
Susan kyk met gemengde gevoelens na haar jonger boetie. Hy was reg, hulle ouers was die afgelope jaar of wat bitter min by die huis, elkeen opgevang in hul eie wêreld van besigheid en geldmaak. En die tye wat hulle wel by die huis was, was hulle soos vreemdelinge. Hulle het skaars met mekaar gepraat en amper niks met haar of Daan nie.
“Daan, jy moenie…” begin sy.
Skielik is daar ʼn harde klop aan die deur. Sus en Daan draai gelyk na die voordeur, elk met dieselfde verstomde uitdrukking op hul gesigte. Dan kyk hul na mekaar.
“Verwag jy iemand?” vra Sus vir Daan.
“Nee, al my vriende is by die huis, hulle kuier nooit in die week nie,” antwoord Daan met ʼn snaakse stem.
Sus lees die vrees op sy gesig, en wonder weereens waar haar ouers se gedagtes is om hulle so alleen te los.
“Miskien is dit Tannie Marie van langsaan. Sy soek dalk na Mamma.”
Susan loop voordeur toe, maar die leun wat sy nou net probeer verkoop het aan haar broer proe so vals soos tekkies by die vlooimark. Tannie Marie van langsaan weet baie goed haar Ma is nie daar nie, en sy het nooit kom inloer op die kinders nie. Tannie Marie het gedink kinders is van die duiwel en het dus nooit haar eie geproduseer nie. Ook maar goed, aangesien Tannie Marie gelyk het soos laas week se verbrande melkkos.
“Wag!” roep Daan skielik agter haar. Hy gryp haar aan die arm en trek haar terug.
“Wat is dit man?” vra Susan geïrriteerd.
“Kom ons kyk eers wie dit is,” fluister hy, sonder om van haar arm te laat gaan.
Sus lees weer die vrees in sy oë, en besluit om die klap wat gevorm het in haar regter palm te spaar vir ʼn ander dag. Haar boetie, grootbek soos hy soms was, was nogsteeds net veertien jaar oud, skaars meer as ʼn kind, en sy kon sien hy was regtig bang. Sy vat ʼn diep asem, en knik haar kop vir hom. Daan glimlag in verligting, en hardloop terug na die vensters. Hy loer versigtig uit, sy voorkop ʼn frons van stille konsentrasie. Toe word sy oë groot en hy ruk sy gesig weg by die venster. Hy was so bleek soos ʼn nuwe laken.
"Wat is dit, Daan?” vra Sus. Sy sou eers later besef dat haar woordkeuse om wie met wat te vervang eintlik heel akkuraat was.
“Dis…dis…” probeer Daan, maar hy kry dit nie uit nie.
Sus loop vinnig na die venster om self te kyk, haar eie vrees nou saggies kloppend aan haar deur van selfbeheersing. Sy loer tussen die gordyne uit, en snak saggies na haar asem. Die ou tannie op die stoep voor hul voordeur het gelyk asof sy lankal moes dood gewees het, maar nog nie daarby uitgekom het nie. Haar hare was vaal en dun, net spookasem stringe van grys, hier en daar sigbaar op haar bevlekte kopvel. Die plooie op haar gesig was diep klowe, donker strate waar die ligte nooit weer sal skyn nie. Sy het ʼn deurgewaste rooi rok aan gehad wat amper versigtig teen haar geraamte vorm geklou het soos ʼn liefdevolle maar sensitiewe minnaar. Haar klou-hande was stadig, stadig besig om oor mekaar te vryf, en alhoewel al die vensters toe was kon Susan sweer sy kon hoor hoe hulle bo-oor mekaar skuur. Die tannie se gesig was uitdrukkingloos, en haar oë so diep gebêre in hul kaste dat geen refleksie van emosie in hulle kon gelees word nie. Susan trek haar kop stadig tussen die gordyne uit, en bid saggies dat die tannie haar nie sal sien nie. Sy val neer op die bank langs die venster asof iemand haar bene in spaghetti verander het. Kiets die kat skrik en laat lees in die gang af.
“Dis sy, is dit nie?” vra Daan saggies.
“Wie?” vra Susan emosieloos.
“Die tannie… met die rooi kombi. Sy is rêrig. Sy is rêrig hier. Dis jou tyd en die keer is sy rêrig hier!”
