"Here man, dis GOED om jou weer te sien!" sing-skree ek en die griff skuins na twee die oggend op die N1. Ons is besig om op te hoë spoed the fuck out of Vereeniging te kom na ons hoërskool reünie. Daar het ons gekuier tot die sekuriteitswag en sy hond ons gevra het om maar aan te beweeg. Blind.
Twee weke later en ons headbang verwoed in Arcade Empire, Pretoria waar Van Coke hulle witwarm nuwe album 'Bloed, Sweet & Trane' launch voor 'n wilde dog waarderende crowd. Dis ook die Image Engineer se verjaarsdag so die Jäger bruis deur ons are soos die magtige Vaalrivier na 'n Hoëveld donderstorm.
Soos altyd met Van Coke shows tref die skare se absolute en intense meelewing my. Mense hang swetened oor die verhoog, vuiste word hemelwaarts gegooi en elke liriek word kliphard saamgeskree. Rook, drank, rock en wilde wilde gedansery. Hemels.
(Daar was ook 'n vet bonehead op sy maat se skouers in plaas van die topless blond wat mens verwag, maar hey, dit IS Pretoria.)
'Bloed, Sweet & Trane' is Van Coke se vyfde album en dis 'n fokken wild ride. Na 'Wie's Bang?' het van ons gewonder hoe die boys dit gaan top, maar ek dink ons weet nou. Vat so, ons. Vat fokken so.
Van Coke kon nog altyd rock maar wat dadelik opval van 'Bloed, Sweet & Trane' is die goed deurdagte struktuur van die songs, maak nie saak hoe heavy hulle is nie. Next level songwriting sodat al daai brute krag netjies gechannel word tot in 'n haarfyn naald wat jy net so by jou slagaar kan inspuit. Jy hoef nie eers die lepel warm te maak nie.
Dit maak die nuutste album 'n logiese en befokte progressie van 'Wie's Bang?'. Dis die tweede album met die line-up van Jedd Kossew (kitare) en Jason Oosthuizen (dromme) wat Francois van Coke (vocals) en Wynand Myburgh (bass) join en die noue eenheid en kreatiewe gemak met mekaar is merkbaar hier. Die nuwe manne is ook vrye teuels gegee om so hard as moontlik te rock, soos onthul is in ons studio interview met die band.
Bygestaan deur Theo Crous agter die desk is hierdie 'n professionele en polished rock album deur 'n band op die kruin van hulle loopbaan. Van Coke is net so gemaklik daarmee om klipharde bruisers soos 'Sweef' en 'Die Dag' af te wissel met die stiller single 'Môregloed' en die akoestiese melancholie van 'Lewendig Eindig'.
Alhoewel die manne met verskillende style flirt (luister byvoorbeeld na 'Môregloed', 'Sweef', 'Here Man' en 'Eendag Op 'n Slag' direk na mekaar), bly dit steeds 'n koherente album en ene waarin Van Coke dit regkry om hulle klank progressief uit te brei terwyl dit steeds in murg en been 'n Van Coke album is.
'Bloed, Sweet & Trane' is onbeskaamd harde fokken rock maar dis rock met 'n besliste kontemporêre klank en 'n haarfyn balans tussen net genoeg eksperimentering en die getroue wenresep wat hulle tot hier gekry het.
Maak seker jy kry hierdie album op iTunes, of nog beter loop ondersteun Van Coke in hulle natuurlike habitat, op die stage, en koop sommer 'n CD direk by hulle. Sit hom dan heeltemal te hard aan in jou kar en ry heeltemal te vinnig. Sing saam. Rinse. Repeat.
Christelle Duvenhage het so paar next level foto's geneem by die Van Coke Kartel gig:
Watkykjy staan op 3,083,300 post views in totaal sedert 1 November, 2019.