Hierie is so vier jaar terug deur een van ons tjommies Thys Nywerhied geskryf en het nogal vandag betrekking:
"Die alombekende Afrikaanse treffer “Skarumba” is onlangs deur die regering van Ysland verban omdat die liedjie “Skarumba” woorde en frases bevat wat vulgêre betekenisse in Yslandies het. Die frase “Ahadi hooi Skarumba!” kan letterlik in Yslandies vertaal word as “Ek wil ‘n pikkewyn naai”.
Manie (34) en Meraai (72) van der Merwe van Waterkloof het onlangs `n vakansie in Ryekjavik deurgebring en in ‘n gesprek met van die plaaslike inwoners van die stad betrokke geraak waarin hulle die kulturele en intellektuele herlewing in die Afrikaanse kultuur besing het. “Hulle was baie nuuskierig om te hoor hoe klink ons Suid Afrikaanse musiek”, het Manie ons meegedeel. “Natuurlik is my i-pod altyd tjok en blok vol Afrikaanse musiek en ek besluit toe om vir hulle ‘n voorsmakie te gee van hoe ons musiek klink.” Aangesien “Skarumba” sekerlik as die belangrikste kulturele baanbreker van die afgelope paar jaar beskou word besluit Manie en Meraai toe om dit vir die mense daar te speel. Dis met die eerste refrein waar tannie Juanita sing “Ahadi hooi Skarumba” waar die moeilikheid begin het. Die ganse kroeg was ewe skielik doodstil en soos die laaste “tiettie ooi ooi” die luidsprekers verlaat begin die hele kroeg uitbars van die lag. Natuurlik het al die Yslanders gedink dat dit baie snaaks is dat mense in sonnige Afrika sing oor geslagsomgang met pikkewyne maar Manie en Meraai kon ongelukkig glad nie die bohaai verstaan nie en Manie en Meraai het maar net gedink dat die mense in Ysland is “aan boggerol gewoond”.
Skaars 2 weke later kry Juanita se platemaatskappy `n versoek van talle platewinkels in Ysland wat navrae doen oor waar hulle die CD met die liedjie “Skarumba” op kan koop. Dit blyk asof die liedjie gou `n ondergrondse treffer onder die Ysland se kroeg subkultuur geword het. Kort daarna het die regering besluit om die liedjie te verban maar nie omdat dit seksueel eksplisiet is of gekruide taal bevat nie. “We banned the song because it is demeaning to penguins” het die Yslandse premier mnr Sigurosbjorg aan ons verduidelik.
Ons het Juanita via die Huisgenoot website gevra of sy enige kommentaar het oor die hele petalje en sy het die volgende te sê gehad: “Dis die vreemdste voorval in my hele loopbaan sedert ‘Ouma Tossie’ se boodskap* op my webwerf se gasteboek”
Dit is egter nie die eerste keer wat ‘n Afrikaanse treffer kontroversie veroorsaak in die buiteland nie. In London het ‘n groep ontstoke Arabiere onlangs ‘n Afrikaanse kroeg binne gestorm toe hulle Guliame se treffer “Da Idi” gehoor het. Volgens hulle beteken die refrein van “Da Idi” die volgende in Arabiers: “Daar is kameelkak op jou fez”.
* Ouma Tossie se boodskap op Juanita se webwerf se gasteboek lees: “jy sing so moooi my kint ouma kan nie genoeg krei nie. as jy sing dan haal ek sommer my fals tanne yt en flyt saam”
Watkykjy staan op 3,118,562 post views in totaal sedert 1 November, 2019.