“Moenie simpel wees nie! Daai is net ʼn simpel gesegde wat een of ander dronk donder een aand in ʼn kroeg uitgedink het en toe begin mans dit verkondig asof dit die snaaksste fokken ding is wat hulle nog ooit gehoor het! Sy is nie rêrig nie!”
Susan sit terug op die bank en probeer haar asemhaling onder beheer kry. Sy het nog nooit in haar lewe so lelik gepraat nie, of so op haar boetie geskree nie. Hy kyk haar aan met sy mond oop. Maar voor sy kan om verskoning vra, kom daar ʼn gehamer van houe teen die voordeur. Albei die kinders vries, en staar in vrees na die voorportaal. Na ʼn oomblik val die hamer houe weer. Susan sien hoe Daan onwillekeurig koes, sy kop ingetrek teen sy skouers. Sy sien hoe die hoendervleis stadig haar arm hare orent trek en voel ʼn koue bries oor haar nek streel.
Toe roep die tannie saggies: “Kinders! Kindertjies! Kom maak oop vir die tannie, toe?”
Haar stem was soos gebreekte glas wat stadig onder ʼn skoen op ʼn geroeste staalplaat gedraai word. Susan se hoendervleis verhoog na ʼn kragprop-skok-haarstyl. Die koue bries oor haar nek word ʼn hou met ʼn gevriesde vis. Sy voel hoe haar blaas skielik oorvol raak en tot barstens rek.
Daan begin kreun asof iemand hom in sy privaatplekkie geskop het. Die hamerhoue val weer, maar die keer toe die tannie praat is dit ʼn kreet van woede: “Maak oop hierdie deur! Een van julle het die bloed tyd en ek soek dit!”
Susan se hart kramp en haar maag maak ʼn vuis. Die bloed tyd?
Daan fluister: “ Sus, sy soek jou.”
Die tannie met die rooi kombi slaan aan die voordeur en skree: “Ek kan jou ruik, meisiekind! Maak oop die deur!”
Susan loop liggies en vinnig na haar boetie en vat hom aan sy arm.
“Luister vir my, Danie. Ons gaan opgaan met die trappe en in Mamma-hulle se kamer die polisie bel. Ons gaan die deur daar ook sluit. Sy gaan nie in kom nie. Sy gaan ons nie kry nie. Die polisie gaan kom en haar wegvat. Al wat jy moet doen is saam met my loop tot bo. Sal jy kom?”
Daan staar haar aan asof sy gesuip is, en sê weer: “Sus, sy soek jou.”
Susan hou haar humeur in toom met ʼn uitermatige hoeveelheid selfbeheersing, en sê: “Danie, kom saam met my, asseblief?”
Sy sien hoe Daan se oë dwaal na die voordeur waar die houe steeds val soos kanonskote en ruk hom aan sy arm sodat hy neus-teen-neus staan met haar.
“Daniel, jy beter nou vir ousus mooi luister. Vergeet van die tannie by die deur en volg my by die trappe op. As jy nie my volg nie, gaan ek jou sleep tot bo, hoor my nou mooi!”
Danie knip sy oë vinnig maar sy sien tot haar verligting hoe hy weer terugkeer aarde toe.
“Ja, ja, ek hoor jou, Sus! Hou op aan my ruk, jy maak my seer!”
Susan gluur hom aan vir nog ʼn oomblik voor sy sonder ʼn woord haar kop knik en hom begin lei na die trappe.
Die twee kinders loop versigtig deur die voorportaal, albei se oë vasgenael aan die skuddende voordeur. Susan lei vir Danie aan die arm, haar hand ʼn klamp om sy gewrig. Net so skielik soos dit begin het, hou die houe op die voordeur op. Albei kinders vries. Susan staan met haar regtervoet op die eerste trap wat boontoe lei, haar lyf ʼn gespanne elektriese kabel van afwagting. Agter haar staan Daan met sy voete nog in hul loopplekke vasgespyker, sy gesig bleek en gesweet. Vir etlike oomblikke is die stilte oorverdowend. In die lem van sonlig wat deur die raam van die voordeur loer sien Susan stofstukkies rondseil, blink en byna pragtig in hul onskuldigheid, en sy het tyd om te wonder of sy ook so blink in die son voor die deur oop bars met ʼn geweldige slag. Albei kinders skree en keer vir hul gesigte. Susan loer onder haar arm uit en sien die tannie met die rooi kombi staan in die gat waar die deur was. Die voordeur lê aan skerwe in die voorportaal, die skarniere gebuig en verwoes. Die ou tannie glimlag breed toe sy vir Susan sien, haar tande soos gebreekte grafstene in die begraafplaas van haar mond. Twee blink kolletjies was die enigste aanduiding van oë in haar gesig, maar Susan kon voel hoe hulle haar vaspen.
