Nak en Iceman
“Ek kan dit nie fokken glo nie!”, skel Poen. Dolf wil nog iets pittigs sê, maar bedink homself eerder. Hy en Poen het al enkeer vantevore slaags geraak toe hulle gaan skêre optel het by Topaz, en hulle altwee hul kraagkrone vir dieselfde tjerrie laat pronk het. Dinge het kookpunt bereik, en hulle is toe maar buitentoe gehelp deur die uitsmyter, waar dinge toe op die tadisionele manier uitgesorteer is.
Wat Dolf nie geweet het nie is dat Poen menige manne planke toe gestuur het met “upstairs-downstairs” tegniek in die bokskryt (37-0 KO 29), hy het die naam Poen “Prins Van Pretoria” Deelman verkry deur vir Bester “The Hitman” Verster te vepletter in die Portugese Saal (vir die SA middelgewig titel). Daar het Dolf geleer dat Poen nogal n bedrieglike opstopper aan hom het, en nie skroom om dit ten toon te stel nie…”Jy moet my nie vlak kyk nie”, het Poen hom destyds gereken, en Dolf het die les nie gou vergeet nie (hy is “dik gepoes” soos die manne sou sê). Die rede vir hierdie ongewone tentoonstelling van emosie van Poen se kant af, is wel ‘n sensitiewe sakie.
Poen en Dolf het besluit om n bietjie af te sak ODI Raceway toe vir die Sondag, om nou eindelik ‘bragging rights’ te gaan verwerf, en vir eens en vir altyd vas te stel of Poen se gevreesde Dodge Paneelwa Dolf se Katana kan laat les opsê. So gesê so gedaan… Daar aangekom was Poen (soos gewoonlik) vol bravade, en sy skaamsliert het sommer ekstra windgat gelyk! Meeste van die petrolkoppe in die kuipe het hom op sy naam gegroet, en hy het nie ‘n geheim daarvan gemaak dat hy in die luim was om ‘n paar “lesse” te gee nie, veral aan sy pel, Dolf. Poen het die eerste ‘heat’ maklik gewen teen Allie, ‘n peroksied-koppie met ‘n wit CTI (wat “getouch” is) en sy “signature” blou SRS bucket-seats. Dolf het op sy beurt vir Chopper Charlie met sy fibreglass Capri Perana (V8 met 4 Webers plus gas, met die slagspreuk “Life begins at 200” op die drukvlerk) net-net geklop, sy kraagkroon al wapperend te siene onder die rand van die valhelm. Poen het gereken dat sy Dodge sommer maklik met Dolf se Katana sal kan afreken.
Vir die prestige geleentheid is Buks Nel gevra om skeidsregter te wees (die mees ervare hand in die besigheid). Buks het oorspronklik bekendheid verwerf met sy tuin-dwerg besigheid terug in die 90’s. Die bynaam “Tuindwerg-Magnaat het ‘n huishoudelike naam geword in die weste van Pretoria. Hy is tans besig om ‘n “beertjie-vang-masjien” – besigheid op die been te kry. “Poen, jy gaan die’ con-rod’ deur die blok poes as jy weer so clutch drop soos teen Allie (die CTI kampioen met die blou bucket-seats)” sê Buks vir Poen soos hy sy finale verstellings aan die “fuel mix” maak. “Vandag kak daai Katana” is Poen se antwoord, en hy gordel homself vas in sy Ricardo bucket seat.
Die tyd het aangebreek, die wedren waarvoor die skare die heel dag gewag het, pond vir pond die vinnigste paneelwa in Suid Afrika, teen die legendariese Katana ysterperd Buks gee beide lane ‘n gesonde porsie ‘track-bite’, terwyl Poen en Dolf hul agterbande op operasionele temperatuur kry met herhaaldelike wieltolle. “Danger Zone” van Kenny Loggins (bekendheid verwerf in die lokkettreffer, Top Gun) begin bulder oor die PA sisteem en Buks beduie die twee om die wegspring lyn te nader… Die ligte gaan af, Poen is voet in die hoek, die paneelwa wieg van kant tot kant soos die 315 inch Tiger Fire Power agterwiele probeer bytplek kry op die teer (net die voorkant van die paneelwa kan nog deur die rookwolke gesien word). Dolf is vinnig uit die blokke (voorwiel in die lug en kraag kroon wat wapper), Poen haak tweede, derde, vierde (hy moet effens lig omdat oortollige wieltol hom amper laat “loskom”), dit gee Dolf ‘n twintig meter voorsprong en sy voorwiel vat die eerste keer grond soos hul die 250 meter merk nader. Showtime! Poen aktiveer die NOS Stage 2 sisteem en die Garrett Keramiek turbo fluit soos hy sy terminale snelheid (275km/h) nader, die gaping begin krimp, 10 meter, 5 meter, 2 meter en hulle kruis die eindstreep!
