deur Ingrid
Toe ek vir die mense by die werk tjoon ek gaan Afrikaburn toe, toe’s almal so: Africa whaaat? Ek veduidelik toe met oordrewe handgebare, gemaak boheems en belangrik: “It’s a week long festival of art and free expression. People gather in the desert to build giant works of art and then they burn it all at the end in a dramatic and beautiful fire ceremony!” En toe my pa vir sy vriend verduidelik waar ons vir ‘n week met sy sleepwa heen oppad is, reken hy: “Nee jong, kan jy nou glo? Die kinders neuk wragtig al die pad af Kaap toe vir een of ander hippie trans-party waar hulle ‘n klomp kak in die woestyn gaan brand”. Skud sy kop en en haak die Venter aan my kar.
Wel, vir die wat nie weet nie – Afrikaburn word een keer ‘n jaar (einde April/ begin Mei) in die Tankwa Nasionale Park in die Karoo gehou. Die fees neem sy oorsprong en inspirasie van sy groter Amerikaanse boetie: die Burning Man festival in Nevada. Dis basies ‘n week lank. Dit begin stadig op ‘n Maandag met mense wat een stofstrepie na die ander die woestyn binne ry en kamp opslaan in ‘n moerse sirkel – amper soos die boere van ouds wat laer trek (net met minder kappies en voorlaaiers). En dan teen die Vrydag tel dit vinnig spoed op, wanneer elke laaste hippie en hipster uit Slaapstad ontsnap vir ‘n nawekie weg van die wynplase en kom stof opskop in die Binnekring. Ek moet erken, dis kakvêr as jy van Gauteng af ry. 16 ure in een ‘go’ sit nie in elke man se broek nie, so ek beveel aan julle maak soos ons en maak ‘n road trip van die hele storie.
Ons het in Kimberley en in Calvinia oorgeslaap, en die derde oggend vars en uitgerus die 100km grondpad tot by Tankwa Town geklap met genoeg tyd om voor die hitte van die dag nes te skrop. Ek belowe, jy wil nie jou tent in die donker kom opslaan nie (Oppikoppi-style en geklits van al die sletsap wat jy in die kar gedrink het oppad want die cops in die Kaap is mos rustig), en dan kom daai woestynwind op terwyl jy probeer dakseile vaskap met ‘n leë bierbottel want die doos wat die tent gebring het, het die hamer vergeet.
Daar aangekom kan jy jou selfoon afskakel en saam met jou beursie in die kar los, want daar’s geen selfoonontvangs en niks om te koop nie – your Jozi money is no good here, my lanie! Tankwa werk op die ruilhandel. Jy gee goed, en jy kry goed. Party mense gee koelte, party gee polisiekoffie van 9:00-11:00 elke oggend by hulle tent genaamd Die Stoep. Sommige mense gee jou ‘n lift agter op ‘n fiets oppad na die toilets toe. Ander mense gee ander mense pakslae as hulle stout was. Each to their own, solank jy deelneem en bydra, I guess. Die enigste, en ek bedoel ENIGSTE ding wat jy kan koop, is ys. Want kyk, jy is afterall in ‘n woestyn en niemand hou van ‘n warm bier nie, innit?
Elke middag twintig oor vier word daar bergtee gedrink by Camp High T en jy kan jou biscuit skud in die middagson wat steeds neerhel asof daar geen môre is nie. And dearest, might I request that you dress for the occasion? Die woestyn is nie ‘n plek vir die ordinêre of vervelige nie. As dit jou so behaag, voel ook vry om jou Adamsgewaad aan te gooi – onthou net die sunblock op daai mooi wit tietietjies van jou wat laas op ‘n Griekse vakansie in 2012 die son gesien het!
Dan, wanneer die son begin sak en die Disco bus begin ry, vergader almal in die Binnekring tussen al die kunswerke en DAN begin die party!
Afrikaburn is nie ‘n musiekfees nie, so daar is nie bands nie. Daar is nie ‘n line-up of ‘n program nie. En as jy soos ek die tyd op jou selfoon wat in die kar lê kokkenodge, dan weet jy ook nie eers hoe laat dit is nie. Daar is nie bekende mense wat wil shine vang nie. Ok wel, daar mag dalk wees, maar jy sal nooit weet nie, want hulle het dalk langs jou gestaan in vanoggend se yoga klas in ‘n pruik en ‘n tutu of ‘n alien outfit. Mens kan die hele nag net ronddwaal van partytjietent tot partytjietent, totdat jou gat lam gedans is en jou arme toontjies lyk of hulle uit ‘n stowwerige worsmasjien met blinkertjies forseer is.
Teen die Vrydag- en Saterdagaand vang die party soveel spoed, jy weet nie meer of jy Arthur of Martha is nie. Dan is dit tyd vir al die beautiful hase en torings en die man met die hande wat vir die afgelope paar dae en nagte jou speelgrond en dansvloer was, om te brand… “Burn the bunny! Burn the bunny!” skree die mense. Die tjoons pomp uit die bus uit agter jou en jy is omsingel deur mense in kostuums en fairy lights en allerlei vreemde, mooi goed. So skuif die partytjie dan van kunswerk na kunswerk en alles word aan die brand gesteek. En dan in true hippie fasion, sodra die laaste deel van die brandende stellasie ombliksem, cheer almal en ‘n paar kaalgatte hol al juigend om die vuur in ‘n amper oer-serimoniële wyse.
Afrikaburn is nie ‘n plek vir sissies of mense met ‘n kak attitude nie en jy moet sommer voor die tyd al verlief neem met die feit dat jy nie gaan bad vir ‘n week nie. Ek sê nou nie dis nodig dat jou totter moet afvrot nie (want daar is altyd Wet Wipes, prys hom!), maar tensy jy nie jou eie shower en jou eie water saambring woestyn toe nie, gaan jy nie sommer nat word nie, ou perd. Maar as jy bereid is om vir ‘n week bietjie jou kapitalistiese neigings op sy te skuif, jou luxuries te laat vaar en die hasepad te kies vlaktes toe, dan sal jy ryklik beloon word met een van die beste ondervindings van jou lewe.
Check sommer die slideshow ook uit met so 60 of wat foto’s:
Watkykjy staan op 3,064,247 post views in totaal sedert 1 November, 2019.