“Meisiekind,” sis die tannie.
Daan skree soos ʼn meisie in ʼn goedkoop riller en sny ʼn lyn by die trappe op. Susan laat nie op haar wag nie, en volg kort op sy hakke, haar eie uiting van dieselfde gehalte. Die twee kinders kies die korste, reguit lyn na hul ma-hulle se kamer en stop slegs om die deur toe te slaan en te sluit. ʼn Oomblik later verongeluk die tannie haarself teen die toe deur met ʼn reusagtige lawaai. Die deur skud in sy raam maar staan vas vir die oomblik. Die tannie kreun-grom buite die deur maar begin nie weer hamer nie.
“O fokkit, o fokkit…” fluister Daan terwyl hy stadig agteruit wegloop van die deur af.
“Moenie…so…lelik…praat…nie,” preek Susan tussen asemhalings. Sy self retireer stadig na die bed toe, en toe haar bene die bed raak gaan sit sy, alles in een beweging.
“Maak oop,” sê die tannie buite die deur.
Die kinders bly stil, haal skaars asem. Die tannie slaan weer aan die deur.
“Maak oop!” skree sy.
“Wat soek sy, Sus?” vra Daan saggies.
“Ek weet nie, boeta, ek weet rêrig nie.”
“Ek soek die bloed van onskuld!” skree die tannie asof in antwoord van buite voor sy nog ʼn haelstorm loslaat op die deur.
“Hoekom? Jy ken my nie eers nie!” roep Susan sonder om te dink.
Daan ruk haar aan haar arm, en skud sy kop vinnig. Die houe hou dadelik op. In die stilte wat volg hoor Susan net haar eie asemhaling en die dun pypie waardeur haar broer lug inneem.
“Jy is die regte ouderdom. Jou bloed is rein. Jou broer kan gaan. Ek soek net vir jou.”
Die twee kinders kyk vir mekaar.
“Ek sal jou nie alleen los nie, Sus,” sê Daan saggies, en vat haar hand.
Susan gryp sy hand styf vas en voel die trane wat brand in haar oë. Al baklei hulle soms, meestal, is hulle al wat hulle het, dink sy. Hulle ouers was skaduwees wat deur die huis geflikker het op tye maar nooit gestop het om te hoor hoe dit met hulle gaan of ʼn sagte woord gespreek of ʼn drukkie uitgedeel het nie. Haar boetie kon haar teen die mure uit dryf op die beste van tye en soms het dit gevoel asof sy hom wil vermoor, maar hy was nogsteeds haar broer. Haar jonger boetie. En sou vir altyd wees. Sy sou nooit enige iets met hom laat gebeur het nie. Sy was nie van plan om nou te begin nie.
Die tannie was stil vir die oomblik, maar Susan kon aanvoel hoe sy haar volgende aanval beplan. Sy leun oor sodat sy so saggies as moontlik kan praat met haar boetie. Met haar lippe teen sy oor fluister sy: “Danie, ek het ʼn plan. Luister mooi.”
Toe die houe weer begin val praat sy bietjie harder, maar weet haar boetie kan haar hoor want hy knik op die regte plekke en toe sy klaar is glimlag hy vir haar en wys met sy duime in die lug dat hy verstaan. Sy glimlag breed vir hom en gee hom ʼn drukkie. Eers is hy styf teen haar, maar dan gooi hy al twee sy arms om haar en druk haar styf teen hom vas. Susan glimlag en huil tesame. Sy kan nie onthou wanneer laas sy haar boetie ʼn drukkie gegee het nie, en bid dat dit nie die laaste keer sal wees nie. Uiteindelik laat gaan hulle mekaar, en sy sien hoe hy vinnig sy oë afdroog teen sy hemp. Sy knik vir hom en hy glimlag braaf. Die twee staan op en neem hul posisies in. Asof dit vooraf beplan is bars die tannie oomblikke later deur die deur. Sy kyk vinnig links en regs voordat haar oë vasnael op die bed. Susan sit regop teen die bo punt van die bed, haar rug teen die muur.
