Deur Kaboem Mielies
Van kleintyd af ken almal die storie van Disney se Lion King waar die baba leeutjie aan die einde van die storie sy wetter van ‘n oom oordonner om die koning van die diere te wees, die main Mack!
Vrydagaand se eerste promosie/religasie game tussen die Kings en die Lions in die Baai gaan dieselfde wees, en Disnie mooi nie! Want daar kan nét ‘n King of nét ‘n Lion wees, maar nie altwee nie! En ‘n pel van my se toordokter (SamGoma) het sy bene gegooi en dinge lyk nie goed vir die Kings nie. Self Rafiki gaan hulle vir afoki kan help nie.
Eintlik hoef mens nie eers ‘n toordokter te wees of kan lees hoe die hoenderbeentjies val nie, want dit is nie moeilik om te sien hoe die Lions hierdie twee games gaan wen om volgende jaar weer ‘n Super-span te wees nie.
Ja ja, ek weet die Jo’burgers het nie die beste rekord as dit by Superrugby kom nie, maar hel, as die Cheetahs dit kan doen, dan kan die Lions ook!
“Hoekom die Lions eerder as die Kings?” vra jy. Hier is hoekom…
Die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) het die afgelope jaar hulle eie weg gevind om kompeterende games te organize om seker te maak hulle spelers kry genoeg game-time en blootstelling. En al het alles nie seepglad verloop nie, het die spelers gejol en genoeg blootsteling gekry. Ashwin Willemse kan netsowel die Lions president wees – hy produce mos fokken alles daar deesade. Die Kings, aan die anderkant, het die afgelope vyf jaar só by Saru gekak en kerm dat die grootkoppe uiteindelik nie anders gehad het as om hulle ‘n kans in Superrugby te gee nie.
Daarby saam het die Lions eintlik nie te kak gedoen hierdie jaar nie. Hulle het onder andere met groot scores met spanne soos Samoa (74-14), Mort de Marsan (56-24) en die WP (42-12) afgereken.
Dit nogals ná ‘n helse klomp spelers vir ander Superrappie gejol het of hulle sakke gepak het. Selfs in die Lions se kakste jaar het hulle ten minste een of twee Springbokke opgelewer. Vir die Kings was Demitri Catrakilis close gewees, maar ‘n naweek in ‘n oefengroep tel nie. Sorry boys! Ook, na ‘n hele Superrugby-seisoen en moerse blootstelling kan ek nie vyf van die Kings-spelers se name noem nie (Luke Watson tel nie).
Kan jy vyf name opnoem? Ek het so gedink!
Die Kings speel nie in die Premierliga van die Currie Cup nie en dink omdat hulle die kleiner unies kan gas gee, dat hulle goed genoeg is om groter rugby te jol nie. Nee manne, dinge werk nie so nie!
Deur hierdie hele poespas het die Lions-ondersteuners nogsteeds agter hulle span gestaan, hard geskree en games gaan kyk sonder om mekaar te donder in die stands. Vir die Kings kan ons ongelukkig nie dieselfde sê nie na ‘n paar manne tydens die Kings se tweede game in die Baai teen die Sharks appels geswaai het.
Nou dat ek daaraan dink, het ek nie een naweek skielik gestop en gedink “Shit, die Kings jol nou teen die Blues. Ek móét dadelik ophou gras sny en die game gaan kyk!” nie. Ja, dis reg, ek het eerder die donnerse gras gesny as om ‘n Kings game te kyk. Die lus was net nie daar nie.
Dan, ek is jammer om dit te sê, maar vir solank as wat die Watsons die sweep in die Baai klap en lekker in die geld rol, gaan dinge ook nie sommer gou verbeter nie. Dit terwyl die Lions se grootbaas, Kevin de Klerk, vir verniet werk. Laat mens bietjie dink né. Maar laat ons nou nie te veel politiek in dié gesprek inbring nie.
En meer onlangs het die legendariese Rocky Balboa boonop onlangs vir die Lions ‘n motivational speech geskryf en opgedra om hulle te motiveer. Hitler was ook nogals die moer in gewees. Wie back die Kings?
NIEMAND NIE!
Daar is beslis nog ‘n moerse klomp redes hoekom die Lions eerder volgende jaar Superrugby moet jol en nie die Kings nie, maar soos in die Lion King gaan die fight in die wild bepaal wie die main Mack gaan wees.
Ek vermoed egter die storie gaan dieselfde einde as Disney se storie hé en gaan die Lions king wees. Op die Leeus!
*Kaboem Mielies is 'n Lions fan en like van tjerries aan die Wesrand rasper.
Watkykjy staan op 3,110,840 post views in totaal sedert 1 November, 2019.