Justin Bieber is 'n agtienjarige meisie van Kanada. Sy is gebore in in negentien-vier-en-negentig en is in 2008 op die rype ouderdom van 14 jaar oud ontdek na haar persoonlike Youtube videos waar sy opnames van bekende R&B liedjies gemaak het, derduisende views begin kry het.
En met goeie rede. Justin Bieber is een talentvolle meisie! Al sewe die snitte op haar eerste EP, November 2009 se My World, het verskyn op die Billboard 100 lys. En toe sy vier maande later haar regte vollengte debuut vrystel, verbeeldingryk ge-titel MyWorld 2.0, was haar status as een van die jongste, helderste sterre in ons vermaaklikheidslandskap verseker. So dis met groot afwagting en opgewondenheid dat ek die voorreg gekry het om haar nuutste album, Believe, te review vir Watkykjy. En dit is so verfrissend om vir 'n slag oordentlike, volwasse populêre musiek te kan resenseer in plaas van die hipster kak wat ons gewoonlik hier rond kry.
So met al die sukses en reklame van die afgelope paar jaar, die konsertfilms in drie dimensies, die kersfeesalbum en die Grammy toekennings, die gaskunstenaarverskynings op Saturday Night Live en Ellen DeGeneres wat vir jou soos 'n “ma” is, is dit moeilik om te onthou dat Justin Bieber nou eers wettiglik sou kon bestuur in Suid-Afrika en nog steeds nie wetteglik bier kan koop in Amerika nie, al is sy nou 'n miljoenêr 'n paar keer oor.
Daai geld kan ongelukkig nie geluk koop nie, soos bewys word deur Bieber se onlangse skeiding van haar meisie Selena Gomez. Dit kan 'n moeilike gebeurtenis wees in enige tiener se lewe, so einde van 'n verhouding, en veral as jy so 'n populêre en bekende figuur soos Bieber is. Dit is van toepassing omdat Bieber se verhouding met Gomez verskyn in van die lirieke op die liedjie Beauty & a Beat feat. Nicki Minaj. In die liedjie sing Minaj (wie nog altyd 'n kranige woordsmit was( die volgende lirieke: “Justin Bieber, you know I’m a hit ’em with the ether, buns out, wiener, but I gotta keep an eye out for Selena.” Soos my een vriendin gesê het, “totes embarrassing! Lol!”. Maar dit is seker een van die gevare daarvan om 'n multi-miljoenêr, tiener pop sensasie te wees.
Soms raak ek sommer naar van die bekommernis oor Justin Bieber. Haar lig skyn soveel helderder, soos 'n kers wat aan altwee kante brand. Maar as jy dubbel so helder skyn, kan jy twee keer so vinnig uitbrand.
Na ek aandagtig na Believe geluister het, is ek egter oortuig daarvan dat Justin Bieber presies weet wat sy doen. Die album is propvol van die harder, meer dans-georienteerde klanke wat deesdae so in aanvraag is. Daar is weereens die crème de la crème van gaskunstenaars, soos voorgenoemde Nicky Minaj, Ludacris, Drake, en Big Sean. Die produksie is letterlik die beste wat geld kan koop en op snitte soos Slanges, You Love Me en Die In Your Arms is dit onmoontlik om nie saam te beweeg nie as jy daarna luister nie. Soos die mega-treffer Baby voor hulle, sal hierdie liedjies soos 'n infeksie in jou brein gaan vassit, en nooit weer laat gaan nie. Amper soos kanker. Maar 'n cool kanker, waarop jy kan sokkie.
Die hoeveelheid haat wat die internet op Justin Bieber ophoop is eintlik heeltemal onvanpas. Met Believe, en die sukses daarvan na vrystelling kan mens waarlik sê dat Justin Bieber die hoogste punt in populêre musiek bereik het en dat sy alles verteenwoordig waarvoor daardie industrie staan. Sy werk haar gat af, en sy is eerlikwaar geseënd met talente wat sy ten volle benut. En tog sê mense nog steeds aaklige goed oor haar, soos byvoorbeeld dat sy die Antichris is.
Daai grappe is nou al regtig holrug gery.
Almal weet inelkgeval die Antichris is 'n man.
Watkykjy staan op 3,056,076 post views in totaal sedert 1 November, 2019.