“Meisiekind,” sis die tannie weer en stap nader.
Sy klim op die bed en kruip stadig nader op haar hande en knee.
“Jy is nie net perfek nie maar pragtig ook. Jy sal beter werk as wat ek ooit sou kon hoop. Ek moes lank wag vir jou om die regte ouderdom te bereik, maar dit was die moeite werd.”
Toe sy by Susan se kruisbeen knee kom, stop sy en kyk haar op en af. Sy maak haar oë toe en snuif deur haar neus asof sy iets lekkers ruik.
“Ah, ja, dis perfek. Dit sal werk.”
Sy glimlag weer en Susan ruik n mengsel van oop grafte en dooie nat blare. Die reuk was antiek, soos n kelder van n baie ou huis.
“Jou ma was reg, sy het geweet toe sy jou aan my belowe het.”
Susan voel hoe die spanning in haar lyf verander van elektries na ysige koue.
“My ma?” vra sy verdwaas.
Die tannie giggel, die klank van n sak ysterstukke wat geskud word.
“Daar is baie dinge wat jou ma nie vir jou vertel het nie, my skat. Soos hoe sy en jou pa so vinnig van armoede na rykdom gestyg het. En hoekom haar baas so skielik siek geword het en moes vervang word. En watter voorwaardes hulle moes nakom om al hierdie lekker dinge te laat gebeur.”
Susan se vel kriewel asof duisende miere oor haar kruip, maar sy wil weet waarvan die tannie praat.
“Voorwaardes?”
Die tannie glimlag nog breër, en Susan kan dinge sien beweeg agter in haar keel deur die gate waar daar tande moes wees.
“Ek is belowe dat ek jou kan kry,” fluister die tannie terwyl sy Susan op-en-af bekyk.
Susan gril so erg dat sy skud waar sy sit. Hoe kon haar ma-hulle haar belowe aan so 'n kreatuur? En vir wat? Geld? Was dit al wat sy werd was vir hulle? Voor sy nog verdere vrae kan vra, spring Daan op die bed en slaan die tannie so hard as wat hy kan teen die kop met een van die staal bedlampies. Die tannie ruk, maar val nie eens om nie. Sy sak effens vorentoe voordat sy haar kop opruk en lewe gee aan n onaardse gil. Danie staan in verwondering agter haar, sy oë groot, terwyl hy steeds vasklou aan die lampie. Susan en hy maak oogkontak, maar voor enige iemand iets kan sê draai die tannie om en slaan Danie teen die bors met een van haar skurwe hande. Danie trek deur die lug voordat hy met 'n slag die muur langs die deur tref en afsak grond toe om daar in n hoop te gaan lê.
“Danie!” gil Susan, maar voordat sy kan beweeg gryp die tannie haar aan die keel.
“Kinderrrrrrsssss,” grom sy. Tussen haar yl hare vloei n stroom bloed langs haar kop af, die kleur daarvan 'n mengsel van rooi en groen.
“Ek het altyd geweet jy het 'n boetie, natuurlik, maar het nooit gedink hy sal enigsins die moed hê om my aan te vat nie… Maar dit maak nie saak nie. Ek soek net vir jou.”
Met dié tel die tannie vir Susan aan die keel op van die bed af en draai om om uit te gaan.
“Los my sussie uit, jou teef!” skree Daan.
Hy staan met sy bedlampie voor die deur, sy kop laag, sy oë vol vuur. Die tannie stop in haar spore, 'n onbekende uitdrukking van twyfel op haar gesig. Danie neem 'n tree nader en glimlag skeef deur die bloed in sy mond toe die tannie 'n onwillekeurige stap agter toe neem.
“Ek gaan nie laat jy my sussie vat nie. Ek is so bang soos ek hier staan, banger as ooit in my lewe vantevore, maar ek gaan nie dat jy verby my kom nie. Sit haar neer. Dis my sussie, en ek gaan nie toelaat dat jy haar by my vat nie.” Hy versterk sy greep op die lampie en voeg saggies by: “Sy is al wat ek het.”
