Deur Wienand (unedited Watkykertjie bydrae)
Hier sit ek, dis ’n Maandagaand en ek hou myself besig met die gewone. Brows die Net en chat met vriende waarmee ek ’n gemene (of relatief gemene) wêreldbeskouing deel. My mense is doenig in die huis en ek let op frustrasie wat hoogty fier vanweë my verwyderdheid met my onmiddellike omgewing.
In my online wêreld vasgevang. Die gesprekke wissel tussen blatante toilet praatjies tot die meedeling van toekomsplanne en nuut ontwikkelde filosofieë oor die werklikheid. ’n Relatief gewilde tydverdryf in vandag se dag sou ek reken. Die gesprekke ontwikkel dikwels in die tipe wat die spot dryf met die radikalis en fanatikus waarmee ons steeds, in die eerste eeu van die 2de millennium, hierdie planeet deel.
Ek, Afrikaner seun, gebore tydens die doodsnikke van apartheid, ‘gevorm en gemaak’ in die NG kerk, wat myself van beide sovêr moontlik verwyder het dat ek soms wonder of my nuutgevonde identiteit as lid van die reënboog nasie nie ’n klug is nie.
Maar in vandag se dag het ek geleer dat ek op my ‘eie mense’ kan staatmaak om my vinnig opnuut te laat besef dat daar werklik meriete vir my oortuigings is. Dit het alles weer van vooraf sin gemaak. ’n Vinnige gespot met Franz Jooste (met wie se oortuigings en werksaamhede ek tot 3 ure terug nie vertroud was nie) het my in die rigting gestuur om bietjie navorsing oor die Boere oompie te doen. Om eerlik te wees; ek was nie te geskok nie. As ‘Afrikaner’ het ek gewoond geraak aan die afwesigheid van gesonde verstand en kompromie in die volks oortuigings. Ek vra by voorbaat om verskoning vir my medemens wat wel vir hulself kan dink en nie verval in radikale, selfsugtige en bloot idiotiese ideologieë nie.
Kyk, oom Franz bied ’n kamp vir jong afrikaner seuns aan waar hulle opnuut geleer word van die wonderlike geskiedenis van haat en rassisme wat hierdie pragtige land van ons vir soveel dekades geteister het. Sy sogenaamde lesings kan as niks meer as blatante haatspraak geklassifiseer word. Volgens oom Franz swaai hy jou in ’n uur van trotse lid van die reënboog nasie na irrasionele kafir hater van formaat.
Om julle bietjie agtergrond rakende die vent se bewerk saamhede te gee sal ek begin deur die oompie se sogenaamde feite met julle mee te deel. Kyk, oom Franz het, soos dit vir my lyk, ’n obsessie oor die woord korteks. Julle sal let dat ek sê ‘woord’ inplaas van ‘begrip’ want soos ek kon aflei is hy self nie heeltemal seker wat dit is nie. Jy sien, hy reken dat navorsing bevestig het dat wit mense se korteks klaarblyklik 120 gram, of so iets, swaarder is as ons swart eweknieë sin. Volgens hom kan ’n gevolgtrekking dus gemaak word dat die darkies in ons midde nie so goed kan beplan nie. Sien ek het self nog nie die voorreg gehad om mense te dissekteer en hul harsings te weeg nie maar ek kan met genoegsame sekerheid sê dat hierdie feite meer stink as die lyke van die proefkonyne agter sy waenhuis op sy ouma se kombuis skaal.
In elk geval, toe ek hier begin skryf het, was my plan om Mnr. Franz Jooste uit te sonder, om die spot met hom te dryf en hom te verneder. Ek het egter vinnig besef dat hy maar ’n klein rol in ’n groter tendens speel. Dat hy deel vorm van ’n groepering individue wat in die verlede lewe, ’n groep mense wat in ’n nou band met hul skepper verkeer en wat veg vir die regte en drome van ‘my mense’, die Afrikaner. Die natuurlik alles met ’n oer oue resep, een wat spruit uit die voortdurende selfsug kenmerkend aan die witman in Afrika. Om eerlik te wees het ek vir ’n wyle gevoel of ek weer in my geskiedenis klas op skool sit.
Nou sien, my probleem met die hele Afrikaner promosie en volhoubaarheid is dat ek nog nooit kon trots wees op dit waarvoor ‘my mense’ nog altyd gestaan het nie. In persoonlike retrospek het ek ‘my mense’ nog altyd as ’n klomp geïndoktrineerde skape gesien. ’n Klomp mense wat nie vir hul self kan dink nie. ’n Nasie wat deur ’n handjie vol radikale regses gelei word en vir wie daar uit die Bybel regverdiging vir die haat gebied word. So asof die Bybel spesifiek vir, en met direkte toepassing op, ’n paar witvelle aan die suidpunt van Afrika geskryf is.
Die afwesigheid van feite in oortuigings verstaan ek wragtig nie. Hoe kan mense so baie baseer op ongegronde, irrasionele wensdinkery? Is ons so bang om ons verstand te gebruik en net vir ’n wyle te dink? Vir ’n wyle ons self in ander se skoene te plaas en bietjie perspektief oor die saak te kry? Ons kan tog nie so onnosel wees nie. Of geniet ons dit om in ’n koor te blêr en die gras te vreet wat vir ons gegroei word.
Dis seker tyd om by my punt uit te kom. Is verdraagsaamheid dan so moeilik? Is ons so onseker oor ons rol in die wêreld dat ons mekaar moet afbring? Is die behoud van Afrikaner kultuur werklik regverdigbaar ten koste van ander? Wat is Afrikaner kultuur? Is ‘my mense’ geneig om in die ‘mooi’ van volkspele en bobbejane wat berge uitklouter vas te kyk? Het Afrikaner kultuur nie ontwikkel in die van haatspraak en diskriminasie op ongegronde fantasieë nie?
Ek sê vir julle vandag, ek, Afrikaner seun, gebore tydens die doodsnikke van apartheid, ‘gevorm en gemaak’ in die NG kerk, is bereid om dit alles op te gee. Ja alles. Ek is bereid om soos oom Breyten te maak en my Afrikanerskap op te sê. Ek sien ’n land, ’n plek van eenheid, waar ek na enigeen in hierdie wonderlike land van ons toe kan stap, my arm om sy skouer kan sit en sê: my broer, ons is Suid-Afrikaners.
Watkykjy staan op 3,085,547 post views in totaal sedert 1 November, 2019.