Geskryf deur Jack McAllistair vir Watkykjy
Dit was ‘n ambisieuse gedagte.
Twee-en-dertig-mense. Een naweek, tussen niks en nog niks op ‘n verlate plaas in die karoo – die ideale ligging vir die mees ikoniese skaakstryd in die geskiedenis van Suid-Afrika.
Die genooides het een vir een deur die vroegoggend opgedaag. Sommiges moes so ver as van Durban reis vir die grootse gebeurtenis.
Die twee-en-dertig top-spelers van die eksklusiewe www.skaak.com, saam op een plek. ‘n Geweldige eer.
Daar is vooraf ooreengekom dat die spelers nie met hul aankoms en vergadering geselsies sal maak nie. Elkeen moes bloot óf ‘n blou óf ‘n geel bordstuk saambring, afhangende van watter kleur deur ‘n gerekenariseerde indeelstelsel aan hul toegewys is. Daar is ook voor die tyd besluit dat daar met blou en geel stukke en bordkleure gespeel sal word, om moontlike kaping deur rasentoesiaste te voorkom.
“Dit is in elk geval meer koninklik,” was Vernietiger125 se voorstel.
Die spelers se rolle is ook voor die ontmoeting lukraak aan hul toegeken, weereens deur ‘n gerekenariseerde indeelstelsel. Almal moes diensooreenkomstig aantrek, en niemand het gekla oor hul rol as byvoorbeeld pion of gespog oor hul rol as byvoorbeeld biskop nie. Dit was immers vir ‘n groter doel – die mees ikoniese skaakspel óóit in die land.
Ná ‘n moeisame proses van bordpak en rondstap was die terrein om 10:00 presies gereed vir die spel om te begin. Die entoesiasme en adrenalien onder die deelnemers was bykans tasbaar.
Gerhard Maree, ‘n rekenmeester van Secunda wat gelukkig genoeg was om as koning van die geles aangewys te word, het sy keel skoongemaak.
“Ee twee na ee vier,” het hy, in ‘n stem waarvan die diepheid selfs hom verbaas het, aangekondig.
Die kort man in die onindrukwekkende pionkleed voor hom het twee blokke vorentoe geskuifel. Al die deelnemers het gegiggel – hierdie het beloof om groot pret te wees.
Sy eweknie aan die blou kant, ‘n jong dame met sproete genaamd Marie, het effe ongemaklik gevoel in die groot blou koningskleed wat sy moes huur. Waar sy in statuur gekort het, het sy in paraatheid vergoed.
“Dee sewe na dee vyf!” het sy geroep. Die pion skuins voor haar het gedwee twee blokke vorentoe geskuif.
Gerhard het ‘n oomblik gewonder of hy nog ‘n pion vorentoe moet skuif, maar wou graag ‘n perd loslaat. Hy het na sy koningin, ‘n jong seun van Asiatiese afkoms, gedraai en sy idee beduie. Die seun het geknik.
“Ekskuustog,” het die geel perd aan die pion voor hom gesê en verbygeskuifel.
Marie het die situasie bespied en besluit om na aksie oor te gaan. “Dee vyf na ee vier,” om aan te dui dat die geel pion deur die bloue gevat moet word. Die blou pion het toe sonder huiwering na die geel pion oorgestap, ‘n mes uit sy sak gehaal en hom in die bors gesteek.
Die geel pion het ‘n luide kreun uitgelaat en op die bord inmekaargesak. ‘n Poel bloed het onder sy liggaam gevorm.
Die spelers het na hul asem gesnak. Die wapens aan die kostuums had, tot nou, bloot waarde as versiering. Niemand het, ongelooflik genoeg, gedink aan wat presies moet gebeur as die spanne mekaar se stukke vat nie. Niemand, behalwe dié spesifieke pion nie, wat nou behendig sy teenstander aan die voete opgetel, van die bord af gesleep en weer sy plek kom inneem het. ‘n Lang, dik bloedspoor het oor die bord gelê.
‘n Geel biskop het gegril. ‘n Blou perd het in die kort pion voor hom se hare gevomeer.
Gerhard was, soos die ander spelers, geheel en al oorbluf deur die gebeure, maar die spel moes gespeel word – dit was immers die mees ikoniese in die geskiedenis.
“Dee twee na dee drie,” het hy met ‘n bewerige stem gesê. Die pion skuins voor hom het vol bravado vorentoe getree en vir sy teenstander gegrom.
Die spel het vinnig geëskaleer. Die reuk van bloed in die lug het ‘n oerinstink in die spelers lewend laat word – ‘n oerinstink wat, natuurlik, steeds binne skaakreëls uitgevoer is.
‘n Kasteel is vermink deur ‘n biskop. Die jong, kort seun-koningin is deur ‘n perd bestorm en vertrap. ‘n Pion is ledemaatloos gelaat deur ‘n ander se toedoen, alles in ‘n waas van karoo-stof, sweet, bloed, gille en krete, terwyl die twee konings doodstil gestaan het op die plekke waar hulle nog al die tyd was.
Die spelers het mettertyd die reëls begin ignoreer en woedend gedraai op die konings wat so staan en niksdoen. Van hul kamerade was egter lojaal, en dit was mettertyd blou teen blou en geel teen geel – insoverre die kleure nog uitkenbaar was teen die stofbruin en die donkerbloed en koors.
Ongevuur ‘n uur het verbygegaan voordat die gegil, geklap en gebrul geleidelik uitgedoof het. Daar, op die bloedbesmeerde bord, het Gerhard en Marie steeds gestaan, steeds op hul oorspronklike plekke.
‘n Swanger stilte het geheers.
“Skaakmat!” het Marie uiteindelik geroep.
“Nee,” het Gerhard moeisaam gesê. “Nee, niemand het gewen vandag nie. Kan jy nie sien nie? Sodra konsepte soos mag, lojaliteit , ontevredenheid en woede bymekaarkom, kan ons nie staatmaak op reëls nie.”
“Jy’s reg,” het Marie geantwoord. “Indien al die spelers van die onderskeie spanne sáám kon strategeer oor wat die beste sou wees, sáám kon besluit oor hoe om aan te val en hoe om te verdedig, sáám kon… lééf, leef! O, liewe lewe, daar is so baie wat ons geleer het, so baie om te deel!”
Gerhard het na Marie gedraf, en sy na hom. Oor die lyke van hul mede-spelers het hulle getrippel na mekaar en in ‘n hartstogtelike, lang tongsoen ingeduik.
“Kom,” het Marie mettertyd gesê, “ons het so baie om met die wêreld te deel.”
Hulle het hand aan hand daar weggestap. En toe kom ‘n leeu en eet hulle albei op.
Die einde.
Watkykjy staan op 3,073,869 post views in totaal sedert 1 November, 2019.