Susan hang soos n sak aartappels in die tannie se klou, haar gesig blou van suurstof tekort, maar sy hoor elke woord wat haar boetie sê. Haar hart groei met soveel liefde op daardie oomblik vir hom dat sy dink dit gaan ontplof, en sy kry 'n vernuwe gees en krag. Met 'n almagtige kreun van inspanning tel sy altwee haar bene op en skop die tannie so hard as wat sy kan in haar sy. Die tannie is verbaas en struikel kant toe, haar hand om Susan se nek net effe losser as tevore, maar dis al wat Susan nodig gehad het. Sy forseer haar vingers tussen haar keel en die tannie se hand in en trek so hard as wat sy kan. Die tannie se hand glip weg en Susan snak 'n mondvol vars lug in. Haar voete raak aan die grond en sy pluk haar hele lyf na die ander kant toe as wat die tannie kantel. Uit die hoek van haar oog sien sy Danie instorm met sy lamp omhoog gehou bo sy kop, 'n vegterskreet bulderend uit sy mond. Hy slaan die tannie met 'n krakende hou weereens teen die kop en die keer val sy op haar knee.
Susan ruk uiteindelik uit haar greep en strompel tot by die deur. Danie tel die lamp weer bo sy kop en gil wanneer hy dit afbring op die tannie se kop. Die tannie sak meer inmekaar, maar is steeds nie uitgeklok nie. Sy slaan weer vir Danie in die bors, sagter as tevore, maar hy struikel steeds weg van haar af, sy asem uit. Hy sak inmekaar nie ver van Susan af, sy lampie vergete n ent van hom af.
“Julle…julle kan nie…” mompel die tannie.
Susan gee haar 'n vinnige vuil kyk voordat sy kniel by Daan. Hy lê in n hopie en hyg na sy asem, maar lyk nog lewendig. Susan gryp hom onder sy arms en drasleep hom by die deur uit. Die tannie bly lê op die vloer maar is reeds besig om weer te probeer opstaan. Susan vlug na die trappe en die huis onder, haar nekhare op aandag. Sy verwag enige oomblik om die tannie se skurwe vingers op haar te voel maar kyk voor haar en beweeg so vinnig as moontlik.
“Susan! Kom terug!” skree die tannie van bo af. Die krag in haar stem laat Susan wonder of sy ooit einde het.
“Eet my hol!” skree Danie terug, en ten spyte van hul aardige posisie kan Susan nie help om te lag nie. Nie net vir wat hy gesê het nie, maar ook was dit verblydend om haar boetie weer vol krag te sien. Hy worstel uit haar greep en vra: “Waarheen gaan ons, Sus?”
“Kombuis,” antwoord sy vinnig, want nie ver agter hulle nie hoor sy die tannie-stoomtrein weer volspoed afnael op hulle, haar voetstappe luidend op die trappe.
Sus en Daan kyk om, dan vinnig na mekaar voor hulle hardloop na die kombuis. Susan hardloop reguit gasstoof toe en draai al die knoppies vol oop. Danie gryp die grootste pan wat hy sy hande kan om vou en duik agter die deur in. Die tannie bars etlike oomblikke later by die kombuis in, die bloed uit haar kop nou uitroeptekens teen haar rooi rok. Sy briek so skuur-skuur toe sy vir Susan by die stoof sien, maar voor sy kan beweeg slaan Daan haar met die pan teen haar bebloede kop. Sy struikel vorentoe maar val nie. Daan swaai en maak weer kontak, en die keer val die tannie op haar knieë.
“Eina fok! My kop!” gil sy terwyl sy haar hande vou oor haar skedel. Susan stap vorentoe en skop die tannie so hard as wat sy kan in die gesig. Sy voel 'n oomblik van siek ekstase toe sy voel hoe die tannie se neus verkrummel onder haar skoolskoen. Die tannie begin agteroor val maar voordat sy op haar rug te lande kan kom, laat waai Daan weer met sy pan en stuur haar terug vorentoe. Die tannie se tennisbal kop val met 'n nat geluid op die teëls soos laas week se Oatmeal. Die twee kinders kyk in verwondering na mekaar.
“Is sy dood?” vra Danie, sy bewende stem vol vals hoop.
“Ek weet nie,” antwoord Susan, “ maar kom ons wag nie om te sien nie!”
Die tannie se hand slaan soos 'n yster toe om Susan se been. Susan vernuwe haar goedkoop riller rol en gee geboorte aan 'n oorverdowende gil.
