Deur Saartjie
‘n Nuwe besem vee mos skoon. Vee mos sommer die fokken emalje van die teëls af. Mos. Of so het ek ten minste gereken toe JDD se splinternuwe bestuur verkies is. Maar helaas, watkykertjies, ons nat drome oor hulle voortreflikheid was voortydig.
Die eerste vergadering onder die nuwe regering se bewind het relatief glad verloop. Die dinamiese dames het gebruis van entoesiasme, en dit het gelyk asof verveling ons nie weer sou verswelg nie. Daar is ook ‘n paar tradisies verbreek – daar is nie geopen met Skriflesing en gebed nie (wat ‘n skande!!) en die gasspreker was hierdie keer ‘n man. Ek was regtig vol moed dat die winde van verandering nie net my maag was wat gegrom het van die honger nie. Maar ek het net al die vroeë waarskuwingstekens misgekyk.
Teen die tweede vergadering het ek ‘n nuwe hemel sien kom. Die gasspreker was sowaar ‘n verteenwoordiger van SAB (ja, soos in die brouery). Ons is alte oulik ingelig oor die alkoholinhoud en eienskappe van die onderskeie produkte, en ons kon ook proe aan die verskillende nektars. Kan jy dit oorvertel?! ‘n Biersuipery by ‘n JDD-vergadering! Die dames van Hoofkantoor verstik sekerlik in hulle Engelse tee en komkommertoebroodjies as hulle moet uitvind. Dit was alles net té goed om waar te wees.
Die derde vergadering was egter weer terug op die ou spoor, met die teenwoordiges wat hartlik gekerm het oor hoe vet/lelik/onfiks hulle is. Dit gee my ‘n geweldige gatkramp as vrouens so rondsit en hulle verlustig in denkbeeldige probleme. Mans kom bymekaar, braai, drink bier, en praat oor karre, seks en sport. Hulle wonder nie of hulle die regte klere aanhet en of hulle porieë verstop is nie. Jy luister nie in detail na die geboorte van elkeen se kind nie, en daar word nie gewroeg oor hulle vet pense nie.
Daar was by hierdie betrokke vergadering so ‘n weird sielkundige of ‘n ding wat daarop aanspraak maak dat jy vet is oor een of ander trauma wat jy beleef het. Hy kan jou natuurlik – teen ‘n baie billike fooi – help om gewig te verloor, op te hou rook, en enige ander probleme op te los. Hy maak glo gebruik van hipnose, en belowe resultate binne ‘n japtrap. Word niemand dan meer vet van te veel vreet nie?
Teen die laaste vergadering van die jaar was dit duidelik dat dit alles op die ou end net nog steeds een groot estrogeen-fest was. En dit sal seker altyd so bly. JDD is basies ‘n skindergroepie vir verveelde vroutjies met te veel tyd en te veel geld. Sluit aan op eie risiko.
Watkykjy staan op 3,048,168 post views in totaal sedert 1 November, 2019.