Die magtige Poen het pakslae gekry!
Die rit terug Proklamasieheuwel toe, in Peon se Dodge met Dolf se Katana agter op die sleepwa, was te verstane ‘n bietjie van ‘n stywe affêre, met betreklik min geselskap tussen Poen en Dolf. Poen het die tydjie gebruik om te reflekteer oor wat nou eintlik die nederlaag veroorsaak het, terwyl hy sy hand weer en weer deur sy luukse maanhare getrek het. Dolf, op sy beurt, was baie in sy noppies met homself, maar moes dit maar goed wegsteek. Hy was nou nie lus vir appels swaai nie. Hy het darem nog daardie aand ‘n afspaak gehad met Storm, die onkleedanseres wat hy in Tutti Frutti ontmoet het. Dinge het intussen mooi gevorder tussen hom en Storm, en sy het hom alreeds een keer “My Tiertjie” genoem, op die plek en tyd waar sulke sêgoedjies nogal saakmaak…
Nadat hy Dolf afgelaai het, en maar swaar blad geskud het, is Poen terug huis toe. Daar was net een man wat hom sou kon help om sy naam in ere te herstel: sy ‘connection’, Ravi, in Laudium. Ravi was, soos gewoonlik, maar te gretig om weer van sy ou pel Poen te hoor. Hy was maar al te bewus van Poen se konneksies op alle terreine van die samelewing, en het hoeka ‘n sakie gehad wat hy met Poen wou bespreek.
Poen was altoos een van die grootste afsetpunte van sy kar – kielie toerusting, en aan die stemtoon oor die foon het Ravi geweet dat hierdie besoekie besonder winsgewend vir hom gaan wees. Ravi groet vir Poen hartelik met sy kenmerkende “For you, today, special price, and all” – lyn. Poen het natuurlik sy bedenkinge oor die befaamde “special price”, wat hy altyd deur Ravi aangebied word, maar vandag is daar nie tyd vir kibbel oor pryse nie. “I want the best, Ravi!”, sê hy.
Dit is musiek vir Ravi se ore, en hy maak n paar voorstelle. Onder andere: * Mickey Thompson slick bande (kan dalk kak en hare veroorsaak op ‘n nat pad, maar Poen is bereid om die kans te waag, en die Daspoort tonnel is darem altyd droog) * Direct Port NOS inspuiting, om sy NOS stelsel mooi af te rond * Crower full race cams, tesame met Crower conrods (ten volle ingevoer, en peperduur, maar soos Ravi sê:”You’ll know where your money went, my cousin”) * Keramiek bedekking vir die pistons en branches (Ravi:”to keep the heat where you want it” of tewel “warm water innie bad” soos die manne by SAC praat) * Scoop in die enjinkap, om die Webers van lekker yskoue lug te voorsien, en om dinge mooi af te rond (Ravi:”You gotta look the biz!”) Ravi wil nog n bietjie ICE (In Car Entertainment) ingooi, maar Poen reken: “Ek soek fokken weight reduction man, ek kan nie NOG ‘subs’ bekostig nie!” Poen besluit op al die toevoegings, en hy en Ravi praat prys. Dit is heelwat laer as wat Poen verwag het, en Ravi trek hom ‘n bietjie nader… Ravi fluister n versoek in Poen se oor… Dit laat Poen met ‘n effense dilemma. Hy besluit om Ravi te laat weet, en Ravi dring daarop aan dat Poen solank die kar se kielie goedjies on appro neem, en hom binnekort te laat weet of hulle ‘n deal het of nie… Gaan Poen aan Ravi se sinistere versoek voldoen? Gaan hy sy naam in ere herstel by ODI Raceway en Dolf se Katana in die stof laat byt? En gaan hy en Dolf volgende week die groot deurbraak maak in hul nuutste speursaak? Hou die spasie dop…
Watkykjy staan op 3,085,041 post views in totaal sedert 1 November, 2019.