Danie besluit om deel te neem en skree sy kinderjare weg, die pan nou vergete in sy regtervuis.
“Julle sal moet beter doen as dit,” grom die tannie terwyl sy stadig opstaan, haar hande soos slotte teen Susan se lyf op. Sy eindig orent met haar hande stewig om Susan se gewrigte, en glimlag breed deur die bloed op haar gesig.
“Ek lewe al vir honderde jare, my kind. Het jy rêrig gedink n bietjie gas gaan my onder kry?”
Nee, maar vuur mag dalk!” skree Daan agter haar rug.
Die tannie vlieg om, haar gesig 'n masker van frustrasie en woede.
“Jy! Jou klein kak, jy wil ook nie weggaan nie!”
Danie staan doelgerig met 'n pakkie vuurhoutjies voor hom, een houtjie reeds gereed teen die kant van die dosie vasgedruk.
“Laat Susan gaan of…”
“Of wat?” lag die tannie, “As jy daardie ding aansteek is ons almal daarmee heen! Jy en jou sussie sal brand!”
“Danie, hardloop!” skree Susan, “ Maak dat jy wegkom! Red jouself!”
Danie staan verward en kyk tussen sy sussie en die tannie, onseker van wat om te doen.
“Sus?” vra hy.
“Danie, hardloop!” gil sy weer.
Toe gebeur die onmoontlike…
Kiets die kat het intussen heel kalm die kombuis binne gekom, op soek na sy kosbakkie. Hy het tussen die klomp skreeuende mense deurgeseil en sy bakkie gevind. Maar toe Susan die laaste skree vir Danie het sy per ongeluk op sy stert getrap. Kiets die kat het reageer soos meeste katte sou – hy het omgevlieg en begin kap. Ongelukkig vir die tannie het haar been Susan se plek ingeneem en dus Kiets se verontwaarding in volle vuur ontvang. Die tannie gil en skop blindelings na die sissende kat, maar voor sy 'n behoorlike hou kan inkry sny Kiets 'n lyn by die deur uit.
Die tannie val agteroor teen die stoof, haar bene 'n padkaart van krapmerke en bloed. Sy gryp na die naaste handvatsel en hang aan die stoof se voorkant soos n ou dronkie op n Saterdagaand.
Susan spring verby haar en gryp die dosie vuurhoutjies uit Daan se hand.
“Nee, Sus!” gil hy toe hy sien hoe sy sommer drie vuurhoutjies uit die pakkie haal en hulle draai teen die kant sodat hulle kan vlam vat.
“Daan, as ek skree dan duik jy deur die deur en val plat!” skree sy terug.
Die gas in die kombuis was reeds verstikkend, en die tannie was reg by die oorsaak. Susan gee nie kans vir Daan om te antwoord nie en trek die drie vuurhoutjies teen die kant van die dosie. Met die trekaksie gooi sy hulle in die rigting van die tannie by die oond, maar Wetenskap was nog nooit Susan se sterk punt nie, en dus met die vonk van die vuurhoutjies se vlamvat ontplof die gasgevulde lug om almal in die kombuis.
“Da-…” is al wat sy kan uitkry voordat 'n warm vuishou haar agteruit moker en soos 'n leë Checkers sak deur die deurgang tussen die kombuis en die sitkamer gooi. Verlangs hoor sy Daan : “O kak!” skree maar die woorde is ver weg en dof nadat die ontploffing al die suurstof in die kombuis verbrand het. Susan vlieg deur die lug, verlangs bewus dat die oond ontplof het met die tannie steeds voor dit. Agter haar is Daan self besig met sy eie interpretasie van 'n verbrande hoender in volle vlug en toe sy bo-op hom te lande kom is sy net ietwat verbaas, meer verlig. Die twee kinders land in 'n hoop in die sitkamer, hul hare verskroeied en hulle klere aan vlarde, gebrande gate oral sigbaar. Daan kreun soos sy oupa toe hy genoeg lug in sy longe kry om enige klank te maak. Sy hare, reeds kort het gelyk soos die fraaiings op 'n baie ou swart trui en sy gesig het identiese pienk wange gedra, maar andersins was hy nog heel.
Susan, wat 'n klein entjie voor hom gestaan het teen die tyd van die ongeluk, het slegter afgekom maar was nog aan die lewe. Haar lang blonde hare was 'n gemors van verbrande punte en haar kuif was nie ter sprake meer nie, maar sy kon darem nog regop sit nadat sy 'n hele paar diep asems geneem het.
"Danie?” vra sy versigtig.
Danie kreun in antwoord maar vat liggies aan haar arm om te wys hy is nog daar. Susan kyk terug deur die deurgang tussen die kombuis en sitkamer en haar mond val vanself oop wanneer sy eindelik die verwoesting gewaar. Waar die oond was is daar nou net 'n swart gat so groot soos 'n klein motor. Die kaste langs die oond en die yskas was in skerwe, die yskas 'n wit gemors van gesmelte plastiek en yster. Tussen die voue kon Sus hulle melk sien en 'n paar eiers, alles in stukke maar ewig vasgevang binne die metaal-plastiek monster. Van die tannie was daar geen teken nie.
Sus draai na Daan en help hom om regop te sit.
“Hoe voel jy?” vra sy versigtig.
Daan hou vir 'n oomblik op om sy kop te vryf om haar 'n vuil kyk te gee voor hy antwoord: “Ek voel asof ek nou net deur 'n was masjien is, gevul met gas en wat werk met hitte! Dis hoe ek voel! Ek voel asof iemand my wind uitgeslaan het met 'n krieketkolf en toe op my kop gekak het, dis hoe ek voel!”
Sus trek haar mond styf sodat Daan nie die glimlag op haar gesig kan sien vorm nie. So kwaad soos hy was het sy uitbarstings darem bewys hy het nie te seer gekry nie, en sy was bly.
“Kan jy staan?” vra sy hom nadat sy haar glimlag behoorlik weggepak het vir 'n ander keer. Danie gluur haar een laaste keer aan voordat hy sy kop liggies skud en sy voete onder hom posissioneer. Die twee kinders staan tegelyk op en stap kombuis toe sonder 'n verdere woord. Die verwoesting het verder in die kombuis in verprei, maar Susan het slegs gesoek na een ding – die tannie. Sy kon haar nêrens sien nie, maar voor haar verligting behoorlik kon houvas kry in haar hart, voel sy 'n hand om haar enkel.
“Susan…jy moet…saam met…my,” kreun die tannie, haar een hand losweg om Susan se enkel gevou vauit haar plek op die grond. Susan gil en ruk haar been weg. Die tannie se hand kom maklik los die keer, en val op die grond met 'n klap. Susan en Danie staar in verwondering na die vrou op die grond. Die ontploffing het haar wel voor die stoof betrap, en die tannie was veel erger af as die twee kinders. Haar bene was albei weg onder die knie en die stompies het twee bloedbane oor die teëls gelos waar sy haarself gesleep het tot haar huidige posisie. Haar gesig was 'n gemors van verbranding en vergruising, haar mond en oë slegs dieper gate en 'n masker van maalvleis. Die hand wat sy probeer vassluit het om Susan se been was die enigste wat sy oorgehad het, die ander vermis in die ontploffing. Haar eil hare was ook daarmee heen, en haar kaal kop was 'n legkaart van los en verbrande velle. Susan en Daan beweeg stadig agteruit, hulle hande vasgegryp aan mekaar. Die tannie probeer een laaste keer iets sê, maar al wat uitkom is n sug, voordat sy haar kop neerlê op die teelvloer en nie weer opkyk nie.
“Sus, ons moet uitkom. Die gas lek nou erg want die pyp is gebreek agter die stoof. Enige vonk sal nou die hele huis saamvat,” sê Danie met 'n sagte bewerige stem, en Susan knik sonder om na hom te kyk. Die twee kinders loop stadig maar doelgerig agteruit totdat hulle uit die kombuis is, waarna hulle omdraai en hardloop na die voordeur. Susan stop een laaste keer voordat sy Daan volg na buite. Sy kon sweer sy het die tannie iets hoor sê. Dit het geklink soos ‘Kinders…’
Sy skud haar kop en volg vir Daan by die deur uit.
Oomblikke later spoeg die yskas-monster 'n laaste vonk uit sy element. Die gas lek gretig aan die vonk en ontplof in 'n blou-vlam orgasme wat die hele kombuis vul. Die vlam dans in die ontblote gaspype wat onder die huis loop af en 'n tweede en groter ontploffing ruk die hele fondasie totdat dit oopskeur en elke vloer in die huis lig in 'n aardige dans van verwoesting. Die vensters verlaat hulle rame in 'n reën van duisende stukkies en die rame volg kort daarna, hulle voorheen gevormde reghoeke nou net 'n herhinnering. Die dak lig ietwat, nie meer as 'n paar meter nie, maar wanneer dit terugkeer na die vorige posisie verkrummel dit soos week-oue Marie-beskuitjies. Die twee kinders doen hulle tweede onbeplande vlug van die dag, maar die keer is die landing sagter te danke aan die dik, groen grasperk voor hulle huis. Hulle draai gelyk om op hul rue en staar grootoog na die oorblyfsels van die enigste huis wat hulle nog ooit geken het. Toe die vlamme te naby en warm lek in hul rigting stap hulle vinnig na die sypaadjie en staan daar en kyk hoe die huis disintigreer.
Oorkant die pad, sonder die kinders se kennis sit Ma en huil. Die donker voorruit van die rooi Kombi steek haar weg, maar sy kan haar kinders duidelik sien waar hulle hand-aan-hand op die grasperk staan en kyk hoe die huis brand. Sy huil en snik soos 'n bejaarde by 'n begrafnis, maar haar trane is nie vir haar kinders of uit spyt uit nie. Instede is dit vir die weelde wat sy weet sy nou gaan verloor. Sy en haar man. Hy het geweier om by te wees wanneer die tannie vir Susan kom haal, maar Ma het aangebied om ten minste in die Kombi te bly sit en kyk.
Nou sit sy hier, albei haar kinders leef nog, en van die ou tannie wat soveel jare gelede haar wense laat waar word het was daar geen teken nie. Ma kyk af na haar hande en snak na haar asem wanneer sy sien hoe die goue diamantgevulde ringe aan haar vingers begin verdwyn. Die ringe raak eers ietwat deurskynend voordat hulle in goue stof wegwaai in die bries deur die venster. Sy voel die gewig rondom haar nek ligter word wanneer die 24-karaat hangertjie 'n spook word en verdwyn. Maar vordat sy regtig kan registreer wat met haar juwele gebeur, voel sy hoe haar duur rok skielik stywer begin span rondom haar boude totdat dit al langs die nate begin skeur.
Jare se weggewensde vet kom binne oomblikke terug en die rok, gemaak vir 'n ligter vorm kan nie die massa wat dit skielik rek hanteer nie, en skeur soos toilet papier. Ma gil in die kombi, maar daar is niemand om haar te hoor nie. Haar hartklop tel spoed op soos 'n lokomotief maar een wat beurend teen 'n heuwel probeer opklim nadat jare se slegte eetgewoontes alles op een slag neersak op haar hart. Ma hyg en verstik en klou aan haar rok en onderklere maar alles kom los soos 'n goedkoop babawiegie. Sy los alles en duik instede oor na die stuurkant en reik uit na die sleutel om die kombi tot lewe te draai. Maar haar vet hand gryp na niks. Die tannie het die sleutels saam met haar gevat. Ma gil een laaste keer voordat haar hart ingee en met 'n reusagtige kramp die lewe verlaat vir die volgende. Sy trek styf soos 'n rek in die bestuurder sitplek, haar verskeurde rok nou vergete, en het tyd om 'n wind te los voordat haar oë omdop en sy die groot onbekende intree.
Susan en Danie staan en staar vir die huis, en vir 'n oomblik kyk hulle na mekaar toe albei iewers iets hoor wat dalk 'n vrou wat skree kon gewees het, maar kyk weer terug na die huis toe hulle niks verder hoor nie. Na n paar minute, met die skreeuende sirene van die polisie en brandweer nog kilometers weg, draai Daan na Sus en vra: “ Wat nou?”
Sus glimlag sonder om na haar boetie te kyk.
“Nou loop ons na die naaste telefoonhokkie en bel Tannie Francina in die Kaap. Sy is ons peetma. Sy wou ons al jare gelede kom ‘steel’ het – sy sal bly wees om te hoor ons kom uit ons eie wil by haar bly.”
“Maar wat van al die vrae?”
Susan glimlag breër en sê: “ Vrae het altyd antwoorde. Ons moet net die regtes hê.”
Watkykjy staan op 3,091,023 post views in totaal sedert 1 November, 2019.